Kuier

Liefdesgaw­e: Vrou wil nier aan haar siek man skenk

Sonder ’n nuwe nier gaan hy dit nie maak nie, maar sy vrou is bereid om alles vir hom te gee, selfs een van haar niere.

- DEUR Tarren-Lee Habelgaarn

Wanneer ’n mens trou, belowe jy om mekaar lief te hê tot die dood julle skei. So wanneer jul liefde tot die uiterste beproef word, kan dit letterlik die verskil tussen lewe en dood beteken.

Sedert Bradley Arendse (34) twee jaar gelede met chroniese niersiekte gediagnose­er is en sy lewe skielik bedreig is, gaan hy en Sandy deur diep waters. Sy enigste redding is ’n nieroorpla­ning.

Toe gebeur ’n wonderwerk – hulle vind uit Sandy is ’n match en kan sy lewe red deur ’n nier aan hom te skenk. Maar die paartjie moes moeilike besluite neem. Ja, sy wil hom ’n kans op ’n vol, gesonde lewe gee, maar die risiko dat hulle altwee dalk nie die operasie kan oorleef nie, het soos ’n swaard oor hul koppe gehang, want hulle het ’n sesjarige seun, Mateau, wie sy ouers nodig het. Daarby sukkel Bradley met komplikasi­es as gevolg van sy niersiekte wat hom tot dusver daarvan weerhou het om die nieroorpla­ning te kry.

Bradley en Sandy is agt jaar saam. Voor hy siek geword het, was hy baie fiks en het hy daarvan gehou om sport te beoefen en aktief te bly. Hy het ook oënskynlik geen siektes gehad nie en was vir geen chroniese toestande behandel nie.

Volgens Bradley het hy twee jaar gelede net ’n bietjie tam gevoel. Hy het ook met ’n hoofpyn gesukkel wat net nie wou weggaan nie. Ná twee weke het Sandy hom oortuig om dokter toe te gaan. Hulle het albei gedink dis net ’n verkoue of die begin van griep. Nooit het hulle gedink is ernstigs is dalk fout nie.

Ná sy ondersoek het die dokter hom aangeraai om meer toetse te laat doen, net om seker te maak niks is fout nie. Toe Bradley die volgende week die uitslae van die bloedtoets­te kry, het hulle die skoknuus ontvang. Bradley is met chroniese niersiekte gediagnose­er.

Wat is die siekte?

Chroniese niersiekte veroorsaak dat die niere nie afvalstoww­e uit die bloedstroo­m kan skei nie. As gevolg hiervan krimp die persoon se niere. Simptome ontwikkel stadig en kan moegheid, hoë bloeddruk, swak eetlus, depressie, gewigverli­es en swelling insluit. Sommige mense het glad nie simptome nie en word deur ’n laboratori­umtoets gediagnose­er. Ander mense kry een of meer van die simptome wat met medikasie behandel kan word.

Bradley se gesondheid het al vinniger agteruitge­gaan. Hy meen deel daarvan is omdat hy so bekommerd oor sy familie is.

“Ek is bang en ek weet nie wat van my gesin sal word as ek die dag nie meer hier is nie. Ek is nog jonk en ek sien uit na ’n lewe saam met my vrou en kind. Ek wil nie sterf nie,”sê hy. “Dit is alles goed wat deur ’n mens se kop gaan wanneer jy sulke nuus ontvang. Dit is nie maklik nie en fisies is ek baie moeg. Ek het ook gedink aan dialise en die koste daaraan verbonde om aanmekaar hospitaal toe te ry.”

Dokters het hom ’n paar maande later ingelig sy enigste uitweg is ’n nieroorpla­nting. Volgens die Stigting vir Orgaansken­king is niere die mees gesogte organe vir oorplantin­gs. Sowat 1 900 Suid-Afrikaners wag tans op nieroorpla­ntings.

Hoewel die beste niere vir oorplantin­g

gewoonlik van ’n broer of suster kom, kan baie mense nie van ’n familielid ’n nier ontvang nie, sê die stigting.

’n Toets word gedoen om te bepaal of iemand geskik is om ’n nier te skenk. ’n Toets word ook gedoen om te bepaal of die lyer en skenker vir mekaar gepas is om die kanse te verminder dat die nuwe orgaan verwerp word. Indien die skenker en ontvanger ’n match is, kan die oorplantin­g voortgaan.

Hoewel mense vir jare wag om ’n nier te kry en soms selfs sterf voordat dit gebeur, was Sandy vasbeslote om haarself te laat toets om haar man se lewe te red. Hulle het geweet dat hulle albei aan die O-bloedgroep behoort.

“Ons kon dit nie glo toe ek ’n geskikte skenker is nie. Ons het gehoop ek sou wees, maar daar is altyd daardie vrees dat jy nie jou geliefde sal kan help nie. Toe ons die nuus ontvang, wou ek onmiddelli­k instem. Ek het net geweet ek wou nie sonder hom lewe nie,”sê sy.

“Omdat ons ’n kind het, moes ons daaroor gesels, want daar was baie dinge om te oorweeg. Elke operasie kom met sy eie risiko’s en sou enigiets met ons gebeur, moes ons dink aan wat van ons kind gaan word. So al het ek in my hart geweet dit is ’n maklike besluit, moes ons die liefde wat ons vir ons kind het, bo ons liefde vir mekaar plaas en hom eers uitgesort het.”

Die paartjie het toe besluit om ’n rukkie te wag voor hulle voortgaan met die oorplantin­g. As hulle nie ’n ander geskikte skenker kon kry nie of as Bradley se toestand vererger, sou hulle wel die oorplantin­g met Sandy se nier doen.

Hulle het meer as ’n jaar gewag, maar toe sy gesondheid versleg en komplikasi­es intree, het hulle besluit om tog Sandy se nier te gebruik omdat die waglyste vir organe so lank is.

“Ek was bang vir my gesin. Ek wou nie my vrou se lewe in gevaar stel nie en ek wou nie hê my seun moet sonder sy ouers grootword nie. Ek het ook geweet dat sy ná die operasie nie sekere goed sou kon doen nie en dalk in die toekoms gesondheid­sprobleme kon ervaar,”sê hy.

“Dit is ’n groot opoffering en dit het ons net nader aan mekaar gebring. Wanneer jy trou, sê jy wel jy gee jou liggaam aan jou maat en hier is sy bereid om regtig vir my ’n deel van haar liggaam te gee. Dit is vir my ongeloofli­k.”

Behalwe dat Bradley siek is, is daar baie uitdagings waarmee die paartjie moet deal.

“Die finansies knyp en die budget het dit dikwels amper nie gemaak nie. Dit voel soms asof alles uitmekaarv­al,”sê hy.

Bly en dankbaar

Bradley erken daar kom gereeld negatiewe gedagtes by hom op, maar hy bly positief en druk deur.

“Ons familie staan bymekaar en bly glo in die Here. Toe ek hoor Tygerbergh­ospitaal het ’n datum vir die oorplantin­g, was ek nervous vir my vrou, want sy offer ’n gedeelte van haarself om my lewe te red. Dit het toe ook al baie sleg met my familie gegaan. Ek is permanent by die werk afgesit en moes vir die gemeenskap en familie vra vir enige soort hulp om my familie deur ons moeilike tyd te help.”

Sy vrou is die enigste een wat kan werk en hul inkomste is net nie genoeg om vir al hul onkoste en basiese dinge soos kos te sorg nie. Maar in die donker tye dink hy net aan sy gesin. Hy het geleer om dankbaar te wees vir dinge soos liefde en hul lewens.

In Maart vanjaar het hy uiteindeli­k gehoor hy kan sy nieroorpla­ntinge kry, maar weens komplikasi­es is die operasie tot Augustus uitgestel. Die paartjie hoop die operasie sal op die nuwe datum gedoen kan word.

“Toe ek siek word, moes ek my trots sluk en aanvaar dat ek van Sandy afhanklik is. Daar was baie dae wat sy my op die badkamervl­oer gevind het omdat ek flou geword het,”erken hy emosioneel.

“Sy is die een wat my sterk hou en ek weet nie wat ek sonder haar sou doen nie. Ons sien uit om weer ’n normale lewe te lei en om nie meer oor geld of hospitale te worry nie. Ek sien uit om terug werk toe te gaan en weer ’n man vir my gesin te wees.”

Sandy sê op haar beurt dit is vir haar die moeite werd om haar nier te skenk omdat sy dan kan uitsien na jare saam met haar man. Sy hoef dan nie te vrees oor wanneer hy gaan sterf nie.

“Daar is steeds ’n lang pad tot die operasie en volle recovery, maar ons het weer ’n toekoms om na uit te sien en ons drie het darem nog mekaar. So ek is dankbaar vir die Here se genade en almal se liefde wat hulle teenoor ons wys.”

 ??  ?? HOOFFOTO: Bradley Arendse, sy vrou, Sandy, en hul seun, Mateau. BO: Bradley moet elke dag 35 pille drink om sy siekte onder beheer te hou tot en met die operasie.
HOOFFOTO: Bradley Arendse, sy vrou, Sandy, en hul seun, Mateau. BO: Bradley moet elke dag 35 pille drink om sy siekte onder beheer te hou tot en met die operasie.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa