Movember: Manssegesondheidindiekollig
Sy was maar net ’n kind toe sy met rumatiek gediagnoseer is. En pleks van speel en baljaar, is sy vir byna 20 jaar in pyn gedompel.
Die dae wat sy haarself in haar kamer toegesluit en selfmoordbriefies geskryf het, is verby. Maar dit was ’ n lang pad tot hier, want Traviece Williams (28) van Rosedale in Uitenhage se wêreld het ineengestort toe sy op nege met artritis gediagnoseer is. Haar lewe het drasties verander en sy wou soms net opgee en doodgaan. Geloof, hoop en vasberadenheid het haar deurgedra en mettertyd het Traviece met haar siekte vrede gemaak.
Artritis is ’n langtermynsteuring wat jou gewrigte aantas en misvorm. Daar is meer as honderd soorte artritis en Traviece ly aan rumatoïede artritis, wat veral haar hande en voete aantas. Dit beteken dat haar gewrigte buitengewoon ontsteek is en simptome sluit swelling, onbeskryflike pyn, styf- en rooiheid asook minder vryheid om te beweeg, in.
BEGIN VAN DIE PYN
Alles het twee dae voor haar ma, Brenda Hoffman (48), se troue op 9 Desember 1999 begin. Sy het soos enige kind in die pad gespeel. Toe sy die aand op die sitkamerbank gaan sit, kon sy nie weer opstaan nie. Dit het van haar laerug tot by haar voete gepyn en sy kon nie die lig aansit nie. Daardie aand het Brenda by ’n pikdonker huis ingestap. “Mammie, ek het gaan sit en nou kan ek nie opstaan nie,” het Traviece in trane gesê. Sy is na ’n dokter gehaas wat gesê het dis groeipyne. Die antibiotika, inspuiting en pynpille het die volgende dag draaglik gemaak. Op Brenda se troudag, toe Traviece haar hare
moes kam, was sy weer in pyn gedompel. Sy het ’n hoë koors gekry en haar ma het haar gedokter met pynpille. Traviece is ná die troue saam met familielede WesKaap toe, terwyl haar ma en stiefpa op honeymoon gegaan het. Kort daarna kon Traviece se antie haar nie uit die kar kry nie en sy moes haar ronddra en bad. Traviece het ook ’n veluitslag ontwikkel. ’n Kaapse dokter het haar toe met kinderrumatiek gediagnoseer. “Ek het nie mooi geweet wat dit beteken nie en ek het gedink dit sal weggaan,” onthou Traviece.
Die egpaar het hul honeymoon gekanselleer. Van 13 tot 25 Desember 1999 het Traviece se gesondheid blitsig agteruitgegaan en sy het sowat 15 kg verloor. “Sy was net vel en been. Sy het bleek gelyk,” vertel Brenda. Traviece se stryd teen pyn het toe pas begin.
“My vingers was eerste,” vertel sy. Haar voete en tone het daarna van vorm verander. “My bene het nie spiere ontwikkel nie en ek het op 15 ophou groei. Die dokter sê my beenstruktuur is soos ’n negejarige kind s’n. Die veranderinge aan my lyf het my baie hartseer gemaak en die ergste was om op te staan in die oggend. Alles was ’n effort.” Al wat haar krag gegee het om op te staan, was die belangrikheid van haar skoolloopbaan.
In 2000 was Traviece vir drie maande aan ’n hospitaalbed vasgekluister – die eerste van ontelbare besoeke. Bloedtoetse het bevestig sy het kinderrumatiek. Die dokter het pille, Prednisone, voorgestel en die voor- en nadele verduidelik. Prednisone is ’n kortikosteroïed wat verhoed dat die liggaam stowwe vrystel wat inflammasie veroorsaak. ’n Mens kan egter gou gewig optel en dit onderdruk jou immuunstelsel. Dit kan osteoporose en ’n brose beenstruktuur veroorsaak.
ALLES IS MOEILIK
Traviece was soms net drie maande ’ n jaar in die skool. “Ek moes slippers skool toe aantrek en mense moes my sak dra. Ek het gesukkel om die trappe te klim,” vertel Traviece, wat toe besef het sy is anders as ander kinders. Haar hoërskoolonderwysers was nie juis tegemoetkomend nie en het sarkastiese aanmerkings gemaak, vertel sy. Traviece se skool is in dieselfde straat as waar sy bly, maar sy het ’ n halfuur skool toe gestap. Haar swaar gewig het alles moeiliker gemaak.
“Ek was altyd die joke onder my vriendinne en almal het gedink ek sit aan as ek pyn het. Ek het baie eensaam gevoel. My selfesteem was baie laag en die kinders het my gereeld gespot oor hoe my vingers lyk,” onthou Traviece. Sy het gereelde afsprake by ’ n sielkundige gehad. In graad 10 het sy besluit om skool te los – haar grootste opoffering nóg.
Op 16 het dit gelyk of dinge verbeter. Toe sy 18 word, het haar gesondheid egter weer agteruitgegaan. “Ek het myself in my kamer toegesluit. Ek wou net alleen wees,” erken Traviece. Sy het twee keer beplan om selfmoord te pleeg deur slaappille te drink. Haar ma het haar selfmoordbriewe betyds gevind. Sy het wel een keer daarin geslaag om ’ n oordosis pille te drink en het in die hospitaal by die dood omgedraai.
In Februarie 2013 het Traviece op haar heup geval in die stort. Haar bene was reeds broos weens die Prednisone – sy het daagliks tot 20 pille gedrink. Sy het aangeneem haar heup pyn as gevolg van artritis. Dokters het die breuk in haar heup eers in September 2013 opgemerk en dit het toe reeds skeef teruggegroei. Teen 25 November 2013 is daar penne in haar heup gesit. Teen daardie tyd kon Traviece nie vrylik beweeg nie en sy moes soms, volgens haar ma, haarself in ’n emmer langs haar bed verlig.
In Maart 2014 is Traviece se skewe linkervoet geopereer en in die regte posisie gesit, maar teen Junie 2015 het haar linkerbeen sigbaar skeef begin groei. Dokters het haar been gebreek om met behulp van die X-Fix-raam dit reguit te laat groei. Dit het nie vir haar linkervoet, wat verbreed het, gehelp nie en sy kan nie gewone skoene dra nie.
’n Rumatoloog het vyf jaar gelede vir Traviece ander medikasie voorgeskryf. Sy het Prednisone gelos toe sy 24 was, ná 15 jaar se oormatige gebruik. Vandag lyk en voel sy soos ’ n nuwe mens. Al kry sy haar afdae wanneer sy skaars iets vir haarself kan doen, het sy ook beter dae. Haar grootste vrees is dat sy in ’ n rolstoel gaan beland. Sy wens sy kon dans, hardloop en teken. Die dokter het haar gewaarsku dat sy haar medikasie moet staak indien sy eendag wil swanger raak. Haar fisiese uitdagings sal dit vir haar moeilik maak om ’ n werk te kry.
’n Moontlike operasie om twee tone aan haar linkervoet te verwyder, wink vir haar. Sy sal ook ’ n heupvervanging moet kry. Traviece het haar oor die jare nie gesteur aan dokters se wanhopige voorspellings oor haar gesondheid nie. Haar huidige rumatoloog sê Traviece het aan haarself bewys deur weer dinge self te doen en is positief oor haar toekoms.
Traviece het onlangs haar roeping gevind toe sy klas gegee het vir outistiese kinders. Sy voltooi tans haar matriek en wil sielkunde gaan studeer omdat sy veral jong mense in soortgelyke situasies wil help.
Aan ander mense met dieselfde siekte, sê sy: “Wanneer jy ’ n moeilike situasie in die gesig staar en dit lyk of daar geen hoop of ’ n toekoms vir jou is nie, moet jy leer om die wapens van testimony en confession van die Here te gebruik. Dis baie pynlik, maar moenie dat jou toestand jou terughou nie. Reach for your dreams. Dit help ook om met ander mense daaroor te praat.”