Is dit rassisme?
Kom ons kyk na ander voorbeelde in die media. Selfs Floyd se dood is, ironies genoeg, ’n sprekende voorbeeld van hoe dit steeds prakties toegepas word. Die nuusmedia praat ná sy dood met honderde gemeenskapsleiers, akademici en politici wat (met reg) die sweer oor wit bevoorregting wil oopsteek. Maar hulle vergeet van die swart mense wat dit elke dag aan hulle lywe voel, en in ’n oomblik word die ware slagoffers vergete. Dit bevorder dan die rassistiese mite dat swart mense te emosioneel is om vir hulself te praat. Dit ontneem hulle van ’n eie stem en speel dus paradoksaal in die sistemiese rassisme waaroor die media juis probeer berig.
En dan is daar elke nou en dan berigte oor ’n massaskietery in Amerika, genadiglik ’n probleem wat ons nie ook hier in Suid-Afrika ervaar nie. Navorsing van verskeie top-akademici bewys wanneer die skieters wit is, is daar ’n goeie kans dat die media ’n meer simpatieke beeld van hulle sal skep as mense met geestesgesondheidafwykings. As jy egter swart is, sê die Ohio-universiteit-sosioloog prof. Scott Duxbury, word jy makliker uitgebeeld as ’n “gewelddadige bedreiging vir die publiek”. Dié bevinding is gegrond op ’n ontleding van die mediadekking van 219 tragedies.
Massamoord is massamoord, maar as jy wit is, word jy as ’n ontstelde siel uitgebeeld, terwyl swart moordenaars eerder wrede misdadigers is. Duxbury sê: “Algemene frases in sulke dekking (oor wit skieters) sluit in:‘Hy het baie deurgemaak’, ‘Hy is as kind mishandel’en selfs‘Hy het nie regtig vriende gehad nie’. Die kans dat wit skieters as mense met geesgesondheidsprobleme uitgebeeld sal word, is 19 keer groter as dié van swart skieters.”
In Suid-Afrika is daar juis onlangs navorsing gepubliseer oor hoe wit bevoorregting in die letterkunde uitspeel. Lorraine van der Westhuizen en Jacomien van Niekerk skryf in die Tydskrif vir Literêre Kritiek, Vergelykende Taalkunde en Literatuurwetenskap dat selfs in Afrikaanse jeugromans is daar bewyse vir dié tendens. Die outeurs sê: Danksy hul velkleur geniet wit karakters sekere geleenthede, besittings, ensovoorts ten spyte van hul armoede. Die karakters se witheid verleen ook aan hulle die illusie dat hulle, in sommige van die romans, tot die swart karakters se redding moet kom.”
Die jeugromans wat die navorsers as deel van hul meestersgraadstudies bestudeer het, sluit in Iewers vlieg daar fairy dust van Marisa Haasbroek, Vaselinetjie van Anoeschka von Meck en Droomwa van Barrie Hough. Oor Droomwa is bevind“dat die gesin deur hul witheid verseker is van ’n sekere lewenstandaard wat nie vir swart karakters beskikbaar is nie”.
Kenners is dit egter eens dat daar ’n groot verskil tussen rassisme en wit bevoorregting is. Dit is dus nie rassisties om jou wit bevoorregting te erken nie en dit is ook nog nie rassisties om ’n rassevooroordeel te hê nie. ’n Goeie voorbeeld van ’n rassevooroordeel is as jy ’n vreemdeling in jou buurt oplet en dan onbewustelik of bewustelik glo net oor hulle swart is, is hulle meer geneig om misdaad te pleeg of gevaarlik te wees. Dit werk anderkant toe ook: as jy as ’n bruin of swart mens ’n plaasboer sien en onbewustelik of bewustelik glo dat net omdat hulle wit is, behandel hy sy werkers sleg.
“’n Wit mens kan (byvoorbeeld) angstig raak as hy sien dat ’n swart mens kwaad is. Dit spruit uit ’n vooroordeel. Hierdie vooroordele kan rassisme word deur ’n aantal aksies wat wissel in grade van erns,”sê Cory Collins, ’n navorser by Teaching Tolerance. “En hoewel nie alle wit mense regstreeks (geskiedkundig) aan die mishandeling (van swart mense) deelgeneem het nie, het hul aangeleerde vooroordele en hul veiligheid teen sulke behandeling daartoe gelei dat baie van hulle ’n kragtige keuse uitoefen: stilte. En só het die trauma, verplasing, wrede behandeling en diskriminasie van swart mense onvermydelik wit bevoorregting tot gevolg gehad.”
Verlede jaar, ná sy gesin se omswerwinge tydens die Desember-vakansie, sê dr. Oscar van Heerden, ’n politieke kommentator en skrywer, dat hy van twee dinge oortuig is: wit mense deel nou die narratief dat hulle deesdae aan die ontvangkant van rassisme in Suid-Afrika is en dat hulle ook meer arrogant word. Hy sê:“Strukturele en institusionele rassisme leef in alle aspekte van ons samelewing. Totdat wit Suid-Afrikaners dié werklikheid aanvaar, in plaas daarvan om voortdurend vir ons te sê:‘Waarom moet julle altyd apartheid opbring?’, kan ons nie aanbeweeg van die apartheidsargument nie.”
Hy glo wit bevoorregting steek op