Kuier

Antie Val

Sukkel jy met jou liefdeslew­e? Hier is raad.

-

Wéér swanger? Vraag WIL NIE NOG EEN HÊ NIE

Liewe Antie, ek is baie hartseer, want ek dink ek is swanger met my vierde kind terwyl die jongste een nou eers agt maande oud is. Ek het nou al twee keer my period gemis. My liggaam is baie op datum, so ek mis nooit ’n maand nie en daarom dink ek ek is swanger. Hoe gaan ek deur dié ding kom? Ek en my man het nie dié een beplan nie. Wat moet ek doen? Ek is moeg en dink nie ek kan weer die pad loop nie. HARTSEER

Antwoord BESTE HARTSEER

Ek wonder nou of jy dan nie ’n voorbehoed­plan in plek het nie. Jy is dit mos aan jouself verskuldig as jy weet jy wil nie meer kinders hê nie. Jy sal seker eerste ’n toets moet doen om te bepaal of jy regtig swanger is. Jy kan nie net op jou liggaam se geskiedeni­s werk nie. Jy is nou baie gestres met die drie kinders en slaap min. Jy is daarom natuurlik baie moeg en al dié faktore kan ook ’n negatiewe uitwerking op jou liggaam hê. Gaan dokter toe sodat jy kan weet wat eintlik met jou liggaam aangaan. Wat ook al in die uitkoms is, is ek seker dat julle daardeur sal kom. Dit sal ook vir die beste wees as jy op voorbehoed gaan as jy nie reeds op enige is nie. Anders is die kanse goed dat julle weer in dieselfde bootjie gaan sit.

Vraag LUSVIR AMPER EKSMAN

Antie Val, ek is besig om van my man te skei omdat hy my nooit oor die jare eerste gestel het nie. En hy het al meer as een keer, waarvan ek weet, met ander vroue gemors. Hy was nou onlangs nog met ’n ou vriendin van my se 28-jarige dogter doenig.

My hart is baie seer en ek kan nie meer in die huwelik wees nie. Ons kinders is al groot en uit die huis. Ek is ongelukkig baie swak vir my man en hy weet dit en probeer steeds om met my te slaap. Ek is so lus vir hom, want hy was nog altyd my enigste liefde en ons het altyd goeie seks gehad. Is dit verkeerd van my om nou met hom te lê of maak ek nou dinge deurmekaar? LUS

Antwoord BESTE LUS

Volgens die wet is die man nog joune. Jy is die een wat besluit het jy wil hom los. Ek weet dit moes ’n baie moeilike besluit gewees het, maar steeds het jy volhard. Ek is seker dat jy regtig jouself eerste wil stel en dat jy genoeg seergekry het.

Jy is die een wat jou hart teen seerkry moet beskerm. Niemand anders gaan dit vir jou doen nie. Dit bly jou besluit om met jou man te slaap as jy lus is.

Ons het almal behoeftes, maar jy moet net seker maak jou drange beïnvloed nie jou besluit om hom te los nie.

Maar jy hoef nie met die egskeiding voort te gaan net omdat jy klaar die bal aan die rol gesit het nie. Jy is by regte om jou mind te change.

Maak net doodseker jy weet wat wil jy hê en dat jy nie later spyt is as jy hom terugvat nie. Wees sterk en neem verantwoor­delikheid vir al jou besluite.

Vraag OUMAWEET NIEVAN OU

Hi, Antie Val. Ek is ’n 18-jarige dogter. Ek gaan uit met ’n outjie, maar is bang om my ouma van hom te sê. Ek is regtig lief vir hom. Hoe maak ek? VERLIEF

Antwoord BESTE VERLIEF

Ai, my kind, dit is so ’n ou storie van die lewe en ek weet jy voel nou alleen in die ding en dat jy wens jou situasie was anders.

Jou ouma gee om vir jou. Jy is jonk en sy wil net die beste vir jou hê. Sy probeer jou beskerm van die wrede lewe en wil nie hê onnodige dinge moet op jou pad kom wat jou van jou drome sal weerhou nie. Sy is beslis nie ’n monster of verkeerd om die beste vir jou te wil hê nie.

Ek is nie ’n voorstande­r van leuens nie, so ek dink jy moet jou moed bymekaarsk­raap en jou ouma van die ou te vertel. Daar is mos nie iets wat jy hoef weg te steek nie of hoe?

Jy is mos verlief en ek is seker jou ouma weet hoe dit voel om verlief te wees. Stel hom aan jou ouma voor jou en wys haar deur jou gedrag jy is verantwoor­delik en reg vir ’n verhouding.

Ek is seker sy sal dit baie waardeer as jy dit eerlik met haar deel. Baie sterkte met die ontmoeting.

Antie Val is nie ’n mediese dokter of kliniese sielkundig­e nie. Sy en Kuier is nie verantwoor­delik vir probleme wat kan voortsprui­t uit die raad nie.

WhatsApp die woorde KUIER ANTIE VAL gevolg deur jou vraag na 0607840589, of e-pos kuier@kuier.co.za met ANTIE VAL in die onderwerpl­yn.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa