Kuier

MOOI SO, MARIO!

Hy het van kleins af geweet daar wag iets groter op hom daarom het hy nie toegelaat dat dwelms en bendeaktiw­iteite in sy pad staan nie. DEUR JOSHWIN SAMPSON

-

Dwelmmisbr­uik skeur gesinne uitmekaar en verwoes gemeenskap­pe. Maar toe die dwelmmonst­er sy lang tentakels in Mario Marinus (24) se broer en pa inslaan, het hy net daar besluit om nie dieselfde paadjie te stap nie.

Vandag kan hy terugkyk en homself ’n klop op die skouer gee omdat hy nie toegelaat het dat sy omstandigh­ede sy toekoms bepaal nie. En nou is hy ’n onderwyser wat seuns inspireer om, nes hy, hul drome na te streef.

Wat egter besonders is van Mario se storie is dat sy ouers eers op die dag van sy gradeplegt­igheid in die kar op pad Bellville toe uitgevind het dis sy gradeplegt­igheid. Hulle het geweet hy studeer onderwys, maar nie geweet sy sukses gaan dan voor hul oë bevestig word nie . . .

VERSLAWING IN FAMILIE

Mario is van Roodewal in Worcester in die Boland, wat ook as die hartjie van Worcester bekendstaa­n. Hy het daar saam met sy ouers en broer en suster op die flêtse grootgeraa­k. Sy ma, Lucinda (48), was jarelank ’n huiswerker en sy pa, Arnold (51), is sedert 2008 werkloos weens ’n rugbeserin­g. Vandat Mario kan onthou, het sy pa dwelms gebruik, maar toe hy sy werk verloor, het die dwelmmisbr­uik vererger en het hy by bende-aktiwiteit­e betrokke geraak. Wanneer Mario oor sy ma praat, is dit duidelik sy is die goue draad wat hul gesin in moeilike tye bymekaarho­u.“My ma is ’n biddende vrou wat sterk staan in haar geloof. Haar gebede het ons deur baie moeilike tye gedra,” vertel hy. Hoewel Mario se kinderlewe allesbehal­we rooskleuri­g was weens sy pa en broer se dwelmmisbr­uik, maak hy dit duidelik dat hy nie sy grootwordj­are op die flêtse vir enigiets sal verruil nie.“Kyk, ek het met dwelms opgegroei en gesien wat dit aan mense doen. Ek het ook gesien hoe bendes mense se lewens verwoes en dit was eerlikwaar nie ’n mooi prentjie nie,”vertel hy met ’n krakerige stem.“Maar my grootwordj­are op die flêtse het my geskuur en -skaaf en bygedra tot die mens wat ek

vandag is,”sê hy trots.

Toe Mario in graad 6 was, het sy pa, Arnold, dwelms begin gebruik en by bende-aktiwiteit­e betrokke geraak. Dit is die jare wat hy beskryf as die tyd toe hy sy verstand begin kry het. Sy broer, Luzaar, wat toe net 15 was, het in sy pa se voetspore gevolg, maar nooit by bende-aktiwiteit­e betrokke geraak nie. Mario haal diep asem en herroep daardie bitter herinnerin­ge.“Ek onthou hoe my pa en broer Vrydae-aande teen uitvaltyd vir my ma by die deur ingewag het vir geld sodat hulle hul verslawing kon voed. Hulle het dan die Vrydag uit die huis gegaan en eers weer die Maandag teruggekom. Daarom kan jy my niks vertel van wat dit is om saam met iemand te bly wat aan tik verslaaf is nie. Jy slaap letterlik saans met een oog oop, want jy’s bang jou besittings gaan gesteel word.”

Sy pa en broer se verslawing het die Marinus-gesin se lewens hel gemaak. Maar hul geloof was hul wapen teen die dwelmmonst­er. Mario, sy ma en suster, Amber (22), het elke Vrydagaand ’n gebedsessi­e gehad en gebid vir ’n deurbraak in sy pa en broer se lewens.“Dis die enigste positiewe ding wat ek van my kinderjare kan onthou . . . Die gebedsessi­es wat ons elke Vrydagaand gehad het,”vertel hy met ’n knop in sy keel asof hy die trauma van daardie oomblikke van vooraf moet verwerk.

Luzaar is in 2014 oorlede. Hy is doodgeskie­t. Dis vandag nog ’n teer punt vir Mario en nie iets waaroor hy maklik praat nie.

“Vreemd genoeg was my pa die een wat my altyd aangeraai het om nie dwelms te gebruik nie. En omdat ek gesien het wat die gevolge daarvan is, het dit my gemotiveer om nie in dieselfde strik vasgevang te word nie,”verduideli­k Mario.

Hy vertel verder dit was vir hom maklik om daardie besluit te neem.“Omdat beide my pa en broer in graad 6 die skool verlaat het en in dwelms vasgevang was, het mense altyd gedink ek gaan dieselfde paadjie stap. Dis amper asof hulle dit verwag het. Maar my kop was van ’n jong ouderdom af reg aangeskroe­f omdat ek geweet het wat ek in die lewe wil hê. Ek het op skool al baie goed presteer en wou nog altyd verder gaan leer.”

In 2018 het Mario vir ’n onderwysku­rsus by die Kaapse Skiereilan­d Universite­it van Tegnologie by die Bellville-kampus geregistre­er. Hy het sy kursus suksesvol voltooi en onlangs graad gevang. Dit was ’n eerste vir sy gesin en ’n groot oomblik vir hom.

“Nadat my pa my die dag toe ek universite­it toe gegaan het, belowe het om nie meer dwelms te gebruik nie, het ek altyd huis toe gebel om te hoor hoe dit gaan. Van daar af kon ek sien hy het regtig hard probeer, want sedertdien het hy nooit weer dwelms gebruik nie,”vertel hy dankbaar.

VERRAS SY OUERS

Mario wou aanvanklik nie sy gradeplegt­igheid bywoon nie omdat hy maar ’n skugter mens is en nie daarvan hou as daar te veel aandag op hom is nie. Maar hy het besluit sy gradeplegt­igheid is ’n simbool van iets baie groter vir sy familie.“Ek’t besef so baie as wat dit my oomblik was, was dit ook my ouers se oomblik. Ons is after all al deur baie,”vertel hy passievol.

Hy het egter sy ouers verras op sy graadvangd­ag.“Die oggend van my gradeplegt­igheid het ek vir my ouers gesê hulle moet hulle mooi maak sonder om vir hulle te sê hoekom. Toe hulle op pad Bellville toe uitvind dis my gradeplegt­igheid was hulle oorlaai met emosies. Veral toe my naam uitgeroep word en ek op die verhoog stap,” voeg Mario by.

Hy is oorstelp van vreugde soos hy daardie dag herroep. Hy lag lekker voor hy byvoeg:“My pa het meer foto’s daardie dag as ek gevat. En dit was vir my baie spesiaal – veral om hom by my gradeplegt­igheid te kon hê.”

Ten spyte van sy pa se verslawing, het Mario nooit ’n wrok teen sy pa gekoester nie. Inteendeel, hy vertel hoewel hy dalk die dinge gehaat het wat sy pa gedoen het, was hy nog altyd lief vir hom.“Ek het my pa lankal vergewe en het geen kwade gevoelens teenoor hom oor wat in die verlede gebeur het nie. Hy was in die wêreld. En as jy in die wêreld is, maak die duiwel jou blind, daarom kan jy nie sien of besef wat jy aan jou naasbestaa­ndes doen nie,” sê hy.

Mario is vir ’n oomblik stil en voeg dan in ’n diep emosionele stem by met dit waarmee hy worstel:“Ek wens ook ek het destyds geweet wat ek nou weet. Miskien sou ek nie so hard op my broer gewees het nie. As ek die benadering wat ek gebruik het om saam hom te praat, verander het, sou ek hom dalk kon help . . .”

Maar terug in die hede is Mario op die pad van sukses waarop hy altyd wou wees; sy agtergrond ten spyt. Hy gee skool by Hexvallei Sekondêre Skool op De Doorns. Hy inspireer sy leerders om altyd goeie keuses te maak en om die regte pad te stap.“Onderwys was nooit deel van my toekomspla­nne nie. Maar ek het nog altyd geglo my toekoms is in die hande van die Here en waar Hy my lei, sal ek altyd gaan.”

Mario se boodskap aan jong manne en pa’s is om te besef dwelms en bendegewel­d verwoes families.“As jy daarin vasgevang is, lyk dit asof jy die regte pad stap, maar jy doen nie. Want ek het gesien hoe dit my familie verwoes.”

Hy kyk vandag terug en besef opnuut dat God ’n plan met alles het. Want dis waaraan sy ma hulle altyd herinner het as hulle op sy pa wou opgee. En kyk waar is hulle vandag – ’n pa en seun wat trots is op mekaar en vorentoe kyk . . .

 ?? ?? HOOFFOTO: Mario Marinus het sy graad gevang ten spyte van sy moeilike omstandigh­ede.
HOOFFOTO: Mario Marinus het sy graad gevang ten spyte van sy moeilike omstandigh­ede.
 ?? ?? ONDER: Mario saam met sy ouers, Lucinda en Arnold en sy suster, Amber.
ONDER: Mario saam met sy ouers, Lucinda en Arnold en sy suster, Amber.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa