Kuier

Broos & siek van rou

-

“My lig was afgeskakel,”vertel Marlene hartseer. Maar die impak wat haar seun, wat nie kon praat of loop nie, op mense gehad het, was verbystere­nd.

“Die mense het vir Adam die‘sielkundig­e van Boston’genoem, want hy het almal se stories geken. Hulle sou met hom gesels as sy carer met hom gaan stap, want hulle het nie besef hy verstaan nie. Mense van heinde en ver het aan Adam kom hulde bring. Meer as 1 000 mense was by sy begrafnis,” onthou sy.“Maar die dag ná sy begrafnis, was ek stoksielal­leen. Alles was weg.”

Hoewel Marlene se hart in rou gedompel was, het haar lewe nie gaan stilstaan nie.“In die eerste jaar ná Adam se dood het ek net swart gedra. Ek het myself saans aan die slaap gehuil en weer in trane wakker geword. Ek het werk toe gegaan en nie geweet hoe ek deur die dag gaan kom nie. In een dag het ek my seun, my carers (vir Adam) en my lewensmaat verloor. My huis was dolleeg. Alles was net weg.”

Iets wat vir haar uitstaan ná Adam se dood, is die goed wat mense vir haar gesê het.“‘Marlene, jy moet verlig wees. Jy kan nou voortgaan met jou lewe,’of‘hy hardloop nou daar by Jesus’. Dit slaan jou asem weg, want ek het Adam aanvaar soos hy is. En mense het eintlik vergeet ek is net ’n ouer in rou. Al wat ek wou hê, is my kind terug in my arms. En ek moes alleen rou. Dit was verskrikli­k om nie op iemand se skouer te kon treur nie.”

Adam se dood was die grootste skok van Marlene se lewe. Maar sy kon nie haarself toelaat om op ’n hopie te gaan sit en vergaan nie. Sy het besef sy het nog ’n kind wat haar nodig het. Niemand sou ooit kon dink watter intense hartseer sy toe ervaar het nie. Die week ná Adam se dood, het sy haar tesis vir haar meestersgr­aad ingehandig.

Drie maande ná sy dood, is sy geskei. “En ’n egskeiding is ook maar ’n rouproses.”Tog het sy geen meer bitterheid in haar hart oor teenoor haar eksman nie.

“Hy is nou getroud met sy sielsgenoo­t en het geluk en vrede gevind.”

Haar lewe is steeds nie maklik nie. Dis amper asof haar rouproses nou eers werklik begin.“Ek probeer net deur die dag kom. Aimee gee my krag om op te staan, maar daar is dae wat ek nie kan asemhaal nie.”

In haar ervaring laat baie vroue nie hulself toe om te rou nie.“Vroue moet altyd sterk wees. Mense sê altyd:

‘Oe, maar sy is ’n sterk mens’.

Ek wil dit nooit weer hoor nie. Mense moet nooit weer vir my sê ek is ’n sterk mens nie,”sê sy passievol. “Daar is nie so iets nie. Jy gee voor. Jy probeer . . . Kom ek verduideli­k dit só: Ek het grootgewor­d met polio, maar ek het altyd probeer dat almal, veral my ma en my ouma, gemaklik moet voel; dat hulle nie moet voel dis hulle wat dit vir my gegee het nie, maar eerder dat hulle moet dink ek is ’n sterk mens.” Daarom het sy altyd probeer presteer om haarself te bewys.

“Dit was vir my nog ’n wow om universite­it toe te kan gaan en vir mense te bewys ek kán dit doen. Ek was nog altyd verskrikli­k gedryf, ek het amper ge-overcompen­sate vir baie dinge.”Maar nou weet sy sy wil nie bekendstaa­n as ’n sterk vrou nie.“Mense verwag ’n sterk vrou moet net aangaan. Hulle besef nie jy het ook soms ’n skouer nodig om op te lê en te sê:‘My good grief, this was just too much’nie.”

Sy vertel hoewel daar vriendinne was wat haar bygestaan het, is daar ander wat net weggebly het.“Hulle het gesê:‘Jy is mos ’n sterk vrou. Jy sal dit kan hanteer.”

Dít in ’n tyd wat sy gevoel het sy kan nie weer opstaan nie.“Ek het gevoel my liggaam gee in. Ek het in die hospitaal beland op ’n stadium. Jy kan siek raak van rou.”

Vir haar is dit belangrik dat mense besef die rouproses gaan nooit verby nie.“Mense sal vir jou sê tyd genees. Ek is nou in my derde jaar en dit voel vir my dit raak net erger. Ek mis hom elke dag. Maar jy leer om met dit saam te leef en te aanvaar. Ek gaan vir die res van my lewe ’n afvlerk-swaeltjie wees wat gedurig na die son moet soek. Die pad is moeilik, maar jy raak elke dag ’n kleine bietjie sterker,” vertel sy eerlik.

Marlene vertel sy is nou in“post-polio”fase, waar haar spiere verswak – ook dié van haar longe wat haar ’n baie hoë risiko maak vir Covid-19.“Dís hoekom ek dié reis (geselsprog­ram) wou ondergaan met hierdie ongeloofli­ke mense. Die lewe wíl geleef wees . . .”glimlag sy. Soms lyk dit die son gaan nooit weer skyn nie, maar stukkie vir stukkie, kom dit weer op. Ten spyte van die pyn het jy ’n rede om te leef en jy kan nog ’n verskil maak in ander se lewens.

 ??  ?? REGS: Marlene en haar dogter, Aimee.
REGS: Marlene en haar dogter, Aimee.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa