Toekomsplanne
diploma,”verduidelik hy.
Hy het sy finale jaar met ’n A-gemiddeld geslaag, maar nie voordat daar ’n effense kinkel in die kabel gekom het wat sy toekomsplanne betref nie.
Dimitri is aanvaar om sy ses maande praktiese opleiding by Naspers se hoofkantoor te gaan doen – iets waaroor hy baie opgewonde was omdat hy so graag in Kaapstad wou gaan werk. Maar voordat dit kon gebeur, het die personeeldirekteur van Two-a-Day ’n praatjie in sy klas kom gee. Two-a-Day, vroeër bekend as Elgin Fruit Growers, is een van die grootste appel- en peerverpakkers in Afrika.
Dié man het Dimitri herken en wou by sy lektor weet of hy nie eerder daar kan kom werk nie.
“Dit was ’n skok vir my,”erken Dimitri. “Naspers het my klaar aanvaar en ek was op pad Kaap toe. Maar nou moes ek teruggaan na Grabouw, die laaste plek waarheen ek wou teruggaan, en gaan werk in ’n fabriek, die laaste plek waar ek wou wees.”
Toe die direkteur hom inlig dat daar dalk gou ’n werkgeleentheid by dié maatskappy vir hom kan opduik, het Dimitri egter besluit om met ’n langtermynvisie sy aanbod te aanvaar.
Vandag weet hy dit was die beste besluit van sy lewe.
Ná sy internskap het hy nog ’n jaar aan CPUT studeer om sy BTech-graad te verwerf. Dié keer het die Cape Town Royal Yacht Club hom geborg. Hy was nog besig met sy studie toe Two-a-Day hom inlig dat daar ’n opleidingspos op hom wag.
Vir Dimitri, wat sy BTech-graad cum laude verwerf het, was dit ’n baie goeie gevoel om te weet waarnatoe hy op pad is.
“Van my vriende wat saam met my studeer het, het nog nie werk gehad nie, maar ek het gemoedsrus gehad,”onthou hy.
Sy ouers was uiteraard baie trots op hom, die eerste een in sy familie wat ’n tersiêre kwalifikasie verwerf het.
In Januarie 2009 het Dimitri by Two-aDay ingeval. En van daardie heel eerste maand af het hy ’n deel van sy salaris aan sy ouers afgestaan.“Dis ons kultuur. My ma en pa kon nie verder gaan studeer nie, maar het my altyd gemotiveer om my beste te lewer. Hulle ondersteuning het my baie gehelp en ek ploeg steeds terug na hulle toe,”sê hy.
Teen 2013 is hy tot personeelbestuurder
– en Two-a-Day se jongste senior bestuurder ooit – bevorder. Teen 2015 was hy personeeldirekteur van hierdie appel-enpeer-maatskappy wat uit meer as 50 plase bestaan.
Tans is hy direkteur van minstens agt ondernemings binne hierdie groep en dien hy ook in verskeie trustees, op sommige as voorsitter.
Dis vir hom ’n baie stimulerende werk wat hom blootstelling aan die hele waardeketting gee. En wat net so lekker is, is dat sowat 80% van die bestuurspan ongeveer dieselfde tyd as hy studente was.
In 2017 het hy op Two-a-Day se onkoste weer begin studeer en ’n nagraadse diploma in bestuursadministrasie aan die Universiteit Stellenbosch se Besigheidskool verwerf, gevolg deur ’n MBA.
Het hy nog toekomsdrome?
“Ek dink nie ek gaan vir ewig maatskappydirekteur bly nie. As jy bestuur, bou jy aan iemand anders se drome. Ek wil graag eendag my eie besigheid besit.”
Dimitri wou ook graag vanjaar sy doktorsgraad in bestuurswetenskap gedoen het, maar, soos hy dit stel:“Covid het my bietjie rondgegooi.”
Hy sien dit egter steeds in sy toekoms, en sal ook graag deeltyds as dosent klas wil gee.
Is daar ’n suksesresep wat hy kan oordra? “Jou huidige omstandighede bepaal beslis nie jou toekoms nie. My omstandighede het my juis gemotiveer om uit armoede te kom. Stel vir jouself uitdagende, maar realistiese doelwitte sodat dit jou nie demotiveer as jy dit nie bereik nie. Werk kleiner mylpale in wat jou die nodige energie gee om aan te hou en groter doelwitte te bereik,”is die raad van die man wat ook nog voorsitter van die plaaslike rugbyklub en ondervoorsitter van Kindersorg SA Grabouw is.
Dimitri is in 2014 getroud met Shivonn, ook ’n HR-spesialis wat saam met hom studeer het. Hulle het ’n driejarige seuntjie, Dane, en Shivonn verwag tans weer, maar hulle weet nog nie of dit ’n seuntjie of ’n dogtertjie is nie, sê hy opgewonde.
Hy kan nie uitgepraat raak oor die belangrike rol wat sy in sy lewe speel nie.
“Haar ondersteuning is definitief een van die grootste bydraende faktore tot my sukses.
“Ek lewe vir my familie,”voeg hy by,“en eintlik maar om seker te maak dat die generasies wat gaan volg ’n baie beter lewe het met vele geleenthede.”
Sy werk is nie al droom wat waar geword het vir hierdie destydse inwoner van Pineview nie. Hy en sy gesin woon vandag in die soort huis in Grabouw waarvan hy as kind gedroom het, en in een van daardie buurte waarheen hy destyds so graag wou ontsnap het.