Kuier

Wat die hart van vol is

DEUR MERLYN VAN DER RHEEDE

-

Ons leef wel vandag in ’n tegnologie­se era, maar wat het van etiket en goeie maniere geword? Met die moderne tyd waarin ons leef, het ongemanier­dheid ook ingesluip. En dit laat my bloed behoorlik kook. Ongeskikth­eid en die ontbreek van basiese maniere maak my warm onder die kraag!

’n Mens sou verwag dat daar gouer en makliker met tegnologie gekommunik­eer kan word en jy só vinniger antwoorde sal kan kry. Helaas, is dit egter ’ n pynlike proses mét die moderne tegnologie. Dis iets wat my dwars in die krop steek en ek wonder dikwels of dit niemand anders pla nie. Het hierdie maniere nou ’ n algemene tendens geword en is dit aanvaarbaa­r?

Waar is die goeie ou dae waar jy die telefoon opgetel het om lang gesprekke met familie en vriende te hê om oor hul wel en weë uit te vind of om iemand met sy of haar verjaardag geluk te wens?

Deesdae is telefoonge­sprekke, net om sommer te klets, ’ n seldsame verskynsel, want alles moet kits en haastig gedoen word. Teksboodsk­appe, maar meer Whats App-boodskappe, is aan die orde van die dag, woorde word tot die minimum beperk, want om emojis te gebruik, is net sóveel vinniger en makliker!

Moet my nie verkeerd verstaan nie, tegnologie is hier om te bly en dit maak ons lewe inderdaad makliker. Ek kan my nie voorstel hoe ek al my afsprake sou nakom sonder programme soos “Waze” of “Google Maps” wat ons male sonder tal na ons bestemming­s lei nie. Maar oorheers hierdie tegnologie nie ons lewens nie?

Die vierde industriël­e revolusie is op almal se lippe en ons predik aan ons jeug dat hulle gerat moet wees vir werksgelee­nthede wat hierdie nuwe era gaan bied. Ons leef in ’n veranderde wêreld waar jy jou vaardighed­e voortduren­d moet opgradeer om by te bly met al die hedendaags­e tegnologie.

Ons lees koerante op slimfone om op die hoogte van nuusgebeur­e te bly, ons ontvang e-posse op ons Apple-horlosies, ons bevriend en gesels met onbekendes op sosiale media en volg vriende met mening om tred te hou met al hul doen en late.

Maar dan tog, met al die hipermoder­ne tegnologie, word belangrike e-posse, teks- en WhatsApp-boodskappe in die werksplek of sosiaal, net geïgnoreer. Dit het soort van algemene praktyk geword en die verskoning is gewoonlik dat daar nie genoeg tyd in die dag is om alles gedaan te kry nie. Myns insiens is dit uiters onprofessi­oneel!

Ek dink iets van ons menswees het in hierdie hele tegnologie­se proses verlore gegaan. Wat het van etiket geword? Gee mense nie meer om hoe hulle optree nie? Is dit nie net goeie maniere om op boodskappe, van watter aard ook al, te reageer nie? Wat het van ons samelewing geword as dit heel aanvaarbaa­r is? Ek het ’n broertjie dood aan hierdie soort gedrag. Dit word ’n alledaagse taak om opvolgwerk te doen, van watter aard ook al. Daar moet soms tot twee of drie keer kontak gemaak word oor ’n netelige aangeleent­heid.

Almal praat van die wetteloosh­eid en verval van ons pragtige land. Maar kyk ’n bietjie om jou rond wie almal padreëls en wette verontagsa­am. As jy jou selfoon gebruik terwyl jy bestuur, is dit in orde? Elke nuwe e-pos of teksboodsk­ap moet nóú gelees word, dit kan nie wag nie, óf jy bestuur óf nie, maar tog is dit nie ’n antwoord werd nie. Ons kan nie vinger wys na ander terwyl onsself skuldig is nie. Myns insiens is ons land nie slegs in wetteloosh­eid gedompel nie, maar ook in ’n emosionele verval van sy mense.

Kom ons keer terug na die basiese – om respek te betoon.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa