SIBBE MAAK SPOGKISTE
Dié twee broers vat hul familie se begrafnisbesigheid na nuwe hoogtes met custom-made kiste vir kliënte.
Dis nie almal wat kan oorleef in die uiters mededingende begrafnisbedryf nie, maar twee broers van Retreat in die Kaap se besigheid floreer. En dít vir ’n besigheid wat agter in hul oupa se jaart begin is.
Deftig geklee in hul groen Fern Funeralhemde verklaar die broers Aleric (38) en Sheldon (34) Solomon trots:“Ons is doodernstig oor die begrafnisbedryf en dit is ons missie en visie om mense se laaste wens aan hulle en hul bedroefde families toe te staan. En ons doen dit met ywer en passie.”
’n Glimlag pluk aan Aleric se mondhoeke wanneer hy dink aan hoe die besigheid ontstaan het. Hy vertel geesdriftig:“My ouers, Charmaine en Peter, het in 1996 die besigheid begin. Daai tyd het my pa nog gewerk as ’n tronkbewaarder en die besigheid was iets wat hy teen die kant gedoen het. My ma het die boeke gedoen en dit bestuur. Ek en my broer was albei nog op laerskool.”
BEGIN IN JAART
Namate die besigheid gegroei het, het Fern Funerals ook begrafnisboekies begin aanbied en dit is toe die besigheid regtig vlam gevat het.
“Ons kliëntebasis het drasties toegeneem en hoewel ek nog op skool was, moes ek ook aktief by die besigheid betrokke raak.”
Aleric sê die onderneming was eers agter in sy oupa se jaart in die separate entrance gebaseer, maar namate dit gegroei het, is dit na hul huis in 5de Laan geskuif.
“En die res is geskiedenis soos die slim mense sal sê. Ons het nou nege kantore regoor die Wes-Kaap.”
Sheldon onthou die eerste kar wat sy pa aangekoop het om die lyke vanaf die huis na die lykshuis te vervoer.“Dit was ’n potblou Cortina en dit is die eerste kar waarmee ons begin het.”Sheldon onthou ook hoe hy nooit vir mense wou sê sy familie is in die begrafnisbedryf nie. Hy verduidelik:“Nie omdat ek skaam was nie, maar hoe verduidelik jy vir iemand dat jy net gou saam met jou pa gaan ry om ’n liggaam te gaan optel. Dit val nie so lekker op die ore nie.”
Alhoewel die Solomon-broers stelselmatig die familiebesigheid ná skool oorgeneem het, het hulle albei ander drome gekoester as kinders. Aleric sê hy wou ’n verkeersbeampte word.
“Ek wou regtig ’n traffic cop wees, man, vandat ek kan onthou. Ek het al gesien hoe staan ek teen die pad en trek mense af. Daai sense of authority”.
Sheldon lag voor hy vertel hy wou ’n dokter word.“Ons het nie ’n dokter in ons familie nie en ek wou die een wees. Wel, hoewel ek nie daardie droom kon bewaarheid nie is ek nou ’n begrafnisdokter!”spog hy trots.
Sheldon verwys na die feit dat hy nou ’n qualified embalmer is. ’n Balsemer is ’n opgeleide professionele mens met gespesialiseerde vaardighede. Om ’n balsemer te word, moet ’n mens baie spesifieke kwalifikasies verwerf en ’n pos by ’n gelisensieerde begrafnisondernemer, laboratorium of navorsingsfasiliteit kry. In ’n begrafnisonderneming is die balsemer verantwoordelik vir die balseming en voorbereiding van die liggame van die oorledenes vir begrafnisse of verassings.
WERK VAN JONGS AF
Hoewel die broers nou heel gemaklik is in ’n lykshuis of om met lyke te werk, was dit nie altyd die geval nie.
Sheldon vertel:“Daar was die een dag – ek dink dit was die tweede keer dat ons saam met my pa na die lykshuis gegaan het en dit was baie warm. Toe ons by die hek inry toe sak Aleric af.‘Daddy, ek kry darem nou baie koud’. Min te weet was hy bang!”
Aleric onthou ook hoe hy in die klas sou sit by die skool en dan sou sy foon lui.
“Dit was dan my ma wat gesê het ek moet huis toe kom om ’n removal (verwydering van ’n liggaam) te doen. Ek moes dan gou ’n hoesie gee sodat hulle my kon huis toe stuur. Ek het altyd my vingers gekruis in die hoop dat dit nie ’n onderwyser of familie van ’n onderwyser is nie, anders het hulle my uitgevang!”
Die twee maak nou lekker grappies, maar erken tog dis nie altyd maklik nie. Die gelag maak vinnig plek vir erns wanneer Aleric praat oor wat vir hom die moeilikste is van sy werk as besturende direkteur van Fern Funerals.“Vandat ek by die besigheid betrokke geraak het, het die verwydering van ’n kind se liggaam my getref. Of dit nou ’n stillborn-baba is of ’n kind wat deur ’n dwaalkoeël getref is. Dis vir my een van die ergste goed van in die begrafnisbedryf werk.”
KISTE MET ’N TEMA
Die twee het onlangs ’n geleentheid in die begrafnismark gesien wanneer dit by doodskiste kom, en vervaardig nou kiste wat volgens die kliënt se vereistes gemaak kan word. Hulle maak kiste met enige tema, van Rastafarian tot sportspanne, en vir kinders selfs Frozen- kiste.
En hoe is die idee gebore?“Families sou na ons kom en sekere kiste versoek en ons kon dit eenvoudig nie aan hulle verskaf nie omdat ons by ’n verskaffer in Johannesburg net die gewone kleur kiste bestel het. Ons het al ’n rukkie met die gedagte geworstel, maar het eers ’n maand gelede die fabriek oopgemaak. Almal kyk na die kis wanneer hulle na ’n begrafnis kom en dis die ding wat die meeste saak maak, en ons wou aan mense gee wat hulle versoek en verdien,”verduidelik Sheldon.
Volgens Aleric help dit hulle ook met gehaltebeheer.“Daar was baiekeer wat ek ontevrede was oor die finishing werk op ’n kis, en nou kan ons dit beheer, want ons doen alles self – elke handle, kleur en spyker. Dit is met die hand gemaak hier in ons werkswinkel”. Hulle het twaalf kleure waarvan mense kan kies en verskeie ontwerpe.
Fern Funerals het tans sowat 100 werknemers. Aleric sê:“Ons reël ’n volledige begrafnisdiens vanaf die verwydering van die oorledene, registrasie van dood, voorbereiding van die oorledene, bespreking van graf, verskaffing van ’n lykswa, gesinsroumotors, gesangblaaie, kis, kiskrans, kunsgrasmatte en saktoestelle. Alles. En ons is 24 uur beskikbaar by al nege kantore op ’n landlyn. Ons is nog old school.”
Volgens Sheldon is die lesse wat hy in besigheid geleer het as volg:“Wanneer ’n mens in dié bedryf werk, moet jy eerlik wees. Jy kan nie hartseer families nog belieg nie. Kwaliteit is baie belangrik sowel as om professioneel te wees. En dan natuurlik om consistent te wees. Dit is ’n baie kompeterende bedryf, so jy moet aan mense wys hoekom hulle jou met die verantwoordelikheid moet toevertrou.”
En dan voeg Aleric by:“Nog ’n les wat ons geleer het, is om terug te ploeg in die gemeenskap. Ons is waar ons vandag is omdat die einste mense ons ondersteun het. Dit is waar alles begin het en dit is hoekom ons soveel as moontlik teruggee waar en wanneer ons kan. Dit is ook vir my belangrik om die vertroue van ons kliënte te behou – ons is die mense wat hulle vertroos en hul geliefdes na hul naaste rusplek neem. Niemand het al ooit seergekry deur ’n bietjie liefde en omgee te versprei gedurende moeilike tye nie.”
Wanneer ’n mens in dié bedryf werk, moet jy eerlik wees. Jy kan nie hartseer families nog belieg nie.
SHELDON SOLOMON