Kuier

Oud, maar nie koud:

-

Raad om hups te bly

Party mense word so grasieus oud jy sukkel om hul ouderdom te raai terwyl ander eendag sywaarts, met woeste hare en ’n padkaart vir ’n gesig die hemel gaan ingly.

In die 1960’s was die gemiddelde lewensverw­agting wêreldwyd rondom 52. Vandag is dit 80. Maar watter tipe 80 gaan jy wees? En het jy geweet hoe jy vandag leef, kan ’n enorme impak hê op jou lewensgeha­lte op jou oudag? Jy kan self besluit of jy ’n spoggerige vintage kar gaan wees, of ’n ou skedonk wat hoes en proes in die pad af.

Die Wêreldgeso­ndheidsorg­anisasie (WGO) raam tussen 2015 en 2050 sal die segment van die wêreldbevo­lking van mense oor 60 amper verdubbel van 12% tot 22%. Dit is amper 2 biljoen mense (vandag is dit ongeveer 900 miljoen)! En teen 2050 sal 80% van dié oumense in lae en middel-inkomste lande woon. Mense leef eenvoudig deesdae net langer.

“Ek sweer toe ek opstaan op my 40ste verjaardag, kon ek dit in my bene voel. Alles was styf en seer. Ek moes met skrefiesoë, geskok in die spieël kyk na al die plooie wat oornag op my gesig verskyn het. My periods is swaarder en meer ongereeld en ek voel net deesdae my ouderdom,”vertel Megan Raaths (41) van Pretoria. As ma van drie tieners het Megan nie baie tyd vir haarself nie en oefening of gesond eet is gewoonlik die laaste ding op haar lys van bekommerni­sse.“My gesondheid is net nie ’n prioriteit nie, maar ek besef ek sal iets moet begin doen as ek wil beter voel,” erken sy.

Jacky Blaauw (53) van Houtbaai in die Kaap sê weer sy voel soos ’n nuwe sikspens.“Ek het nog nooit so goed gevoel of gelyk nie! Dit kan wees omdat ek nie meer so mooi kan sien nie, maar ek geniet die lewe voluit!”lag sy. Jacky het in haar dertigs begin oefen en gesonder begin eet omdat sy gereeld afgemat gevoel het en glo dít was die sleutel tot haar sukses.

As daar een ding is wat sy wens sy het geweet, was dit om sonskerm aan te smeer in haar jongdae, meen Elizabeth Willemse (68) van Port Elizabeth.“My gesig wys ek het geléwe, maar ek wens my memories was eerder net in my kop!”Sy het al talle kere probeer ophou rook, maar sonder veel sukses. As ouma en oumagrootj­ie van 16 woelwaters wens Elizabeth

sy kan ’n bietjie gewig afskud sodat sy nie so moeg raak as sy met hulle speel nie. “Ag, as ek maar net destyds na my dokter geluister het, het ek dalk nie nou so gesukkel met my suiker nie, maar dit is nou maar net so.”

Om ouer te word, is onvermydel­ik (en die beter alternatie­f!) en terwyl jy nie jou verjaardae kan stop nie, kan jy gelukkig die agteruitga­ng van jou liggaam met slim keuses stadiger maak. Van die kos wat jy eet, hoe jy oefen en selfs jou vriendskap­pe en lewensdoel­witte het ’n impak op hoe jy oud word. Die goeie nuus is, dis nooit te laat om te begin nie!

Dr. Muller Smit van Clear Aesthetics in Durbanvill­e in die Kaap verduideli­k daar is twee redes hoekom party mense beter oud word as ander. Die eerste een is genetika en daaraan kan jy nie veel doen nie. Maar die tweede stel redes sluit gewoontes in wat jy beslis kan verander, soos sonskade, rook, alkohol en ’n hoë-suikerdiee­t. Al hierdie goed sal maak dat jou liggaam, en veral jou vel, vinniger verouder. Moenie dink as jy in jou 30’s nie die skade kan sien nie, dit nog nie daar is nie! Smit se raad is voorsorg is beter as nasorg, so begin sommer nou al om jouself reg te ruk!

Volgens dr. Naas Ferreira van Johannesbu­rg kan klein veranderin­gs in jou eetgewoont­es jou risiko vir baie siektes wat geassosiee­r word met oudword, verminder.“En om net ’n klein bietjie gewig te verloor (5%), kan jou kanse op diabetes en hartsiekte­s verminder. Dit beteken as jy 70 kg weeg en jy verloor 3,5 kg doen jy jouself ’n enorme gesondheid­guns!”sê hy.

“’n Lyf wat beweeg, word baie beter oud as een wat op die bank lê.”

Volgens ’n verklaring van die American Heart Associatio­n kan fiksheid ’n beter aanwysing wees van iemand se risiko vir hartsiekte­s en vroeë dood as standaardr­isiko-faktore soos rook, vetsug en hoë bloeddruk. Jy sal dalk nogal geskok wees as jy jou fiksheidso­uderdom bereken (besoek www.worldfitne­sslevel.org).

“Die ideaal is 30 tot 45 minute oefening, drie keer per week. Maar om te begin, staan net ten minste op en gaan stap om die blok of dans lekker in jou kombuis,”is Ferreira se raad.

Om grasieus oud te word, gaan eintlik meer oor gesond en gelukkig wees, as om plooie te vermy. Maak seker jy lewe gesond, omring jou met mense vir wie jy lief is en doen goed wat vreugde bring, maak nie saak watter ouderdom jy is nie. Jy het net een lewe – maak seker dit tel!

1. Sorg vir jou vel. Smeer sonskerm aan en dra beskermend­e klere. Maak seker jou dokter gaan jaarliks jou vel na vir velkanker. Drink baie water.

2. Oefen. Gereelde oefening kan jou risiko vir hartsiekte­s en kanker verlaag, verminder spanning, verbeter slaap en jou bui kan help op jou oudag om jou langer mobiel te hou en jou beendigthe­id te verbeter.

3. Eet gesond.

4. Kyk na jouself – om gelukkig te wees, help meer as wat jy dink! Spandeer tyd met jou geliefdes, verminder spanning, aanvaar jou ouderdom en doen die dinge wat jy geniet. Maak jouself ’n prioriteit.

5. Hou op rook en drink minder.

6. Maak seker jy kry genoeg slaap. Dit is belangrik vir jou siel, jou liggaam en speel ’n belangrike rol in jou vel se gesondheid. Mik vir minstens sewe tot agt ure per nag.

7. Kry ’n stokperdji­e. Navorsing wys mense met stokperdji­es is gelukkiger, minder depressief en lewe langer.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa