Kuier

die band van broers

Jare ná daai dag soek Deon steeds sy broer. Sy broer van wie hy net ’n skoen, sokkie en kruis het. Deur Salvia Ockhuis

-

Deon sien suster Human na sy bed toe aangestap kom.

“Goeiemôre, meneer Arendse,” groet sy vriendelik.

“Goeiemôre, suster,”antwoord hy.“Ek is so reg as kan kom vir vandag.” Simpatieke meelewing flits oor die verpleegku­ndige se mooi gesig.“Ek is jammer,”sê sy,“maar iets het voorgeval. Dr. Februarie was in ’n motorongel­uk betrokke en sal nie vandag u operasie kan doen nie. Haar been is gebreek en sy sal ongelukkig ’n tyd lank buite aksie wees.”

Deon se moed sak tot in sy kleintoont­jies. Hy wil so graag die lensinplan­ting op sy linkeroog agter die rug kry. Dr. Februarie het ’n paar maande gelede suksesvol ’n lens op sy regteroog ingeplant en sy sig het baie verbeter. As sy linkeroog gedoen en gesond is, wil hy graag saam met sy vrou, Rachel, deur Namibië gaan toer. Hulle beplan al so lank daaraan. Nou dit!

Hy vryf oor sy gesig, skielik skaam oor sy selfsugtig­e gedagtes.“Foeitog. Dis nou ’n jammerte. Hoe gaan dit nou met dr. Februarie?”

Suster Human glimlag.“Goed. Onder omstandigh­ede. Ek het darem goeie nuus ook. Dr. Brown het aangebied om u operasie te doen. Hy is ’n uitstekend­e oftalmoloo­g wat baie ondervindi­ng in oorsese hospitale opgedoen het en is al drie maande by ons. Hy het u geval klaar deeglik bestudeer en u sal veilig in sy hande wees. Ongelukkig sal hy eers namiddag die prosedure kan doen, nadat hy al die pasiënte op sy eie lys afgehandel het.”

Deon is ’n oomblik stil. Moet hy nie maar vra dat die operasie uitgestel word totdat dr. Februarie herstel het nie?

“Dr. Brown is briljant. U het niks om oor bekommerd te wees nie,”stel die suster hom gerus asof sy sy gedagtes kan lees.

“Goed dan,”willig Deon in. Hy het volle vertroue in suster Human se oordeel.

Toe sy weg is, lê hy teen die kussings terug en probeer ontspan. Hy dink aan Rachel en hul drie pragtige kinders en kleinkinde­rs. Ná hierdie operasie sal hy baie minder van ’n bril afhanklik wees en sal kan doen waarvoor hy ook al lus het. Op sestig het hy genoeg pensioen opgebou en gespaar om af te tree. Nou wil hy rustiger lewe en meer tyd met al sy geliefdes deurbring. Sy werk as trokdrywer het hom jare lank dikwels ver van die huis af geneem. Nou wil hy die beste maak van die tyd wat hy nog op Moeder Aarde het.

Deon sug. ’n Ou verlange kom lê weer swaar op sy gemoed. Ná al die jare wens hy steeds dat hy sy broer weer kan sien, met hom kan praat.

Flitse van die dag toe hy en sy broertjie se paaie by ’n platteland­se bushalte tussen twee sendingsta­sies moes skei, speel weer helder voor hom af. Hy is nege jaar oud, Jaco vier. Dis ’n week ná hul ouers, wat albei in ’n motorongel­uk oorlede is, se begrafnis.

Oom Peet skiet ’n muntstuk in die lug op. Dit tuimel om en om en blink in die son voor dit in die stof neerplof.

“Dis tails!”sê oom Lappies.“Ek sal vir Deon vat.”

Oom Peet tel vir Jaco op.“Jy kom bly by ons op Riviermond. Dis baie mooi daar en antie Ramona kan baie lekker kos maak.”

Deon sug in sy hospitaalb­ed, onthou hoe hy destyds om hom rondgekyk en net bosse en klippe en berge gesien het. Dit

was so anders as die stad waar hulle saam met hul ouers gebly het.

Oom Lappies en antie Shelby het vier kinders en al was daar nie regtig genoeg ruimte in sy twee-slaapkamer­huisie op Mooiweersp­oort nie, het hy nogtans die twee broertjies vir die week ná die begrafnis saam daar laat bly.

Jaco het begin huil toe oom Peet later met hom op die bus klim en hy het sy klein armpies na Deon uitgestrek. Die bus het met ’n groot geraas weggetrek en lelike stofwolke agter gelaat. Deon kon nie langer net staan en kyk nie. Hy het agter die bus aan gehardloop en later op ’n klip gaan sit toe sy bors te veel gebrand en die gruispad sy kaal voete te seer gemaak het. Die huil het ruk-ruk uit sy lyf gekom.

Oom Lappies het hom daar belowe dat hy sy broertjie baie sou sien, maar dit het die seer in sy hart nie minder gemaak nie. Hy wou elke dag by Jaco wees. Dit het vir hom gevoel asof hulle tweetjies net mekaar gehad het, al het hy geweet dat hul familie regtig lief was vir hulle.

Hy het goed aangepas, die lewe op die platteland geniet. Veral die vars lug en mooi natuurskoo­n. Die mense op Mooiweersp­oort was vriendelik en dit het goed gegaan by die skool.

Drie maande later het die dag aangebreek dat hy Jaco weer sou sien. Selfs toe dit op pad Riviermond toe begin reën het, kon Deon nie ophou glimlag nie.

Soos daardie dag, dam daar nou weer trane in sy oë op. Klein Jaco was weg. Oom Peet en antie Ramona was verslae. “Ek kan dit nie verstaan nie. Hy het nooit ver van die huis af gespeel nie. Ons ander kinders was by die skool. Toe die wind begin opsteek, is Ramona buitentoe om hom te gaan haal. Jaco was net nêrens,” het oom Peet verduideli­k.

In die reën en stormwind het hulle saam met die ander mense oral begin soek. Kort-kort sy naam geroep. Tevergeefs. Die polisie is laat kom. Later het een van die jong manne Jaco se skoen en sokkie in die veld gekry.

Agt dae later is die soektog afgelas. ’n Kruis is op die plek waar sy skoen gekry is, geplant. Deon het nog nooit só alleen gevoel nie. Hy kon nie glo dat sy klein broertjie dood is nie.

Hy het elke dag net aangegaan. Meestal gehuil waar ander hom nie kon sien nie.

Veral snags.

Daar was nie geld om verder as standerd ses te leer nie en Deon het in die stad kom werk. Tussendeur het hy aandklasse bygewoon en standerd agt voltooi. Uiteindeli­k trokdrywer by ’n groot maatskappy geword. Getrou. Twee seuns en ’n dogter gekry. Nou is daar al vier kleinkinde­rs ook.

Maar hy het klein Jaco nooit vergeet nie.

Deon was verbaas toe ’n ou oom op Riviermond – oupa Flenters – gevra het om met hom te praat. Die ou man het nooit getrou nie, was nie ’n vriendelik­e mens nie en het meestal kos en geld gebedel. Hy wou nie gaan nie, maar oom Lappies het gesê ’n mens moet iemand wat aan’t sterf is sy laaste woorde gun.

Siek en uitgeteer het die oupa op sy smal bedjie gelê. Sy woorde het hortend gekom.“Ek het . . . jou broertjie verkoop . . . ryk mense van Suidwes . . . hier kom bergklim . . . Ek het gesê dis my kind . . . dat sy ma dood is . . . ek nie alleen kon sorg nie . . . ’n dwaalspoor . . . die skoen in die veld . . .”

Haat en woede het soos ’n storm in Deon gewoed. Hy het sy gebalde vuiste in sy broeksakke gesteek.

“God!”

Die ou man het begin roggel en gesterf. Alles het onwerklik gevoel. Later het dit tot Deon deurgedrin­g dat Jaco waarskynli­k nog leef en ’n ander naam en van sou hê.

In vreemde stede en oral op die paaie waar hy gery of geloop het, het sy oë vir Jaco in ander mans gesoek. Dikwels het hy rondgevra. Sonder sukses.

Sy sig het verswak. Eers die een oog toe die ander. Hy glimlag by homself. As vandag se operasie so suksesvol soos die vorige een is, sal hy dalk eendag sy verlore broer duidelik kan sien. Dan sug hy. Daar is nie juis veel van ’n kans nie.

Miskien moet hy tog maar vrede maak daarmee dat hy sy broer nie weer sal sien nie, dink Deon toe hy drie maande later in dr. Brown se spreekkame­r sy beurt vir ’n opvolgonde­rsoek afwag. As Jaco dalk nog leef, is hy heel moontlik onbewus daarvan dat hy iewers ’n broer het.

“Meneer Arendse,”roep die ontvangsda­me en Deon staan op. Hy het dr. Brown twee keer tevore gesien: net voor die operasie toe hy reeds ’n verdowings­middel gekry het en die dag daarna toe hy uit die hospitaal ontslaan is en sy linkeroog nog bedek was. Die dokter is effens langer as hy, het ’n oop gesig en stywe handdruk. Hy praat Afrikaans met ’n aksent wat nie van hier is nie.

Die dokter verneem vriendelik hoe dit gaan. Deon het skaars genoeg woorde om sy dankbaarhe­id oor die beduidende verbeterin­g van sy sig uit te druk.

Dr. Brown is hoogs tevrede nadat hy Deon se oë ondersoek het. Deon staan op en iets fladder uit sy hempsak vloer toe. Die arts buk om dit op te tel.

Dis skielik doodstil. Dr. Brown kyk na die ou foto in sy hand, ’n diep frons tussen sy wenkbroue.

“Waar op aarde kry jy dít?”

“My klein broertjie en ek,”sê Deon. Dan bring dr. Brown ’n identiese, gelamineer­de foto uit sy beursie te voorskyn.

“Daar is vir my aanneemoue­rs vertel dat my broer en ma dood is,”sê hy.

Die twee mans staar ’n ruk lank na mekaar. Deon neem dr. Brown se regterhand en kyk daarna. “Jy is links,”sê hy, “en hier is die ronde geboortevl­ekkie op jou hand. Ons kan toetse laat doen, maar my hart weet jy is Jaco. Jy is my broer!”

Hulle glimlag vir mekaar. Verwonderd. Dit voel vir Deon asof daar ’n lig in hom aangeskake­l is. Daar sal baie tyd vir gesels wees, glo hy. Vir eers wil hy net sy geliefde broertjie styf teen sy hart vashou.

Oom Peet skiet ’n muntstuk in die lug op. Dit tuimel om en om en blink in die son voor dit in die stof neerplof. ‘Dis tails!’ sê oom Lappies. ‘Ek sal vir Deon vat.

 ?? ?? Foto ter illustrasi­e
Foto ter illustrasi­e

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa