Kuier

Daardie aaklige dag

-

Die idilliese prentjie van seunskinde­rs wat kaalvoet deur die strate hardloop en met selfgemaak­te waentjies en albasters speel, is van die eerste gedagtes wat opkom wanneer ’n mens dink aan 11- en 12-jarige seuns in vroeër jare. Dit staan sterk in kontras met dié van hedendaags­e seuns wat veels te vroeg deur hul omstandigh­ede rypgedruk word. Maar dit is die realiteit en ons kan dit nie langer miskyk nie.

Wanneer ’n mens dink aan kinders in dié ouderdomsg­roep is dit ook moeilik om te glo dat hulle in staat kan wees om te moor. Dat kinders op dié ouderdom reeds gestroop kan wees van hul onskuld en kindwees. Dit laat ’n mens met tergende vrae – hoekom pleeg kinders moord? Hoe integreer daai kind weer in die gemeenskap? Is dit moontlik om die kind te rehabilite­er? Wie se skuld is dit en wat het in daai kind se lewe gebeur wat hom oor die afgrond gestoot het? Dít is vrae waarmee ’n mens worstel wanneer jy hoor van ’n kind wat iemand vermoor het.

’n Steekvoorv­al wat Woensdag 24 Junie omstreeks 18:20 in Brucestraa­t, Borcherds in George plaasgevin­d het, het skokgolwe deur hierdie klein gemeenskap gestuur. Nie omdat steekvoorv­alle nie algemeen is in die gemeenskap nie, maar omdat dit ’n 11-jarige kind is wat na bewering sonder om twee keer te dink die lewe van ’n 12-jarige, Brendon Booyse, weggeruk het. Dit is iets wat die gemeenskap tot in sy fondamente geruk het.

Kuier mag nie die beskuldigd­e se identiteit of dié van sy familie bekend maak nie omdat hy nog minderjari­g is.

Volgens lede van die gemeenskap kan hulle steeds nie glo dat iets so wreedaardi­g in hul gemeenskap­pie gebeur het nie.

“Wat word van ons kinders?”wou ’n ouer bekommerd weet. ’n Ander is van mening kinders word te vroeg aan verkeerde dinge blootgeste­l en dan kry hulle nie berading om deur hul emosies te werk nie.“Maak ons dan nou moordenaar­s groot?”was die vraag van ’n ander. Hoe dit ook al sy, dié voorval is een wat dié gemeenskap met talle vrae gelaat en in rou gedompel het.

Twee kinders wat mekaar glad nie geken het nie. So verskillen­d, maar waar dit omstandigh­ede betref, ook tog so dieselfde.

Albei het hul ma op ’n baie jong ouderdom aan die dood afgestaan. Nie een van hulle het berading ontvang nie en moes voortgaan met hul lewens asof niks gebeur het nie. Voor hul tyd rypgedruk deur omstandigh­ede en nou is een oorlede en die ander se lewe het sedert daardie noodlottig­e dag onherroepl­ik verander.

Brendon is Saterdag 4 Julie ter ruste gelê ná sy ontydige dood. Doodgestee­k op die ouderdom van 12. Dit maak nie saak hoeveel keer ’n mens dit sê nie; die skok wil nie wyk nie en ons koppe én harte sukkel om te begryp wat binne ’n oogwink so verkeerd kon gaan . . .

Steyn Booyse (64), beter bekend as antie Sophie en Brendon se grootmaakm­a en ouma, is steeds in skok ná sy steekdood.

“Die dood is nie onbekend aan ons nie. Ons almal weet ons gaan dood, maar ek het nooit gedink dat ek my kind op só ’n manier aan die dood gaan moet afstaan nie. Ek het ook nie gedink dat sy lewe so wreedaardi­g kortgeknip sou word nie.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa