Kuier

Karin Kortjé:

Vir jare het dié voormalige wenner van Idols in skaamte en vrees gelewe oor haar hare, maar nou het sy die eerste groot sprong gevat na selfaanvaa­rding!

- DEUR ERNUSTA MARALACK

Sanger praat oor haar harestryd

Wanneer Karin Kortjé (40), mic in die hand haar plek op ’n verhoog inneem, lyk sy gewoonlik van kop tot tone na die ster wat sy is. Oor die jare het ons ook gewoond geraak daaraan dat sy daarvan hou om met verskillen­de haarstyle te speel en daarom was dit dus ’n skok toe sy onlangs ’n kaalkopfot­o van haarself op sosiale media deel, want dit was Karin soos ons haar nog nooit vantevore gesien het nie . . .

Maar hierdie is nie die vrou met die goue stem wat ’n nuwe haarstyl wil probeer nie – dit is haar manier om die ware stand van sake kaalvuis (of dan kaalkop) in die oë te kyk. Dit was haar manier om nie meer weg te kruip vir wat sy weet onder die extensions en pruike skuil nie. Dit was tyd om die vrou wat vir haar in die spieël terugstaar, volkome te aanvaar.

En Karin voel dis tyd om ander vroue wat dalk ook soos sy sukkel met hul hare, aan te moedig om ook hierdie reis na selfliefde en self-aanvaardin­g aan te pak.

Want dit gaan nie vanself gebeur nie. Jy moet die werk insit, want daar is steeds mense wat jou graag wil laat glo die tekstuur van jou hare bepaal hoe aantreklik jy is. Karin sê sy het geleer dít hoef egter nie jou narrative oor jouself te wees nie. Karin sukkel vandat sy kan onthou met haar hare en vermoed sy het ’n haar- of kopvelkond­isie wat die erge toestand van haar hare veroorsaak het.

“Ek voel ek word gejudge (oor haar kaalgeskee­rde kop),”begin Karin gesels op ’n bitter koue wintersdag in die Kaap. Net ’n paar dae tevore was sy doodbekomm­erd oor haar kêrel, Angelo Makka (36), nadat van sy kollegas positief getoets het vir Covid-19. Met al die uitdagings wat sy tans moet trotseer waaronder die haarkondis­ie asook die verlies aan inkomste weens lockdown, weet sy nie hoe sy dit sou hanteer as die virus ook sy kloue in haar en haar geliefdes se liggame ingeslaan het nie.

Maar gelukkig het Angelo negatief getoets. Dis een ding minder om oor te worry en nóg iets om voor dankbaar te wees teenoor die Here.

affekteer haar erg

Terug by die haregespre­k, vertel Karin sy is nog nie amptelik met ’n kondisie gediagnose­er nie omdat sy eenvoudig nie nou die geld het om ’n dokter of spesialis te gaan sien nie. As kunstenaar is sy hard geslaan deur die pandemie omdat sy haar brood en botter verdien met optredes voor skares mense, wat nie in lockdown toegelaat word nie. Maar sy weet daar is medies iets fout omdat sy elke dag hoofpyne kry en haar hare bros is en gou uitval. Op haar kopvel is daar ook bles patches waar die hare glad nie groei nie. Sy vermoed dis dalk oorerflik omdat haar biologiese ma, Dora Watt (58), wat sy verlede jaar vir die eerste keer ontmoet het, dieselfde probleem het.

En dis omdat sy sien hoe skaam haar ma oor haar eie hare is en ook vir lank onder pruike geskuil het, dat Karin gevoel het sy moet die eerste tree na bevryding en self-aanvaardin­g neem. As die ma van vier seuns wil sy ook weet wat haar makeer sodat sy na haar gesondheid kan omsien om seker te maak sy is eendag daar om haar seuns, Cameron (18), Tobyn (11), Sergio (10) en Joshua (6), te sien grootword en om vir hulle te sorg.

Karin, wat as kind aangeneem is, vertel as jong meisie het sy agtergekom haar haartekstu­ur is nie dieselfde as haar aanneemma, -suster of -niggies s’n nie. (Haar aanneemma is al oorlede.)

“Hulle het mooi lang hare gehad, maar myne was ’n sagte, bonserige draad wat wegkrimp. Op laerskool was daar ’n klong wat my‘Sealy Postureped­ic’genoem het wanneer hy aan my hare gevat het. Dit het gelyk of jy my hare nêrens heen kon vat nie!” vertel Karin met ’n lag in haar stem.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa