Vermaak: Donovan Pietersen van Generations skitter!
Van kleins af staan hy kop en skouers bo die res as dit by toneelspel kom, maar dit het ook harde werk gekos om te kom waar hy vandag is.
Donovan Pietersen het dalk tien jaar gelede die rustigheid van die platteland vir Johannesburg se blink liggies verruil, maar in sy hart bly hy ’n Worcester-klong. Hy is ’n akteur met sy voete stewig op die aarde – al speel hy deesdae in Generations: The Legacy, Afrika se grootste sepie. Hy vertolk die rol van ’n outistiese tiener, Brandon Phillips, wie reeds diep in mense se harte gekruip het. In die regte lewe is hy egter al ’n 30-jarige man wat eintlik dramaties verskil van sy televisierol. “Dit is vir my ’n groot eer om saam met groot name in die bedryf te werk, veral mense na wie ek as kind opgekyk het en vandag mee saamwerk,”sê Donovan, wat nou bedags skouers skuur met veteraanakteurs soos Vusi Kunene en Terence Bridgett. Hy het al kleintyd van ’n lewe in die kollig gedroom en reeds in 2004 sy TV-debuut gemaak as Lee-Roy op Skeem Saam op SABC1. Suid-Afrikaners het hom meer onlangs ook op kykNET se Binnelanders leer ken as Damien, dr. Steve Abrahams (Clint Brink) se seun. Hy het boonop al verskeie hoofrolle in Ons Stories, ’n reeks TV-flieks, vertolk.
Volgens Donovan het hy oor die jare heen ’n groot liefde vir Jozi ontwikkel.“Dis die plek waar ek die meeste van my werk doen en daar is altyd iets om my mee besig te hou. Dit is ook die stad wat my drome lewendig hou. Dit spoor my aan om elke dag harder te werk.”
Sy liefde vir die stad van goud is egter niks in vergelyking met dié vir Worcester, buite Kaapstad, nie.
Ja, sy ouers, Denoven (54) en Rhoda (52), het hom vroeg reeds geleer om op sy eie twee voete te staan, maar daar is niks soos die liefde van sy hartsmense nie.
“Ek verlang soms huis toe. Ek weet ek verlang huis toe wanneer ek begin lus kry vir ’n bord van my ma se gekookte kos.”
Sy grootwoordbuurt, Roodewal, is sy trots, want dit is waar sy wortels is, vertel Donovan.“Ek mis die dae toe ek kinderspeletjies soos wegkruipertjie, skeloeloe en kennetjie kon speel. Ek het dit so geniet om buite in die straat te kan speel.”
Toneelgogga byt
Dit is in dié einste strate waar die toneelgogga gebyt het. Hoewel baie van sy televisiedrome al bewaarheid is, droom hy steeds van ’n rol naas die Hollywoodsuperster, Will Smith. “Ek speel al van tien jaar oud af toneel en het ook op daardie ouderdom Amerika en Engeland platgetoer as deel van ’n gemeenskapsdramagroep,”vertel hy. Die ervaring om as kind reeds oorsee te kon speel, het aanvanklik soos ’n droom gevoel.“Dit het eers ingesink die dag toe ek op die vliegtuig klim. Ná ’n opvoering by ’n laerskool in Amerika het leerders na my toe gehardloop vir handtekeninge. ’n Seun het toe afgesak:‘Look, that little boy has his own fan club’.
Dit voel steeds onwerklik.”
In die Pietersen-huis het almal altyd aan Donovan se lippe gehang wanneer hy ’n stuk gesny het.“My familie het dit altyd geniet wanneer ek vir hulle stories vertel het. Hulle het my altyd gevra om mense na te boots, dan doen ek dit presies soos daardie persoon dit sou doen. Om mense na te boots, is steeds een van my gunstelingdinge om te doen.”
Donovan het in 2006 aan Worcester Senior Sekondêre Skool gematrikuleer en het daarna by Northlink-kollege in die Kaap drama geswot. Hy het so uitgeblink dat hy in dieselfde jaar gekies is om verder by die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) te studeer. Vandag spog hy met ’n honneursgraad in drama.
As hy nie ’n akteur kon word nie, sou hy sekerlik in die regte of onderwys gegaan het, want hy het ook ’n baie praktiese kant aan hom.“Ek hou daarvan om goed aan mense te verduidelik. Maar toneelspel is in my bloed. Op hoërskool was drama en spraak my gunstelingvakke.”
Wanneer die verlange na die Kaap te erg raak, onthou hy altyd die mooi herinneringe van sy ouers en sy broers, Reyaaz (31) en Jo-Zane (22), en suster, Janique (28) – veral die herinneringe wat hulle oor Kerstyd versamel het.“Ons moes altyd elkeen vir Kersvader ’n brief skryf en presies sê wat ons graag sou wou hê. Op Oukersaand moes ons dan vroeg gaan slaap, net om weer twaalfuur wakker gemaak te word om te sien wat Kersvader toe vir ons gebring het. Ons het dan saam as gesin geskenke oopgemaak en in die joligheid van Kersfees gedeel.”
Hoewel hy al in sy lewe baie“donker karakters”vertolk het, is sy huidige
rol die uitdagendste.“My karakter, Brandon, hou nie van harde musiek, skerp ligte en geraas nie (vanweë sy outisme). Hy glo in reëls en feite en hou van navor- sing doen oor onderwerpe wat vir hom vreemd is. Hy eet net wit kos en drink net wit vloeistowwe. Kykers geniet hom baie, want hy is eerlik en sê net wat hy wil.”
Sy toneelafrigter was die bekende Dorothy Ann Gould en Donovan geniet elke oomblik op stel. Hy moes egter self baie navorsing oor outisme doen om die karakter behoorlik te kon uitbeeld.“Ek’t twee TV-reekse, Atypical en The Good Doctor, en ’n fliek, Shine, gekyk om meer te leer oor die mannerisms wat met outisme gepaard gaan. Op stel by Generations het ek net my aantrekkamer verlaat wanneer ek geroep is. Ek moes my van los gesprekke met mede-akteurs weerhou (om behoorlik te kon fokus).”
leer baie uit werk
Die rol het hom ook die waarde van geduld aangeleer. Hy erken:“Ek is soms baie ongeduldig. Ek haat dit om vir mense te wag en dit is hoekom mense self nooit op my wag nie. Ek is altyd betyds.”
Hoewel hy voluit lewe, is dit vir hom belangrik om nie deur ’n stad soos Johannesburg ingesluk te word nie.
Hy het op die harde manier geleer dat die vermaakbedryf ongenaakbaar kan wees.“Jy’t ’n sterk ruggraat nodig (om te kan oorleef). Dit vereis konstante harde werk, opofferings, selfvertroue en ’n sterk selfbeeld. Jou talent alleen gaan jou nie deurdra nie. Jy moet ook seker maak jy verstaan die besigheidsdeel en weet hoe om jouself te bemark.”
Maar wie is Donovan wanneer hy nie op die kassie is nie? Hy lees, sing, dans en gooi graag oor naweke ietsie oor die kole, maar verkies eerder om tuis met sy vriende uit te hang as om die heeltyd in die kollig te wees.
Trouens, daar is ook liefde in sy lewe, maar privaatheid is vir hom en sy meisie belangrik.“Ek sê altyd my liefdeslewe is nie ’n geheim nie, maar dit is privaat en ek verkies om dit so te hou.”
Op ’n persoonlike vlak moes hy ook in 2008, kort ná sy aankoms in Gauteng, die trauma van ’n amperse ontvoering oorleef. Enigiets kon skeefloop as hy nie dié dag in Pretoria op sy voete gedink het nie.
“Vreemdelinge het my ’n geleentheid tot by TUT aangebied. Onnosele ek het self in die motor geklim . . . Gelukkig het die kar nie teen ’n vinnige spoed gery toe ek uitgespring het nie. Ek dank die Here dat ek nog vandag lewe.”
Gelukkig is Donovan van nature ’n positiewe ou.“Ek probeer ten alle tye positief bly en om my medemens positief te beïnvloed. Daar is niks wat ek aan myself sou wou verander nie. Ek is tevrede en gelukkig met wie ek is. Niemand is perfek nie, maar elkeen van ons kan daarna strewe. Die geheim is eenvoudig: Doen eers wat jy móét doen en daarna kan jy doen wat jy wíl doen.”