Kuier

Loopbaan: Madiba se driver deel sy reis

As die geliefde Nelson Mandela se bestuurder en lyfwag het hy een van die mees gesogte werke in die land gehad. En om te dink hy moes net sy hand opsteek . . .

- DEUR Tarren-Lee Habelgaarn

Vir 12 jaar het hy elke oggend voor sonop sy huis in Grassy Park op die Kaapse Vlakte verlaat sodat hy by die werk was voor sy voormalige werkgewer by die hek uitgestap het vir sy oggendstap­pie.

Maar Marcus Griebelaar (53) koester elkeen van daai oggende, want dit was oudpreside­nt Nelson Mandela vir wie hy as motorbestu­urder en lyfwag gewerk het.

Madiba was nie ’n laatslaper nie en jy moes vinnig wees of jy sou hom mis, vertel Marcus.

Die oudpreside­nt het glo op niemand gewag nie en as hy iets wou doen, het hy dit gedoen. Marcus sê hy kan soms steeds nie glo dat hy die eer gehad het om saam met Madiba te kan werk nie. Dit was van die beste jare van sy lewe met herinnerin­ge wat hy nooit sal vergeet nie.

Elke oggend nadat hulle teruggekee­r het van hul oggendstap­pie – gewoonlik so 5 km vanaf Madiba se huis in Rondebosch tot verby die Universite­it van Kaapstad – het Marcus seker gemaak die ou Silwer BMW met koeëlvaste ruite is vol petrol en dat daar genoeg water in die kar is. Madiba se bril moes ook op sy sitplek wees en al die dag se koerante moes daar wees wanneer hy ingeklim het.

Marcus sê Madiba het Engels en Afri- kaans gelees en wou voor enigiets anders heel eerste al die nuus lees.

Voordat hy vir die oudpreside­nt begin werk het, het Marcus as deel van die spesiale polisie-eenheid by die parlement gewerk. Sy pa was ’n polisieman en Marcus glimlag wanneer hy terugdink en vertel dat hy van kleintyd af in sy pa sy voetspore wou volg. Vir hom was daar geen ander beroep as polisieman nie.

MADIBA SE VRAAG

Hy was deel van die groep polisieman­ne wat op 11 Februarie 1990 buite die Victor Verster-gevangenis gestaan en wag het toe Madiba ná 27 jaar vrygelaat is. Hy onthou dit was vir hom snaaks om uiteindeli­k die mens te sien van wie hy jare lank gehoor en oor wie almal gepraat het.

Marcus vertel Madiba was langer as wat hy gedink het, maar hy het hom nie daardie dag ontmoet nie.

Sy eerste ontmoeting met die ikoniese leier was nadat Madiba as president ingehuldig is en hy een oggend al die polisieman­ne by die parlement kom groet het.

Madiba het gesê hy soek ’n permanente chauffeur en wou by die beamptes weet of hulle dalk iemand ken wat in die pos sou belangstel. Marcus het sy hand opgesteek en moes sommer die volgende dag vir diens aanmeld.

“Ek het baie vroeg op my eerste dag opgestaan, want ek wou nie laat wees nie en ek was nogal baie senuweeagt­ig. Dit was ’n tyd van groot veranderin­g in die land en ’n mens het nie regtig geweet wat om te verwag nie.

“Ek was egter gereed vir die uitdaging en het uitgesien daarna,”erken Marcus. Binne sy eerste 10 minute saam met Madiba het Marcus geweet alles gaan orraait wees.

Hy beskryf Madiba as ’n nederige en sjarmante man wat altyd vir almal met respek behandel en met ’n glimlag gegroet het.

“Van die eerste oomblik toe hy in die motor klim, my met die hand groet en op my naam noem, het hy my onmiddelli­k tuis laat voel. Ná 15 minute het hy ’n koerant gevat en agteroor gesit. Toe ek dit in die spieël sien, het ek geweet hy voel gemaklik,”sê Marcus trots.

Marcus sê al was hy die president, het Madiba hom nooit laat voel soos ’n werknemer nie. Hy het hom eerder soos ’n vriend behandel en wanneer iemand anders saam met hulle in die motor geklim het, het hy altyd vir Marcus voorgestel.

Hy begin lekker lag wanneer hy vertel Madiba was baie saggeaard en dat hy hom weinig kwaad gesien het, maar een ding

wat Madiba wel ontstel het, was wanneer iemand in die motor ’n gesprek gevoer het in ’n taal wat hy nie verstaan nie.

“Hy het nie daarvan gehou nie en wanneer hy nie van iets gehou het nie, het hy sy lippe effens opgeblaas en dan het ek geweet hy is nie gelukkig nie. Ek het altyd sy gesigsuitd­rukkings in die spieël dopgehou sodat ek kon weet hoe hy voel en of hy dalk iets nodig het.”

Volgens Marcus is nog ’n interessan­te ding van sy tyd met Madiba dat hulle nooit in die 12 jaar wat hy saam met hom gewerk het, vir kos gestop het nie.

Hy sê die oudpreside­nt het altyd seker gemaak hy eet by die huis of by sy kantoor. Hy was glo op ’n streng dieet en het verkies om nie vir kos te stop nie.

Waarvoor hy wel dikwels vir Marcus laat stop het, was om boeke te koop by boekwinkel­s in Claremont of soms by die Waterfront.

“Ek moes gereeld eers by die boekwinkel omgaan voordat hy kantoor toe gaan sodat hy ’n nuwe boek kon koop. Hy het baie gehou van lees en het ook baie vrae gevra. Terwyl ons in die motor gery het, het hy altyd vir my vrae gevra oor dinge rondom ons. Soms was dit ’n windpomp en ander tye was dit iets anders,”sê Marcus.

“As ek die antwoord geken het, het ek dit met hom gedeel. As ek dit nie geken het nie, het ek gaan uitvind en dit later met hom gedeel. Hy het ook sy eie stories oor die onderwerp vertel en dit was altyd interessan­t om na hom te luister.”

Een van die spesiaalst­e dae vir Marcus was die dag toe sy vrou huis toe kom nadat hul eersteling, Meagan, gebore is. Hy onthou dit was ’n Saterdag en hy moes die oggend nog vir Madiba na ’n vergaderin­g toe neem. Met Madiba se skedule was daar nie iets soos kantoorure of vakansieda­e of afnaweke nie. As die president iewers moes wees, moes hulle werk.

Vir die eerste 10 jaar van sy dogter se lewe het hy Kersfees saam met die Mandela-gesin op Qunu in die Oos-Kaap deurgebrin­g en eers voor Nuwejaar by sy eie familie aangesluit.

Maar daardie oggend toe hy opgewonde vir Madiba vertel dat sy vrou en dogter huis toe kom, het Madiba gesê hy wil ná sy vergaderin­g saam met Marcus na sy huis in Grassy Park toe gaan om sy kind te ontmoet.

Marcus sê hy was verbaas, maar dit was een van die dae wat hy nooit ooit sal vergeet nie. Dit was spesiaal om Madiba in sy huis te kan hê en al sy familie en vriende kon dit saam met hom ervaar.

Madiba het vir ’n uur gebly en saam met sy familie gesels en ’n paar boeke geteken en toe gevra om huis toe te gaan. Toe hulle motor toe stap, was die hele pad vol mense en Madiba was verbaas dat soveel mense in die straat was om hom te sien.

eer en voorreg

“Daar was meer as ’n 1 000 mense. Hy wou weet hoekom almal daar is. Ek het mooi aan hom verduideli­k die nuus het baie vinnig versprei toe mense hoor hy is in die omgewing,”vertel Marcus met ’n glimlag.

“Dit het hom glad nie gepla nie en hy het soos altyd tyd gemaak om met die mense te gaan gesels en hulle met die hand te groet.”

Marcus beskryf sy tyd saam met Madiba as ’n eer en voorreg. Hy het saam met Madiba meer as 30 lande besoek en die voorreg gehad om mense soos Michael Jackson, prinses Diana en Oprah Winfrey te ontmoet. Hy het ook die geleenthei­d gekry om Buckingham-paleis in Londen sowel as die Pienk-paleis in Monaco te besoek.

“Madiba was ’n dinamiese persoon en daar was nie een dag wat dieselfde was nie,”vertel Marcus.

“Hy het nie altyd baie gepraat nie, maar sy lyftaal het boekdele gespreek. Soms wanneer ons langs die see gery het en jy Robben-eiland kon sien, het hy die koerant voor hom laat sak en na die eiland gekyk. Hy het nooit iets gesê of daaroor gepraat nie, maar ek het dikwels gewonder waaroor hy in daardie oomblike gedink het.”

Marcus sê hy is dankbaar vir sy tyd saam met Madiba en dit is vir hom ’n eer om in Madiba se 100ste jaar sy boek, Driving

Mandela, te kon publiseer as ’n huldeblyk aan hom.

Hy glo Madiba sou sy 100ste verjaardag op Qunu wou vier en dit met die kinders wou deel.

“Madiba was mal oor kinders en het altyd tyd vir hulle gemaak. Elke Kersdag het hy vir ure by die hek gesit en die kinders almal met die hand gegroet. Hy sou so ’n groot verjaardag beslis met die kinders wou deel.”

 ??  ?? HOOFFOTO: Marcus Griebelaar wys sy boek oor sy jare as Mabida se bestuurder en lyfwag.
HOOFFOTO: Marcus Griebelaar wys sy boek oor sy jare as Mabida se bestuurder en lyfwag.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa