Watdiehar tvanv olis
Kersfees is nie meer wat dit was nie en dis hartseer, maar dis óns wat weer self die mooiheid en egtheid moet gaan soek.
Kersfees het plêstiek geword. Ons koop plastiekversierings en swipe ons plastiekkaarte. Kleintyd het ons die opgeskote soetdoringboompie wat ons op die wal van die Gamkarivier gekry het, versier met dennebolle, wol en styfgeklitste waspoeier wat kamma sneeu was. Ma het jaartshoender op die Krismistafel gesit – groot en bruin gebraai soos riviermodder. Hul groot en stewige boudjies was van rondskrop in ons jaarts of van Karoobossies proe op die vlakkie oorkant ons huis – en nie van die soutwater wat deesdae in batteryhoenders gespuit word nie.
Ons het spesiale Kersfeesseëls by die poskantoor gekoop en ma gehelp om dit op die Krismiskaart-koeverte te plak totdat ons tonge taai was. Elke familielid het een gekry. En al het ma net een of twee teruggekry, was dit ’ n jaarlikse instelling. Vandag stuur ons kaartjies via selfoon en rekenaar. Ek doen dit ook, maar ek verlang na die skitterstrooisel wat aan my vingers vasgesit het . . .
Dis naby die einde van November. Die buurt begin woel. Die neighbours verf en hark en triem. Ant Suster maak boerseep – groot blokke wat sy van skaapvet kook. Cousin Kate se waatlemoenkonfyt staan glansend gereed op haar spensrak en ant Violet se Krismiskoeke het alreeds hul tweede brandewynbesprinkeling weg.
Mammie was alreeds by die munisipale store waar die inwoners van Newtown gratis Morelloverf vir hul huise kon afhaal. Mammie paint die huis, maar as dit voor Krismis reën, gaan dit afreën en die gruis rondom die huis rooi vlek.
Oor klere en goed sal Mammie by Daddy skimp: “Die klôgoed is kaalgat, man! Djou Kapenaar-fêm sê al compli- ments of the season, maar djy breek ’ie ’n tak nie!” Mammie is reg. Alles met lêstiek is pap. Ons kouse het aartappels, ons roksome het gekrimp en ons skoene vra sop. Dis einde van November. Daddy oorhandig sy tjek, wat Vye, die posbode, kom aflewer het met uitgestrekte arms soos die wyse manne met hul geskenke. Maar anders as hulle, is hy dikbek. Óns smiles rek soos nuwe lêstiek. Behalwe nuwe skoene (al is dit op die boekie gekoop) gaan ons elkeen ’n ice sucker kry by die Star Café.
Ons draf tientoon agter Mammie aan oor die vlakkie en spring oor die duwweltjies. Die sand is warm. Ons trap hoog en laag soos geitjies op ’n warm dak.
Oom Ponna, die verkoopsman van Cuthberts, lyk smart met sy blink bles en Military Brown-skoene. Hy weet presies watter bokse om af te haal. Op sy knieë help hy om die skoene aan ons voete te kry. Hy trek eers ’n stuk nylon stocking oor die skurfheid en dan laat gly hy een voet in die skoen. Ek verbeel my dis Aspoestertjie se prins met die glasskoen. Die oom se gebrom verfomfaai alles: “Hou djou voet reguit, meisietjint!”
Ek kry nie die egte rooi leerskoen wat in die venster is nie, maar ’ n paar swart patent leather-skoene. Boetie kry ’ n paar Jack & Jill-skoene en Ousus se skoene het tiekie hakkies. Ons almal kry ’n paar sponsklappies wat ons net daar in die winkel aantrek. Oom Ponna skryf alles in sy maroen boekie op en oorhandig Ma se docket. Wanneer ons die vlakkie slat, is die dun, sponsklappies al deurtrek van die duwweltjies. Ek bid dat die huis moet skuif, want ek wil hê al my tjommies moet sien ons het nuwe skoene gekry. Helaas, net Clark, die terggees van die buurt, sien ons: “Die winkel het weer afgebrand!” skree hy. “Nou’s djulle wee’ gaaierig, nè?”
Wanneer ons vanjaar weer begin Lukas lees, ons begin soek na ’ n bekostigbare skaapboud en diep nadink oor ’ n trippie na die see, sal ek nie bid vir verlaagde petrol- en vleispryse nie, sal ek nie bid vir nuwe skoeisel of bobby socks met stywe rek nie, sal ek nie soos kleintyd bid dat Mammie se Morelloverf soos plêstiek moet klou nie. Maar ek sal bid dat ons alles sal sidestep wat plastiek geword het en terugkeer na opregte felisitasies en drukkies – onopgesmuk en everlasting soos genuine leather.
Ek bid dat die huis moet skuif, want ek wil hê al my tjommies moet sien ons het nuwe skoene gekry.