Kuier

Kortverhaa­l

Matthew het al vir twee jaar sy oog op Bronwyn, maar sy wil nie val vir hom nie. Hy kry die perfekte plan om haar hart te wen, maar is dit té gewaagd?

- Deur Gaylann swartz

“Matthew!” Weereens word ek uit my dagdroom geruk toe die dansonderw­yser my nog ’n vuil kyk gee.

Ek brom onderlangs ’n“jammer, Juffrou, sal nie weer nie”en hoop net sy het my gehoor.

Ek weet ek flous haar nie eens meer as ek om verskoning vra nie. As sy in ’n slegte bui was, het ek definitief nou al voor haar gesit en smeek om my weer in haar klas toe te laat.

Verbeel jou, ’n 33-jarige man desperaat vir ’n dansklas. Dit is nie asof ek dans omdat ek die volgende Michael Jackson of Rudolf Nureyev wil wees nie. Maar as dit beteken Bronwyn gaan haar bene so passievol om my middel draai – hoekom nie? Bronwyn. Mooie, mooie Bronwyn. ’n Goeie een, daai vrou. Sonder om te probeer het sy my hart gesteel – sommer net so! Twee sekondes nadat ek haar gesien het, het my brein op sy eie begin dans. En toe ek weer bykom, besef ek dit is nog al die pad my hart wat die agtergrond­musiek speel.

Soos elke cliché liefdesver­haal vind ek alles omtrent haar fassineren­d. Soms sien ek hoe sy na haarself in die spieëls staar en dan sien ek die afkeur in haar oë as sy selfbewus aan haar maag vat. Sy weet nie sy is perfek nie.

Dit is dieselfde kyk wat sy my gegee het toe ek haar uitvra. Ek het haar al drie keer uitgevra en drie keer het sy met beslisthei­d nee gesê.

Ek kan tog seker nie so sleg lyk nie. Ek weet ek lyk soos ’n hoender, maar ten minste lyk ek nie soos ’n hoender met pokkies nie. Of ten minste dink ek so.

“Matthew!”My kop skiet amper van my nek af soos ek wip soos ek skrik. Ons dansjuffro­u gluur my aan. “Nog ’n laaste waarskuwin­g, dan is jy uit!” As sy my nog langer só aangluur gaan die messe nog tot in my volgende lewe by my kom spook.

Ek drafstap na Bronwyn toe die klas verdaag.

“Hallo, ek het gewonder of jy dalk êrens sal gaan eet . . . Met my. As jy wil. As jy nie wil nie . . . ”

Ek word in die middel van my sin onderbreek.

“Ek het jou gesê, ’n ete word verdien,”sê sy terwyl sy haar sak optel en loop. Fantasties. Hoe verdien mens ooit ’n ete met iemand? Dit is nie asof dit ’n werk is waarvoor jy aansoek kan doen en hoop jy word aangestel nie.

Ek knik my kop en loop kop in die grond weg. Stert tussen die bene. Hoeveel keer kan ’n ou verwerp word?

Uit die bloute kry ek ’n idee. Dit is fantasties. So fantasties dat as dit kos was, sou dit heerlik wees!

Ná dansklas die volgende dag kry ek my dansmaats bymekaar. Hulle het ingestem om my te help.

Ek sien maklik vir Bronwyn raak waar sy met Cindy staan en gesels. Cindy lyk asof sy direk uit ’n Mean Girl- episode geklim het met haar nie-heeltemal-so-natuurlike hare en perfekte tande.

Dit is asof sy pearly whites in ruil vir haar irriterend­e stem gekry het. Dit is asof al die arrogansie in haar stem ’n taal op sy eie kan wees. Arrogaans. Dit is wat sy praat.

Ek kyk op my horlosie asof dit my sal wys wanneer Cindy my kosbare Bronwyn uit haar kloue gaan loslaat. Die klas is al leeg. Dis nog net ek, die ouens, Cindy en Bronwyn wat hier is.

“Jy moet regtig ophou om jou oë so openlik te rol,”sê Zach, een van my vier dansmaats.

“Het ek my oë hardop gerol?”vra ek laggend.

“Ja, ek dink ek is nou doof,”kap hy speels terug.

Ná nog vyf minute loop Bronwyn uiteindeli­k by die klas uit. Die bal is nou aan die rol.

Ek gee die balaklawa vir Zach. Hy trek dit oor sy kop. Die ouens loop ’n entjie voor my uit om ’n bietjie afstand te skep. Die hele besigheid moet darem geloofwaar­dig lyk.

Ek hoor die geoefende fluit en sien hoe Zach volstoom na Bronwyn hardloop. Hy gryp haar sak net toe ek daar kom. Ek gryp hom van die kant af agter die rug en voor die bors.

Ek maak asof ek hom hom teen die muur gaan druk. Hy ruk hom los, gooi die handsak neer en hardloop vinnig om die draai.

“Het jy seergekry?”vra ek in die mees besorgde stemtoon wat ek kan bemeester.

“Hy het niks gevat nie, as jy seker nie so vinnig hier aangekom het nie, sou . . . Hoe het jy so vinnig hier gekom?’’vra sy. Dalk verbeel ek my, maar ek kon sweer sy het geamuseerd gelyk vir ’n oomblik.

“Ek . . .”Ek is nog besig om ’n verskoning uit te dink toe Tony, een van die ouens, kom.

“Matthew! Dankie dat jy die ander dag vir my geld geleen het op so ’n kort kennisgewi­ng. Jy het my ma se dag gemaak toe sy die pragtige rok sien,”sê hy terwyl hy die geld na my uithou.

“Natuurlik, ek sou dit vir enige vrou doen. Hoekom hou jy nie maar die geld nie?”Ek hou nogtans my hand uit.

“Wel, dis R500 wat nie min is nie, maar aangesien jy so aandring, sal ek dit maar hou,”antwoord hy ewe droog. Ek dink dis my oë wat dié keer kan doodkyk. Dit was nie deel van die plan nie!

Ek sien die ander twee, Leo en Martin, toe hulle aangestap kom.

“Ek en Martin het twee kaartjies gewen om vanaand by Eat Inn te gaan eet. Vat dit asseblief, want ons het klaar planne gemaak,”sê Leo. Ek maak asof ek regtig hard dink daaroor.

“Ek wil gaan, maar ek wil nie alleen gaan nie . . . ,”antwoord ek huiwerig en kyk hoopvol na Bronwyn.“Ek kan met jou gaan. As jy wil,”sê-vra sy onseker.

Uiteindeli­k! My plan het gewerk. Ek gryp die kaartjies by Leo en glimlag van oor tot oor.

Teen sewe-uur staan ek voor haar deur. Die deur vlieg oop en voor ek nog enigiets kan sê, soen Bronwyn my. Ek kan dit nie glo nie!

Ek besef ek het nog nie ’n enkele beweging gemaak nie. Sy dink seker nou iets is fout met my. Die ding waaroor ek nou al vir twee jaar droom, gebeur . . . En my reaksie is net om geskok na haar te staar.

“Ek het gesien toe jy die balaklawa vir Zach gee,”sê sy voor sy nog ’n soen teen my wang druk. “Hoe verdien mens ’n ete?”vra sy. “Met stamina in jou ontbyt,”lag ek en neem haar in my arms.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa