Sielkundige se raad
Dr. Marita Rademeyer, ’n kliniese sielkundige van Pretoria, sê mense moenie geskok wees as hulle hoor van kinders wat so jonk moor nie. Sy het al met soortgelyke voorvalle gewerk.“Dis iets wat al hoe meer voorkom. Ons kinders is produkte van die samelewing. Ons moet ’n oomblik vat en dink wat ons kan doen om daai kind te help. Dis ons almal se verantwoordelikheid om by te dra tot die welstand van ’n kind.”
Sy verduidelik daar is twee dele in die brein wat moet ontwikkel vir ’n kind om empaties te wees.“As ’n kind in ongunstige omstandighede grootwoord waar daar armoede, misdaad, mishandeling, verlies en al daai tipe goed betrokke is, is dit moontlik dat die twee dele nie genoegsaam ontwikkel nie. Dit gee dan aanleiding dat ’n kind nie empatie voel teenoor sy medemens en selfs diere nie. Dit lei dan tot kinders wat moor of mense seermaak.”
Volgens Marita is dit moontlik om kinders te rehabiliteer en herintegreer in gemeenskappe as hulle só ’n tipe misdaad gepleeg het.“Mense moet verstaan dat rehabilitasie en genesing nie in ’n sielkundige se kantoor of by ’n detensiesentrum plaasvind nie. Die kind se omstandighede moet aangepas word. Verandering en rehabilitasie begin by die huis. Dit baat nie die kind kry sielkundige hulp, maar moet teruggaan na die omstandighede wat hom/haar tot die uiterste gedryf het nie.”
Sy glo ons kan verhoed dat kinders met die gereg bots deur die gesegde“it takes a village to raise a child”toe te pas.
“Mense moet die houding my kind is jou kind aanneem. As jy sien ’n kind sukkel, moet jy intree en help. Ons gaan net ons kinders kan help as ons daadwerklik optree en verantwoordelikheid neem vir hulle. Kinders is produkte van ons samelewing, kom ons skep ’n gunstiger samelewing met gunstiger omstandighede.”