Kuier

WAT IS JÓÚ DOEL?

Dit is belangrik om te weet wat jou doel in die lewe is en dit ook uit te leef. Dit kan jou lewe soveel meer verryk. Deur brenden ruiter

-

Ek was eenkeer saam met ’n vriend by ’n onderdele-winkel. Hy het ’n Volkswagen Beetle gery en die karretjie het onklaar geraak. Dit was in ons etensuur en ek besluit om saam met hom te stap.

Ek kan nie meer onthou wat dit was wat hy wou koop nie, maar toe hy vra, antwoord die verkoopsma­n: Jy gaan daai parte net in die Kaapse museum kry.

Ek dink onlangs weer aan dié storie toe ’n vriend oor my dreigende verjaardag praat.“Jong, jy moet versigtig wees, hulle maak nie meer ons parte nie!”

Hy bedoel eintlik dat ons nou al in ons veertigs is. Ek is 41 om presies te wees. Dit is eintlik moeilik om dit hier te skryf, want ek kan nie glo ek het so vinnig dié ouderdom bereik nie. En hulle kry inderdaad nie meer my parte nie.

Ek sê nou die een dag vir ’n ander vriend ek weet nie wanneer laas ek sonder een of ander skeet wakker geword het nie. Hy sê toe ek moet daarmee saamleef en hy quote die oud-Springboka­frigter Peter de Villiers:“Even the bad days are good.”

Ek het vir ’n rukkie daaraan herkou, want soms hunker ek terug na die“beter” dae. Ons as mens is mos geneig om te glo dat ons gisters altyd beter was. Kan ek nie maar nog so sexy wees soos in my twintigs nie? Of kan ek nie maar so dapper wees soos ek in my dertigs was nie? Gister was beter, só glo ons. As kind het ek altyd gehoor die grootmense praat van die“goeie ou dae”. Dan praat hulle van longdrop-toilette en water met emmers aandra. Wat kon nou so goed daaraan gewees het?

In my 41-jarige bestaan, het ek nog altyd die voordeel van die twyfel gehad, dink ek. Ja, my pad tot hier was nie altyd gelyk nie. Baie dinge het met my gebeur en ek het ook baie dinge self oor my lewe gebring. Jis, as ek kon teruggaan en sommige dinge ongedaan maak, dan sou ek. Van die besluite wat ek geneem het, het nie net moeilikhei­d in my lewe gemaak nie, maar het ook onbeskryfl­ike pyn in my naastes se lewe veroorsaak. Daaroor is ek bitter spyt.

Hoekom is jy hier? Dit kan tog nie wees dat ek en jy hier geplaas is om net te lewe en te sterf nie?

Maar op 41 is ek ook baie dankbaar. Daar het so baie goeie dinge in my lewe tot nou gebeur. Ja, ek het al twee heupoperas­ies gehad en was al so baie keer onder die lem dat ek soms vergeet vir wat dit hoeka was. Ek is onfiks en soms is ek maar ’n regte bliksem, maar ek is dankbaar.

Selfs vir die goed wat nie altyd so smooth geloop het nie, want dit het my lesse geleer wat ek andersins nooit sou leer nie.

As ’n Suid-Afrikaner is ek ’n stoere Springbok-ondersteun­er, maar een van die belangriks­te lesse wat ek ooit geleer het, kom van die All Blacks af. Daar word vertel dat All Black-afrigters nooit hul spelers laat vergeet hoe dit voel om ’n wedstryd te verloor nie. Om elke keer daardie pyn van ’n nederlaag op te roep, het van hulle die suksesvols­te rugbyspan van alle tye gemaak. Hoe werk dit?

Die All Blacks het 75% van al hul wedstryde oor 100 jaar gewen, maar in die profession­ele era kon hulle aanvanklik nie die rugbywêrel­dbeker wen nie. Hulle het teruggegaa­n en gaan vasstel hoekom hulle doen wat hulle doen. Wat was hul “purpose?”Daarna het hulle op ’n streep bekers gewen.

Wat is jou doel? Hoekom is jy hier? Dit kan tog nie wees dat ek en jy hier geplaas is om net te lewe en te sterf nie? Wat is die rede dat Liewe Jesus my 41 jaar gelede aan Johnny en Lydia gegee het?

Ek het onlangs iets ervaar wat my laat besef het ek is nie net ’n naam op binnelands­e sake se rekenaar nie.

My twee seuns, Brentlee en Jayden, het my op ’n Saterdagmi­ddag gedwing om hulle na ’n atletiekba­an te neem om te gaan oefen. Mense wat my ken, weet dat Saterdae my sportdae is. Nie speel nie, maar ek sal heeldag op ’n Saterdag sport kyk, as ek kan. Dalk met ’n koue ding in my hand, dalk nie.

Maar daai tyd wat ek met my twee boys spandeer het, het my laat dink dat ek eens op ’n tyd ook daarvan gedroom het om ’n suksesvoll­e sportman te wees. Of geglo het ek sal ’n suksesvoll­e atleet wees. En die feit dat ek van hul tekortkomi­nge kon identifise­er en hulle kon help om beter atlete te word, het my met“purpose”gevul. Ek sien nou daarna uit om nog meer by hul ontwikkeli­ng betrokke te raak. Al wen hulle nooit goue medaljes of dalk die wêreldbeke­r nie, kan ek darem op my ou dag sê ek het tyd met hulle spandeer. Miskien is dit dalk my purpose, wie weet?

As jy hier lees, daag ek jou uit om regtig te gaan soek na oor waarvoor jy in die wieg gelê is. Vra jouself af hoekom jy hier op die aarde is. Miskien is jou onderdele nie meer op die mark nie en jy is al dik gelap (met vergunning van wyle Tolla), maar iewers kan jy vir iemand iets beteken. Vind jou purpose.

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa