Antwoord
Dit is nooit te laat om mediese hulp te soek nie. Indien kaakontwrigting vermoed word, moet ’n dokter so gou moontlik geraadpleeg word om komplikasies te voorkom.
Kakebeenontwrigting (dislocation) vind plaas wanneer een of meer bene van die kaakgewrig uit hul normale posisie kom. Dit kan volledig of gedeeltelik uithaak. Dit kan skielik gebeur of herhalend voorkom.
Simptome soos kaakpyn (net voor die oor) wat vererger met kou, onvermoë om jou mond toe te maak, kwyl, moeilike spraak en kou asook ’n kaak wat vorentoe gedruk word en snaaks kan lyk. Die kaak voel ook styf en geswolle of asof dit vashaak. Baie mense ervaar ook hoofpyne.
DIAGNOSE
Die diagnose word gemaak deur ’n dokter wat gaan uitvra oor wat gebeur het, die kaak te ondersoek en die kaak ontwrigting te bevestig met ’n X-straal. Die X-straal word ook gedoen om ’n beenbreuk (fracture) uit te skakel.
BEHANDELING
Behandeling hang natuurlik af van die onderliggende oorsaak.
1. Akute of onlangse ontwrigting:
’n Dokter kan onmiddellik die kaak onder sedasie of verdowing en pynmedikasie in sy normale posisie terugplaas. Indien die prosedure onsuksesvol is, kan ’n operasie benodig word om dit te herstel. Dit gebeur gelukkig baie min.
Nadat die kaak terug in posisie geplaas is, kan pyn verlig word deur ’n gereelde pynstiller soos Brufen te gebruik vir ’n week of twee.
•
Sit ’n yspak op die wang om swelling te verlig.
•
Deur half regop of op drie kussings te slaap, kan die swelling ook verminder.
•
Eet sagte kos sodat jou kaak nie te veel beweeg wanneer jy kou nie.
•
Moenie bubblegum of taai goed kou nie en moenie jou mond te wyd oopmaak nie.
•
Probeer ook om nie jou tande styf te klem nie.
•
Ontspan die kaakspiere snags deur ’n warm waslap op jou wang te sit.
•’
n Mondstut kan snags gedra word om knersing van tande te voorkom en ook vir wanneer jy aan sport deelneem.
•
Ondersteun jou kaak wanneer jy gaap met jou hande vir ses weke ná die reduksie.
•
Fisioterapie help ook met kaakoefeninge vir spierversterking en ontspanning.