Skool maak ’n plan
wat ook al hulle het. Ons kan nie maak asof dit ‘business as usual’ is nie.”
Jaco Deacon, adjunk- uitvoerende hoof van Fedsas (die nasionale verteenwoordigende organisasie vir skool beheerliggame), is egter dankbaar dat skole kon heropen en ook dat grade vroeër teruggebring is as die regering se teikendatums.
“Mediese en wetenskaplike data wys die risiko vir Covid is baie laag vir skoolgaande leerders. Dis egter kernbelangrik dat ons onderrig hervat, voedingsprogramme kan werk en graad 12-leerders hul finale eksamen kan skryf.”
Tog is hulle bitter bekommerd oor die vroeë kinderontwikkeling sektor (crèches).
“Dis absoluut onverklaarbaar dat die departement van maatskaplike ontwikkeling hierdie kleuterskole doodwurg. Die kleuters is tans tuis en in baie gevalle sonder goeie versorging (of voeding) omdat ouers moet werk.”
Oor die res van die 2020 akademiese jaar, voel Fedsas baie positief. “Daar is genoeg tyd, maar onderwysers moet nou toegelaat word om hul werk te doen. Onderwysers weet wat doeltreffend gaan wees en hoe om die skooljaar suksesvol klaar te maak.”
Intussen het Ruben Titus, ’n skoolhoof van Worcester, in ’n ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa op Facebook gepleit dat skole weer sluit, omdat hulle daagliks sien hoe meer en meer mense en skole deur die virus geraak word. Volgens hom vrees“gesinne van personeellede vir hul lewe, want ná ’n skooldag moet hul pa’s, ma’s, mans en vroue terugkeer huis toe in onsekerheid of hulle gesond is.
“Asseblief, meneer die president. Sluit die skole totdat ons seker is dat die (corona-virus)kurwe laer is en ons werklik oortuig is dat dit relatief veilig is om weer oop te maak,”pleit hy in sy brief.
Een Kaapse skool het egter innoverend geraak om almal veilig te hou. Martin Leukes, skoolhoof van Dr. G.J. Joubert van die Strand buite Kaapstad, vertel sy skool se wetenskap en tegnologie-onderwyser, Angus Hartley, het met die idee vorendag gekom om plastiekskerms om leerders se banke te sit sodat hulle ten volle afgeskort kan wees van mekaar. Leerders dra ook hul maskers en die plastiekskerms bied daardie ekstra beskerming. Die onderwysers dra ook gesigskerms wanneer hulle klas gee.
“Ons probleem was dat daar nie genoeg ruimte was om 20 banke uitmekaar te skuif (in die klaskamers) nie. Die skerms bied daardie ekstra beskerming. Ek het vir hulle (leerders) gesê: ‘Julle almal is nou nuuslesers elkeen op hul eie kassie,’”vertel Martin.
Hy sê voorts hierdie skerms verhoed dat leerders hoesdruppels na mekaar versprei.
Wat hierdie innoverende inisiatief soveel meer spesiaal maak, is dat die skoolpersoneel self inspring om die plastiekskerms vir die leerders se skoolbanke te maak.
Baie ouers is egter steeds bekommerd. Eloise Marchel (37) van Bellville-Suid in die Kaap sou verkies om haar dogter tuis te hou, maar omdat haar kind matriek is, kan sy nie akademiese tyd misloop nie.“Maar die skool moes al twee keer skoongemaak word en daar is gereeld onderwysers en leerders wat ’n week of meer nie skool toe kom nie omdat hulle in isolasie moet wees,”sê sy.“Dit maak jou bang en ek bid elke oggend dat my dogter weer veilig en gesond huis toe moet kom. Jy is nie net bang vir haar nie, maar vir ons en my ouers wat saam in die huis woon.”
Portia Hartel (50), ’n graad 11-onderwyser van Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte, is ook bekommerd vir wanneer alle leerders terugkom skool toe, veral omdat hulle nie almal heeltyd kan dophou nie.
“Kinders het vir die eerste paar dae hul social distancing behou, maar nou moet ons hulle aanhoudend pouses herinner om nie brood of drinkgoed met mekaar te deel nie en ook dat hulle nie langs mekaar mag staan nie,”sê sy. Kinders wil ook nie heeltyd hul maskers aanhou nie.
Bronagh Hammond van die Wes-Kaapse onderwysdepartement erken hulle het sedert 1 Junie reeds ’n paar skole gehad wat tydelik moes sluit nadat ’n positiewe Covid-19 geval aangemeld is.
Volgens Bronagh beteken ’n bevestigde geval van Covid-19 nie noodwendig dat die skool moet sluit of deur ’n dekontaminasie-proses hoef te gaan nie – dit hang alles af van die omstandighede.
“Die areas waar die personeellid of leerder was, moet skoongemaak word. Byvoorbeeld, as ’n personeellid net in een of twee vertrekke was, kan die skool oopbly en net die betrokke vertrekke ontsmet word. Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes oorleef die virus nie langer as 72 uur op oppervlaktes nie.”
Sy waarsku ook ouers en organisasies wat met protes-aksies probeer om skole toe te maak, se optrede is onwettig en beperk kinders se grondwetlike reg op onderwys.