Jou kind: Bedreigings van binne en buite by skole
Leerders en onderwysers vrees vir hul lewens terwyl die regering sukkel om misdaad stop te sit.
Skole is glad nie meer die veilige hawe wat dit veronderstel is om te wees nie. Enigiets kan op die skoolgronde gebeur en by baie skole is daar nie meer sprake van dissipline of respek nie. Dis dan ook geen wonder dat die nuus en sosiale media vol is van skokkende voorvalle wat op die skoolterrein plaasvind nie. Jy hoor ook van onderwysers wat in die klas aangeval word en erge afknouery tussen leerders.
Onlangse voorvalle sluit in vier matrikulante wat deur medeleerders by hul skool in Kuilsrivier in die Kaap met messe aangeval is. Dan is ’n agtjarige deur ’n 13-jarige gr. 4-seun by Hoërskool Riviersonderend in die Overberg verkrag en ’n gr. 10-leeder is deur vier minderjariges by Charleston Hill Sekondêr in die Paarl doodgesteek.
Tydens die vorige finansiële jaar alleen is 486 sake van aanranding aan Safe Schools in die Wes-Kaap gerapporteer. Talle skole is ook vatbaar vir geweld wat van buite die skole spruit. Só was vier skole in Mei vanjaar die teiken van gewapende rowers.
Die situasie het die Wes-Kaapse Onder- wysdepartement (WKOD) genoop om in Mei ’n pilot-program te begin waar twee sekuriteitsbeamptes by 56 skole regoor die provinsie geplaas is.
veiligheidsprogram
Die program sal aanvanklik ses maande lank duur en die beamptes se hoofdoel is om te help met toegangsbeheer, om patrollies te doen en oortreders van die skoolgrond af te sit. Hulle moet in hofsake getuig as enige leerder of onderwyser in hegtenis geneem word. Dis egter nie deel van die beamptes se werk om leerders vir wapens en dwelms te soek nie.
Dit blyk die program werp reeds vrugte af by sommige skole. Volgens Joe Amsterdam, waarnemende skoolhoof van Hawston Hoërskool in Hermanus, is daar minder voorvalle waar ongemagtigde mense skoolgronde betree. Hy sê voor die beamptes begin het, het baie mense ingekom en tussen die kinders beweeg.
Hy sê die beamptes, wat van 07:00 tot 16:00 werk, patrolleer die perseel. Die beamptes is van die area en weet dus wie nie in die skool behoort nie. Volgens die hoof het leerders veral al deurgeloop onder die mense wat van buite kom en hulle beroof.
Sommige skole het reeds hul eie sekuriteit gehad voor die WKOD se program begin is. Sharon Moss*, ’n onderwyser by ’n skool in die noordelike voorstede van Kaapstad, sê by haar skool is daar twee sekuriteitsbeamptes wat tydens die nag met honde patrolleer en twee tydens die dag. Twee van hulle is deur die skool aangestel voordat die WKOD nóg twee gestuur het. Sy sê hoewel die teenwoordigheid van die beamptes help dat mense nie van buite kom nie, is dit steeds“chaos”binne die skool. Sy sê al die skool se ruite is stukkend gegooi, leerders verkoop en rook dagga by die skool, loop met messe en skêre rond en vloek die onderwysers uit.“Hulle voel hulle beskerm hulself. Jy mag dit nie afvat nie. Jy moet vrees vir jou lewe as jy ’n skêr afgevat het. Verlede jaar is hier ’n leerder doodgesteek by die skool. Hier was een keer ’n kind wat laat eksamen geskryf het en met ’n mes vir sy eie beskerming in die rondte geloop het. Ons het hom geld ge-
Hullevoelhullebeskermhulself.Jymag ditnieafvatnie.Jymoetvreesvirjoulewe asjy’nskêrafgevathet. SHARON MOSS*
gee om die taxi huis toe te vat sodat hy nie buite die skool beroof word nie. Ons voel nie veilig nie.”Sy sê kinders neem selde aan buitemuurse aktiwiteite deel omdat hulle bang is hulle word beroof en dat die polisie gereeld na die skool uitgeroep word.
Volgens haar kom die meerderheid van hierdie kinders uit baie slegte sosio-ekonomiese omstandighede, maar dit moet geen verskoning vir hul“ombeskofte”gedrag wees nie. Die skool is ook in ’n gebied met ’n hoë-misdaadsyfer.
Sy sê die kinders hou nie by hul skoolgedrag nie, kom telkemale laat en raak baie oproerig, veral ná tweede pouse nadat hulle dagga en ander dwelms gerook het. Volgens Sharon kom baie van die kinders uit arm huishoudings in informele nedersettings en dat die skool ook nie veel geld het nie. Sy meen die kinders hou van die chaos omdat daar nie veel in hul lewens aangaan nie.“Hier is een of twee wat uit hul omstandighede wil kom, maar die ander het niks om na uit te sien nie.”
leerders onveilig
Denvil Petersen* (18), ’n graad 11-leerder in die noordelike voorstede, sê hoewel daar bendelede en leerders is wat dwelms gebruik binne sy skool, voel hy veiliger binne as buite die skoolhekke. Hy sê die gebied is vol bendelede wat dit baie onveilig maak. Hy voel egter nie veiliger met die sekuriteitsbeamptes by die skool nie.
“Die een staan by die hek en die ander een is ’n vrou. Ek dink nie hulle gaan veel kan doen wanneer daar iets gebeur nie.”
Hy sug op die vraag oor wat hy dink sal help om veiligheid te verbeter.“Wat kan hulle doen? Miskien sal dit die bendes afskrik as meer polisielede patrolleer.”
Volgens Bronagh Hammond, direkteur van kommunikasie by die WKOD, is skole in bendegeteisterde gebiede meer vatbaar vir misdaad. Sy sê hoewel inbrake en vandalisme in skole in die provinsie plaasvind, is dit meer algemeen in arm gebiede.
Terwyl skole verskeie sekuriteitsmeganismes soos toegangsbeheer en heinings in plek het, is dit nie altyd genoeg om skole te beveilig nie.“Daar is byvoorbeeld, verskeie gevalle waar oortreders eenvoudig net oor die skool se heinings geklim het. In sommige gevalle word die heinings gesteel. Daar is ook baie aktiwiteite rondom skole, veral wanneer leerders die skole betree en verlaat, wat gapings in toegangsbeheer los,”sê Bronagh.
gevare kom van binne
Faktore wat veiligheid by skole beïnvloed, kom egter nie net van buite nie. Navorsing wat in 2012 deur die Sentrum vir Geregtigheid en Misdaadvoorkoming (CJCP) gedoen is, het bevind 22,2% van hoërskoolleerders in Suid-Afrika is al met geweld gedreig of was al die slagoffers van aanranding, roof en/of seksuele aanranding gedurende die vorige jaar. Voorts het 60,5% van leerders wat geweld by die skool ervaar het, aangedui dat geweld ’n probleem in hul buurt was.“Dít lig die belangrikheid uit van veilige gemeenskappe en veilige omgewings as voorvereistes vir veilige skole,”het die studie bevind.
Veiligheid gaan nie net oor fisiese geweld nie, maar ook afknouery. Die studie het bevind 13% van die leerders is geboelie. Omtrent 1 uit 4 leerders het beweer hulle ken iemand wat al wapens soos vuurwapens of messe na die skool gebring het. Leerders wat hul skole se gedragskode oortree, kan permanent geskors word en krimineel vervolg word indien hulle ’n misdaad pleeg.
Volgens Bronagh het die departement verskeie programme in plek om gedragsprobleme en geweld tussen leerders aan te spreek. Hulle bied berading en ondersteuning op versoek aan.“Verskeie kursusse soos konflikbestuur en antiboelieprogramme word ook by skole aangebied,”sê Bronagh. Die opname en verspreiding van video’s van leerders wat baklei, is ook ’n bekommernis vir die WKOD.“Die departement gaan binnekort ’n veldtog loods waarin ons leerders aanmoedig om eerder hul stemme te lig en nie hul selfone nie. Ons gaan ook leiding gee oor wat leerders moet doen in gevalle waar ander leerders geboelie of gedreig word. Baie gevalle van sulke geweld kan dan vermy word,” verduidelik Bronagh.
Sy sê sy kan nie kommentaar lewer op of die teenwoordigheid van sekuriteitsbeamptes by Charleston Hill Sekondêre Skool waar ’n leerder op skoolgronde doodgesteek is, die voorval sou verhoed het nie. Sy sê die beskuldigde is nie ’n leerder by die skool nie.“Dit is onmoontlik om te voorspel of ’n beampte die voorval sou verhoed. Dis ook nie moontlik vir beamptes om oral op die skool dieselfde tyd te patrolleer nie. In dié geval het die voorval vinnig gebeur. Nietemin wil ons graag glo dat beamptes as ’n afskrikmiddel sou dien vir dié wat ons skole wil betree om ander leed aan te doen.”
Elijah Mhlanga, ’n woordvoerder van die nasionale departement van basiese onderwys, sê hul grootste bekommernis oor veiligheid in skole, is onderwysers en leerders wat op skoolgronde gedreig word.“Die las is op elke lid van die samelewing om te help om misdadigers uit ons skole en verder uit te wis.” *Skuilnaam