Kuier

Burgemeest­er:

Antie Pat gesels oor hartsdinge

-

Die rusbank in haar sitkamer waarop sy kom sit, is onder meer oorgetrek met foto’s van Madiba, wat haar as volg beskryf het: “Patricia de Lille is one of that rare breed of politician of whom it can be said that no matter what political party she would belong to, one cannot help liking and admiring her.”

Oor of haar huidige party, die DA, hierdie sentiment deel, hang ’n vraagteken so swaar gelaai soos die reënwolke buite haar huis.

Sommer uit die staanspoor val dit ’n mens op dat sy glad nie lyk soos iemand rondom wie die politieke suidooster­winde woes waai met die een hofgeding ná die ander tussen haar en die DA nie. Haar hare is netjies in plek. Haar vel gloei jeugdig.

Geen groot skoonheids­geheime nie, verklap sy:“Ek wil graag natuurlik oud word. So dit gaan maar net daaroor dat ons bly in Afrika. Die son is baie, baie skerp en ek sit maar net ’n sonskerm aan my gesig – elke dag van my lewe. En ek dink ná al die jare kan ’n mens sien die effek daarvan, want die son kan dodelik wees vir jou vel.”

Dit help ook dat sy die dinge wat buite die huis gebeur in haar aan-en-af-rol as Kaapstadse burgemeest­er buite die huis laat wanneer sy saans in haar voorstedel­ike huis tuis kom. Wanneer sy by die deur instap, skop sy haar skoene uit, trek iets gemakliks aan en dan is al wat vir haar saak maak haar vier Siberiese Husky-honde, haar man, seun en dogter.

Net voor sy gaan slaap, kyk sy na die volgende dag se dagboek en handel onafgehand­elde take af as die tyd dit toelaat, want sy hou nie van goed laat oorstaan nie.

sosiale media

Antie Pat vertel sy is glad nie so geheg aan sosiale media soos wat jy sal dink as jy sien hoe sy Twitter behoorlik aan die praat kry met haar politieke dramas nie. Wat sy wel probeer doen, is om elke boodskap van ondersteun­ing op haar foon te beantwoord, maar daar is so baie dat sy nou eers by einde Mei trek.

Saam met dié ondersteun­ing van die publiek, hou haar familie haar staande. Soos haar drie susters (hulle was altesaam sewe kinders) op hul WhatsApp-groep.“En dan natuurlik die mense saam met wie ek werk,”sê sy.“Maar jy weet as jou hart skoon is en jy weet jy het niks verkeerd gedoen nie, dan is dit nie ’n groot probleem nie.”

Na wie het sy die meeste verlang tydens die afgelope tyd van onstuimigh­ede?

“Weet jy, dis tog maar my familie,”antwoord sy.

Terwyl sy nie eintlik vriende het nie, is daar wel dié met wie sy al lank aankom en met wie sy haar hart kan uitpraat. Dis mense soos Majida Ravat in Pretoria; haar mentor, oudregter Dikgang Moseneke; aartsbisko­ppe Njongonkul­u Ndungane en

Desmond Tutu.“En ek is altyd bly as ek nie tyd kry om te bid nie is hulle daar vir my om te bid,”lag sy. Dan is daar ook die oudDA-LPW en nou sakeman Rodney Lentit en sy vrou, Natasha.

Net nadat ons die onderhoud gevoer het, het die Kaapse Hooggeregs­hof weer in haar guns beslis. Die DA moes haar lidmaatska­p herstel en haar terugplaas in haar pos as burgemeest­er.

Waarvoor kry sy die afgelope ruk omtrent nie tyd nie? Gholf is een daarvan. Een van die foto’s teen haar huis se binnemure – saam met ander soos Morgan Freeman, Trevor Noah, Mariah Carey, Michelle Obama en Madiba – is juis met die gholfster Ernie Els.

Ook vir ontspannin­gsleeswerk is daar skaars meer tyd. Tog, in haar studeerkam­er, kreun die boekrak onder ou Hansards waarin parlementê­re debatte van so ver terug as 1994 opgeteken is, boeke oor Madiba, Madeleine Albright en Barack Obama, boeke deur J.M. Coetzee, Zakes Mda en Deon Meyer.

haar gunsteling­e

Een van haar gunsteling-tydverdryw­e bly egter om vir haar gesin te kook. Haar gunsteling-gereg is beespote en -pens, lank en stadig gekook dat dit so ’n lekker taai sous kry. Dis hoe haar ma dit in Beaufort-Wes gekook het, ’n hele dag lank.

Antie Pat staan ook graag voor die stoof vir stampmieli­es-en-boontjieso­p, tamatiebre­die, koolkos en die akni-kerrie wat Majida haar leer maak het.

Soggens word sy met die radio wakker – een in die kamer, een in die badkamer, een in die kombuis – om nuus te luister en te hoor hoe die weer gaan uitdraai, maar óók om vas te stel waar daar dienslewer­ingsprotes­te aan die gang is.

Saans maak sy seker al die vensters en deure is toe, loer wat maak haar Huskys wat nie gaan slaap totdat hulle weet sy is in die bed nie –“en voordat ek gaan slaap, maak ek seker daar is niks wat my stress nie”.

Die grootste lewensles wat sy uit alles die afgelope tyd geleer het, sê antie Pat, “is om nooit in jouself te twyfel nie, nooit te twyfel dat jy hierdie geveg gaan wen nie”. Dis hoekom sy elke dag opstaan en bid:“God, ek gaan nie toelaat dat hulle my naam opmors nie.”

Dit verwys onder meer na die mense met wie sy jare saamgewerk het en skielik sien sy ’n ander kant van hulle, sê sy verder.“Maar die grootste les is maar steeds om nederig te bly. En ek skep groot moed uit die baie mense op straat wat my groet as antie Pat, antie Lilly – hulle noem my nie burgemeest­er nie – en dit is wat dan weer vir my die moed gee om die geveg waarmee ek besig is voort te sit.”

Die bokshandsk­oene waarmee sy ná die eerste geslaagde mosie van wantroue teen haar in ’n Twitter-video verskyn het, was ’n anonieme geskenk met dié boodskap daarby:“Hou aan veg,”vertel sy.

Wat baie mense nie van haar weet nie, is dat sy ’n“loner”is, iemand wat nog altyd op haar eie sterk- en swakpunte staatgemaa­k het. Dis haar oorlewings­taktiek.

“Ek sê altyd ek lewe nie my lewe om enigeen daar buite tevrede te stel nie. Ek wil net elke aand wanneer ek gaan slaap met ’n skoon gewete gaan slaap. Ek wil rustig slaap. So partykeer gee ek nie eens om wat mense van my sê nie.”

Antie Pat glo mense is geregtig op ’n mening, maar dié mening moenie gebruik word om ’n oordeel oor ander te vel nie. Wat sy geleer het, is dat dit“op die einde van die dag jy en jy alleen is wat daaruit moet kom”.

Teen druktyd was dit steeds onduidelik of sy en die DA vrede gaan maak, of sy toegelaat gaan word om rustig met haar rol as burgemeest­er voort te gaan en of sy en die party nog ’n draai in die hof gaan maak.

In die onderhoud het sy egter onomwonde gesê sy is glad nie gereed vir aftrede nie. Miskien het sy ook ’n aanduiding gegee van ’n moontlike nuwe, nasionale rol: “Ek is ’n patriot. Ek is baie lief vir hierdie land van my en ek kan my land in enige posisie dien.”

Ek wil net elke aand wanneer ek gaan slaap met’ n skoon gewete gaan slaap. Ek wil rustig slaap. So partykeer gee ek nie eens om wat mense van my sê nie. PATRICIA DE LILLE

 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: Die Kaapse burgemeest­er, Patricia de Lille, is mal oor haar Husky-honde. LINKS BO: Antie Pat en haar honde. MIDDEL: Rustig in haar voorkamer, want sy los haar bekommerni­sse buite haar deur. ONDER: Sy wys haar boekrak en foto’s.
HOOFFOTO: Die Kaapse burgemeest­er, Patricia de Lille, is mal oor haar Husky-honde. LINKS BO: Antie Pat en haar honde. MIDDEL: Rustig in haar voorkamer, want sy los haar bekommerni­sse buite haar deur. ONDER: Sy wys haar boekrak en foto’s.
 ??  ?? Antie Pat buite die hooggeregs­hof in Kaapstad nadat die hof in haar guns beslis het op 27 Junie vanjaar.
Antie Pat buite die hooggeregs­hof in Kaapstad nadat die hof in haar guns beslis het op 27 Junie vanjaar.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa