Polisie se plan
40% van vroue wat mishandel word, dit aanmeld of selfs hulp soek.
Vir ons hier by Kuier wat so gereeld stories doen oor die afgryslike geweld teen vroue, is die jongste statistieke ontstellend, maar nie ’n verrassing nie. Dis meer soos déjà vu. Nóg ’n familie is in stukke nadat hul geliefdes van hulle af weggeruk is. En in baie gevalle was drank betrokke . . .
Volgens Given Sigauqwe van Sonke Gender Justice bewys studies dat minder gevalle van geweld teen vroue en kinders aangemeld word in gebiede waar alkohol minder gebruik word.
“Voorkomingsmeganismes teen alkoholmisbruik is dus van kardinale belang, veral in Suid-Afrika wat een van die hoogste alkoholverbruikvlakke ter wêreld het.” Hy voel dit is tyd vir die regering om te begin optree teen die oorsaak-effek verband tussen alkohol en geslagsgeweld deur meer doeltreffende regulasie van alkohollisensies en die verkoop van alkohol.
“Maar enige noemenswaardige intervensie teen geslagsgeweld moet ’n klomp faktore insluit. Alkohol is dalk een van die bydraende faktore, maar dit is beslis nie die enigste een nie.”Veral vuurwapenbeheer moet heroorweeg word omdat statistieke wys wettige vuurwapens is die grootste risikofaktor wanneer dit kom by moord op intieme maats.
Hy sê ook geslagsgeweld was lank voor die koms van die corona-virus ’n pandemie en nou sukkel vroue en ander kwesbares om asem te haal tussen die twee pandemies.“Hoewel die regering geprys moet word vir hul besluitneming wanneer dit kom by Covid-19, is Sonke teleurgesteld dat hul reaksie en hantering van mishandeling en geslagsgeweld nie so streng is nie.”Given voeg by:“Selfs pres. Ramaphosa het al erken Suid-Afrika is een van die gevaarlikste plekke op aarde om ’n vrou te wees.”
Lirandzu Themba, die minister van polisie se woordvoerder, erken sedert die lockdown van vlak vier na vlak drie verlaag is, het die polisie ’n toename in GBV waargeneem.“Dié toename het gekom nadat die verbod op die verkoop van alkohol verslap is. Maar om dit in konteks te plaas, alkohol alleen is nie die enigste sondebok wanneer dit kom by hierdie misdade nie. Dit is ’n kombinasie van gedrags- en gemeenskap-issues wat vroue, kinders en die mees kwesbare groepe aan die ontvangkant van GBV plaas.”
Verder gee sy toe dat dit vir die SuidAfrikaanse polisie moeilik is om geslagsgeweld te polisieer omdat dit baie keer agter geslote deure plaasvind, deur mense na aan die slagoffers, soos pa’s, broers, ooms en kêrels (en die vroulike ekwivalente).
“As SAPD word ons voortdurend gelei deur die ministerie se sespuntplan wat poog om te verseker dat ’n slagoffer/ survivor-gesentreerde, gefokusde diens by polisiestasies kry. Dis baie keer die eerste kontakpunt vir hierdie mense wat deurgeloop het onder geslagsgeweld.”
Só lyk die polisieministerie se sespuntplan vir geslagsgeweld:
Alle slagoffers moet met respek en waardigheid hanteer word en ondervra word deur ’n opgeleide polisielid op ’n sensitiewe wyse.
Slagoffers moet gehelp word in ’n“Victim Friendly Room”(VFR) of ’n alternatiewe vertrek waar die verklaring in privaatheid geneem sal word, of in ’n ander plek waar die slagoffer toegang het tot ondersteuningsdienste.
Slagoffers sal verwys of geneem word vir ’n mediese ondersoek om mediese bewyse en ’n mediese verslag te kry en die slagoffer te versorg.
Die ondersoek moet geloods word deur die Family, Violence, Child Protection and Sexual Offences Investigation Unit (FCS), of ’n ondersoekbeampte met die relevante opleiding.
Families en slagoffers van seksuele misdade en moord moet verwys word na slagoffer-ondersteuningsdienste wat in die area beskikbaar is vir regshulp, mediese, sosiale en sielkundige ondersteuning.
Slagoffers moet pro-aktief terugvoering ontvang oor die vordering van hul sake op ’n voortdurende basis.
Volgens Lirandzu neem die SAPD die president se versoeke om daadwerklik op te tree teen geslagsgeweld baie ernstig op.“Dit word gedemonstreer by die veranderinge wat ons reeds binne SAPD gemaak het en steeds maak, insluitend die opleiding van meer vroulike beamptes om spesifiek GBV-sake te hanteer. Ons is ook hard aan die werk om die‘backlog’van sake uit te wis.”
Tog kan die polisiediens nie alleen die geveg teen geslagsgeweld aanpak nie.
“Dit is ’n gemeenskap-issue wat van alle kante getakel word – gemeenskappe, organisasies, godsdiensgroepe . . . Almal moet saamspan om hierdie monster te veg. Daar móét ondersteuningstelsels wees vir beide mans en vroue in die gemeenskap. Families speel ’n belangrike rol om nie slagoffers af te raai om hul oortreders aan te gee, of druk op hulle plaas om hul sake terug te trek nie,”sê Lirandzu passievol.