Marlene MAAK OOP
Van kleintyd af is dié ongelooflike vrou deur die ergste van die lewe gesleep, maar het elke keer met alles binne haar opgestaan. En nou het sy haar eie TV-program! Deur Marteli Brewis
Marlene le Roux (52) is ’n formidabele vrou. Nie net het sy polio oorleef toe sy maar ’n skrale drie maande oud was nie, maar sy het van al die teleurstellings en struikelblokke in haar lewe geleenthede gemaak om sukses te behaal. Haar passie was nog altyd om kuns en kultuur te gebruik om minderbevoorregte groepe te bemagtig en ’n verskil in ander se lewe te maak. En sy doen dit met oorgawe.
Sy is ’n gedrewe vrou wat haar meestersgraad en ’n eredoktersgraad in opvoeding verwerf het. Verder is Marlene regoor die wêreld vereer met toekennings vir haar bydrae tot menseregte en inklusiwiteit. Sy het selfs die Commonwealth Point of Light-toekenning ontvang vir uitsonderlike diens in die bevordering van gestremdes se regte – geteken deur Haar Majesteit, die Britse koningin in 2018.
haar geselsprogram
Nie net is sy die uitvoerende bestuurder van Artscape-teatersentrum nie, maar sy het deesdae haar eie geselsprogram, Die lewe skuld jou niks op Via (DStv-kanaal 147).
Op dié hartroerende program neem Marlene kykers op ’n reis.“My eie storie van verlies oor vyf dekades het my uitkyk op die lewe onherroeplik verander, en ek is sterker as gevolg daarvan. Die lewe moet gelééf word,”vertel sy. Op haar program gesels Marlene met mense soos onder andere Karin Kortjé, Bianca Flanders en
Lynelle Kenned oor hul lewensreise.
“Die stories van die mense wat ek gekies het, laat jou wonder hoe iemand deur so baie gaan, soveel nagmerries, en steeds voortgaan met die lewe,”vertel sy.
“Almal se pad lyk anders, maar dit help om te weet jy is nie alleen nie.”Die goue tema wat deur die reeks verweef is, is Marlene se eie mantra – die lewe skuld jou niks.“Die episodes was deel van my reis om heel te word. Die reis gaan nooit oor wees nie, maar die reeks het my reis begin.”
In die eerste episode gesels sy met Ira Blanckenberg, ’n aktrise, skrywer en regisseur. Haar seun, Kieran, is in 2013 tragies oorlede op 14 toe hy op ’n rots gegly en tot sy dood geval het.“Dis ’n storie wat soveel mense raak. Daar is nie ’n resep vir die rouproses nie. Maar aan die einde van die dag staan jy op en jy moet voortgaan met jou lewe . . .”verduidelik Marlene.
Wanneer Ira haar storie vertel, gryp sy kykers se harte aan en as sy die woorde uiter:“My kind is dood”, kan jy amper nie help as om ’n stukkie van die verwoestende pyn te voel nie. Dis tydens dié onderhoud wat Marlene haarself vir die eerste keer toegelaat het om ook dié woorde te uiter, want sy het self ’n seun verloor . . .
Sy vertel ook die storie van ’n weduwee wat voel asof sy haar identiteit en ondersteuningsnetwerke verloor het met haar man se dood.“Mense nooi jou nie meer nie. Mense besef nie daardie persoon is eintlik iemand in eie reg nie. Jou man is oorlede, maar jy word eintlik uitgeskuif uit die samelewing. Maar as jy ’n wewenaar is, rally die gemeenskap om jou – hulle maak vir jou kos en soek eintlik amper vir jou ’n vrou. Daar is ’n stigma wat aan jou kleef en jy is eintlik bitter, bitter alleen,” vertel Marlene passievol. Dít gebeur ook as jy geskei is, veral as mense begin kant kies.
’n Ander storie wat sy vertel, is een van identiteit.“Ouers stuur kinders na‘beter skole’toe, soos die ou Model C-skool. Jy is bruin en jy gaan na dié skool toe, maar jy bly miskien in Grassy Park. Smiddae moet jy weer huis toe kom, na die gemeenskap waar jy grootgeword het. So jy is eintlik gedurig in twee wêrelde, want die skool se kultuur het nie verander nie en jy sukkel met identiteite. En dit maak diep binne-in seer. Dan spandeer jy ook so baie tyd daaraan om jou hare net glad te maak omdat dit jy moet vasmaak by die skool.”
Marlene het ook gesels met ’n suksesvolle vrou wat as kind gesukkel het met die idee dat daar nie etniese hare in boeke was nie.“Sy het gesê sy wou so graag hê haar kinders moet eendag kan lees dis oukei dat jou hare só is, dat jy ’n bruin vel het . . .”
moet sterk wees
Enigiemand wat al vir Marlene ontmoet het, sal nie huiwer om haar as ’n“sterk vrou”te beskryf nie, en tog is dit die heel laaste ding wat sy wil wees. In 1992 is Marlene gediagnoseer met ’n breingewas en nadat dokters dit verwyder het, het hulle gesê sy sal nooit
kan kinders kry nie.“So dit was ’n groot verrassing toe ek swanger word met my wonderwerk, Aimee (nou 23), en weer in 2001 met my geliefde engel, Adam,”vertel sy met ’n liefdevolle glimlag.“Dit was vir my wow om te kan trou, dat iemand my raakgesien het en dit was nog meer wow dat ek, ten spyte van alles, verwagtend kon raak!” Ses maande ná sy geboorte is Adam gediagnoseer met serebrale gestremdheid. “Ek kan tot vandag toe onthou toe dokters vir my vertel Adam sal nooit kan loop of praat nie, dat hy altyd ’n baba sou bly. Dit was soos om in ’n donker gat te val.” En dieselfde dag was daar ’n joernalis wat by haar huis gewag het om met haar te gesels oor haar rol as die eerste vroulike voorsitter van die Wes-Kaapse kulturele kommissie.“Die dokter was koud toe hy die nuus oorgedra het. Ek het huis toe gegaan met my kosbare engel. Verlore met geen guidance, niemand om my vas te hou en te sê dit gaan oukei wees nie.” Marlene het vinnig in haar “sterk vrou”-persona ingespring. “Ek het besef ek moes dinge maak gebeur. Ek het in fix-it mode ingegaan. Die enigste opsie wat ek ken, is om die situasie oukei te maak vir almal anders. Ek moes ook vir myself bewys ek kon dit hanteer. Ek het my bes probeer om ’n normale huishouding te hê in abnormale omstandighede. Ek het vir Adam onvoorwaardelik aanvaar en ons wonderlike reis van liefde en sonskyn het daardie dag begin. Hy was my lig.” Marlene sê omdat sy self gestremd is, het sy van vroeg af geleer om onafhanklik te wees, maar met Adam moes sy van vooraf weer leer om afhanklik te wees van ander mense.“Maar ek het nie toegelaat dat negatiwiteit of goed wat verkeerd gaan, my onderkry nie.” Adam se diagnose het egter met groot koste gekom omdat hulle verskeie mediese personeel en versorgers moes aanstel. Kimbies, medisyne, kos, Epilim en rolstoele het hul nuwe normaal geword. Marlene moes ook aanhou werk, want net om vir Adam aan die lewe te hou, was by die R20 000 per maand.