Kuier

Kortverhaa­l

Sy is opgewonde oor haar ‘kind’ en ‘kleinkind’ wat kom kuier. Maar eers moet sy die rokkie vir Blompot se blommetjie maak. Nie by die huis nie - maar in die tronk.

- DEUR HEINDRICH WYNGAARD

Die ge-zzzzzz van die naaldmasji­en hang in die lug, amper soos in die klerefabri­eke van Soutrivier. Jare terug, seker dertig jare gelede, het sy daar gewerk, ‘n jong meisie van so twintig. In netjiese rye het sy en die ander vroue, jonk en ouer, daar gesit, elkeen by haar eie masjien.

Gewoonlik het die radio gespeel om die eentonighe­id te verbreek. Die vroue is nie toegelaat om geselskap met mekaar te hou nie. Elkeen maar besig met wat sy moes doen, kop onderstebo, een voet wat die masjien se pedaal trap, af en op, af en op – tot teetyd, of lunchtyd, of tjailatyd.

In teetyd en lunchtyd kon hulle buite toe gaan, ‘ n sigaret gaan rook en eet en net sit en gesels of ‘ n uiltjie knip in die son om die hoekie. Maar as die weer buite nie lekker was nie – en die Kaap se winter speel mos nie met ‘n mens nie – dan het hulle maar binne gebly.

Tjailatyd kon hulle nie wag om by die uitgang deurgesoek te word (net om seker te maak niemand het afval-lap of knopies of ‘n zip gegaps nie) en dan pad te vat om ‘n trein op Soutrivier­stasie te vang of in Main Road uit te kom waar die Golden Arrow–busse vir niemand wag nie.

Die derdeklasw­aens van die treine was vir die bruin mense; in die busse moes hulle uitkyk vir ‘n oop sitplek in die agterste rye of op die tweede vlak as dit ‘n dubbeldekk­erbus was. Laatkomers moes staan, heelpad tot by die huis, tensy daar iewers langs die roete ‘ n sitplek beskikbaar raak, maar hulle durf nie – in die trein of op die bus – op ‘ n “Slegs vir Blankes”-sitplek gaan sit het nie.

Dit kon beteken jy word uit- of afgesmyt, en jy kon beboet word. Maar die ergste was dat jy, as daar nie meer treine of busse beskikbaar was nie, gedwing word om duim te gooi huis toe – of te stap. So die beste was maar om jou plek te ken, ter wille van jou man en kinders by die huis of jou ma’le as jy nog in die huis bly of sodat jy ‘n redelike tyd by die huis kon kom, kosmaak, opskep, klaarmaak vir môre en darem genoeg slaap kon inkry om in die oggend weer die pad Soutrivier toe aan te pak.

Tussen die ge-zzzzz van die naaimasjie­n word die vrou, Ma Louna,

se gedagtes nou onderbreek deur ‘ n jonger gevangene wat nader staan. Tóg te biesag, dié klimeid, dink sy. In die agtergrond kan die geklingel van ‘ n tronkdeur se sleutels gehoor word en ook die radio oor die luidspreke­rstelsel wat op Vallei FM ingestel is, die plaaslike radiostasi­e van die distrik waar Ma Louna aangehou word.

“Nou waamie is Ma ‘ran so biesag?” vra die jonger gevangene.

Ma Louna antwoord beleefd dat sy ‘n rokkie maak vir haar kleinkind. “Hulle kô mos anne wiek en Sondag hientoe vir my visit.”

“O ja, ons herrit in die magazine gelees, die storie oor Zeena en haar baby, innie Kuier.”

“Nieee, it was’ie ini Kuier nie,” keer die vrou asof sy aanstoot neem. “Dit was innie YOU. Ons praat Engels byrie hys moen ha.”

“Excusez-moi,” koggel die jonger aangehoude­ne haar, “ma’ Ma praat han Afrikaans hie’!”

Ma Louna reageer nie. Sy gaan voort met haar naaldwerk. In haar gedagtes wonder sy: Hoekom kry die klimmeid nie ook vir haar iets om haar mee besig te hou nie? Staan en bekmaak die heeltyd en op ander se senuwees werk. Dis seker hoeka van ledig by die huis wees wat sy nou hier in die tronk sit – en dít vir klere van ander mense se wasgoeddra­ad afsteel om tjommies met tik en wyn te entertain.

Oor die radio kondig die aanbieder aan dis versoekety­d vir familie en vriende in aanhouding. Een sms lui: “Ek wil vanmôre vir ‘ n ieder en ‘ n elk bemoedig wat in ons tronke is. Julle moet sterk bly. Onthou, God het julle daar vir ’ n rede geplaas.”

Die jong aangehoude­ne begin weer karring: “Het ma gehoor ha’?” vra sy. “Ons is ammil hie’ vir ‘ n rede.” Ma Louna steur haar nie daaraan nie. “O ja, ek wil nog vi’ Ma gevra rit hoeko wys hulle na nie Zeena se gesig in daai article nie” – nou begin sy in Engels aan te sit – “in the YOU not the KUIER?”

Ma Louna wys dit nie, maar sy dink tog dis snaaks hoe die jonger vrou die Engels daar ingooi. Dan antwoord sy met die hoop dat sy van die klimmeid ontslae kan raak: “Dis oorie court order.”

“Watse court order na nou nog? Ma’s han hie’.”

“Wat hulle ha mos gevat’it net toe die storie uitkom is ‘ n anne vrou se kind toe’t daai Professor in Pretoria mos vi’re court order ge-apply lat’ie koerante nie ha gesig kan wys of ha naam kan skryf’ie.”

“Nou het ek’it, want daai’s hoeko hulle oekie Ma se naam gebruik in daai article nie. Hulle sê is skuilname vir Ma se man oek.”

“Ja, hulle noem ha Zeena, want daai’sie naam wat ha’ mense vir ha’ gegie het, but sy hou van die naam wat ek en my man Martin ha gegierit. Hy like dit oek, want is afgelei van hom naam.”

Huiwerig vat die jong gevangene nou haar kans om vir Ma Louna iets te vra wat sy nog die heeltyd wou vra, sedert Ma Louna hier aangekom het, maar waarvoor sy nog nie die moed gehad het nie. Eers maak sy haar keel skoon, dan stadig, asof sy iemand bekruip of asof sy skielik hakkel, vra sy nou: “Is ... Ma ...” Ma Louna kyk op. “... Ssss ... sorry?”

Onmiddelli­k op haar perdjie – kwaai, in Engels, gee Ma Louna die jong aangehoude­ne omtrent ‘ n hou met die tong: “Sorry ... fôôôôô ... WHAT?!”

Maar sy het geweet wat die jonger aangehoude­ne bedoel. Sy het bedoel of Ma Louna spyt is dat sy Zeena ontvoer het, soos die hof bevind het, uit die kind se hospitaalw­iegie, drie dae nadat sy gebore is, terwyl die kind se ma geslaap het.

Só het dit glo gebeur: Sylvia het Ma Louna ‘ n tyd vroeër by die hospitaal ontmoet en aangebied om te help met vrugbaarhe­idsbehande­ling. Dit was ná Ma Louna se laaste miskraam. In September van daai jaar het sy nie gemenstrue­er nie. In Oktober het sy ‘n swangerska­ptoets by die apteek gekoop. Die uitslag was goeie nuus – eers het sy haar suster vertel en toe vir Martin, wat nog onder die indruk was dat sy voorbehoed­middels gebruik ná die vorige miskrame.

“Ons het kleertjies en nice goetertjie­s vir die baba se kamer gaan koop,” het Ma Louna glimlaggen­d vertel.

Maar op ‘ n dag in Desember het sy siek geraak en nie by die klerefabri­ek in Soutrivier opgedaag nie. By die huis in Lavender Hill het sy erge pyn in haar onderlyf gevoel en begin vloei. Toe bel sy die dokter en sê sy dink sy het haar baba verloor. Die dokter het vir haar ‘ n afspraak by Tygerberg-hospitaal gereël sodat sy ‘ n ginekoloog daar kon sien; hy het gesê sy moet ‘ n bloedmonst­er saamneem.

Dis terwyl sy vir die uitslae van haar bloedtoets by Tygerberg-hospitaal op die dokter gewag het dat ‘ n onbekende vrou, ene Sylvia, haar genader het. Ma Louna moes haar R800 deposit gee vir pille wat haar sou help om weer swanger te raak en Ma Louna het geglo Sylvia se pille sal werk, maar die pille het toe nie gewerk nie.

Min of meer ‘ n maand later het Sylvia gebel. Dit was nie om te hoor of Ma Louna al swanger was nie; dit was oor haar ander geld. Hulle het afgespreek om in die stad te ontmoet omdat dit nader aan Ma Louna se werk was. Toe vra Sylvia of Ma Louna in aanneming belangstel.

Hier in die tronk, waar Ma Louna nou al ses maande lank aangehou word, is dit nou toekaptyd. Dit beteken terug selle toe. Die bewaarder roep in die saal af: “Raait, maak kla, julle!” Ma Louna lig haar voet van die naaimasjie­n se pedaal en skakel dit af - en soos wat sy haar halfklaar-babarokkie, materiaal en knopies wegpak, let sy op die jonger aangehoude­ne is nog steeds in die omtes.

“Sorry for whát?,” karring sy weer aan Ma Louna. “Vi’ dié bont biesagheid wat kamstag ‘ n rokkie vir Ma se kleinkind is. Wil Ma ran hê die kind moet soos ‘ n blerrie blompot lyk?!” Die laaste lag is Ma Louna s’n: die jonger gevangene weet maar net nie “Blompot” is haar noemnaam vir Zeena nie.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa