Kuier

BEROOF DEUR BRAND

Elke dag herinner haar littekens haar aan die dag toe sy haar hele gesin in ’n brand verloor het. DEUR JOSHWIN SAMPSON

-

Sy was net drie jaar oud toe hul bungalow aan die brand slaan. Haar ouers het later aan hul brandwonde in die hospitaal beswyk en haar ouer suster, wat toe 12 was, het op die toneel verkool. En vandag, moet sy saamleef met die littekens van haar brandwonde wat haar daagliks herinner aan wat sy verloor het. Maar Elzane Olckers (23) van Oudtshoorn glo steeds daar is ’n groter plan en doel met haar lewe.

Elzane het al baie trauma in die lewe verduur. Die krake in haar stem soos sy haar storie vertel, getuig daarvan, maar steeds het sy ’n borrelende persoonlik­heid en probeer te alle tye die blink kant bo hou. Sy raak gemaklik aan die praat en hou niks terug nie, want sy glo dis juis haar lewenserva­ring wat ’n groot invloed het op die mens wat sy vandag is.

Maar, weens haar sigbare brandwonde was haar ervarings meer sleg as goed, en dit knaag dikwels aan haar selfbeeld. Sy het gevolglik insecuriti­es in haar tienerjare ontwikkel waarmee sy tot vandag toe worstel.“Weens my insecuriti­es wat deur my brandwonde veroorsaak is, voel ek baie minderwaar­dig. En my minderwaar­digheidsko­mpleks hang dikwels af van hoe mense my behandel. As mense se interaksie­s met my negatief is, gaan dit my negatief oor myself laat voel,”vertel sy.

VERLOOR HELE GESIN

Dis moeilik vir Elzane om haar lewe voor die brand te onthou omdat sy nog ’n kleuter was. Maar sy herroep tog spesifieke oomblikke wat vir ewig in haar geheue ingeprent is.

“My ma was ’n hairdresse­r op die dorp. En elke middag ná crèche het ek in die deur gestaan en vir haar gewag, want sy’t altyd vir my ’n chocolate in haar handsak gehad,”vertel sy opgewonde. Elzane onthou ook vaagweg die musiek wat haar pa destyds gespeel het en luister graag daarna op die dae wanneer haar gemoed laag is.

Sy vat haar gedagtes terug na die Woensdagaa­nd in 2002 toe die brand in hul bungalow uitgebreek het.“Omdat ek nog baie klein was, het ek saans by my ouers op die bed geslaap. My pa en my suster was daai aand alreeds aan die slaap en my ma moes pee. Omdat ons

nie ’n toilet in ons tweevertre­k-bungalow gehad het nie, het sy opgestaan om die emmer in die kombuis te gaan haal waarin ons saans gepee het. Ek het saam met haar opgestaan. Toe ons in die kombuis kom, het sy ’n klein vlammetjie op die kostafel sien brand. Sy het my pa wakker gemaak om dit te blus, maar hy kon nie die vlam blus nie en binne minute was dit onbeheerba­ar. Alles het skielik vlam begin vat . . .”

Dis moeilik vir Elzane om oor daardie aand te gesels. Sy vat ’n pouse om asem te skep soos die gebeure wat sy besig is om te herroep voor haar afspeel, maar sy gaan dapper voort.

“Toe die brand onbeheerba­ar raak, was ons vasgekeer in die bungalow. En omdat die venster die enigste uitgang was wat ons kon gebruik om die brand te ontsnap, het my ma my deur die venster gegooi. My suster was só bang vir die vlamme dat sy my pa se hand gelos het toe hy haar probeer red en sy het onder die bed gaan wegkruip. My ouers kon die brandende bungalow ontsnap, maar my suster het doodgebran­d waar sy onder die bed gelê het.”

Ná die brand was Elzane in die Rooikruis-kinderhosp­itaal opgeneem om die brandwonde aan haar gesig, arms en bene te behandel. Haar ouers was vir ’n kort tydjie in George-hospitaal opgeneem. Daarna is hulle na Tygerberg-hospitaal verplaas. Gedurende Elzane en haar ouers se opname in die hospitaal, moes die familie voortgaan om begrafnisr­eëlings vir haar suster te tref.

En net toe hulle dink die ergste is verby, het ’n dubbele tragedie die gesin getref: Elzane se ma het op die dag van haar suster se begrafnis gesterf en haar pa ’n week later op die dag van haar ma se begrafnis. Daar was nie eens tyd vir dié familie om te rou nie en Elzane kon ook nie behoorlik afskeid neem van haar gesin nie.

“My pa se ma, Ragel Fortuin (62), het die nuus aan my gebreek dat my ouers oorlede is toe ek in die hospitaal gelê het. En sedertdien het sy my grootgemaa­k. Maar omdat ek nog so klein was, het ek nie veel daarvan gedink nie en dit as vanselfspr­ekend aanvaar dat sy nou my ma is. Ons het ’n baie goeie verstandho­uding, daarom is ek ongeloofli­k baie dankbaar vir haar,” vertel sy bewoë.

Toe Elzane in die Rooikruis-kinderhosp­itaal opgeneem is, moes sy drie operasies ondergaan. Met die eerste operasie was daar inplanting­s in haar skouers gedoen sodat haar vel kon rek en die tweede operasie was ’n veloorplan­ting op haar gesig wat nie suksesvol was nie. Maar met die derde operasie was die veloorplan­ting uiteindeli­k ’n sukses nadat die dokters ’n stuk vel van haar boud gebruik het om op haar gesig oor te plant.

“Toe die operasie fail en ek sien hoe ek in die spieël lyk, wou ek in trane uitbars, maar ek’t besef ek moet sterk wees vir my ouma, veral omdat sy so optimistie­s was,”vertel sy. Behalwe die verband wat sy moes dra vir die wonde om te genees, vertel sy dat haar herstelpro­ses glad verloop het.

DAAGLIKSE STRYD

Op laerskool was sy baiekeer aangegluur deur kinders en het altyd pantyhose onder haar skoolrok aangetrek om die brandwonde op haar bene weg te steek. Maar toe sy op hoërskool was, het sy haarself eendag uitgedaag en ’n skoolrok sonder pantyhose aangetrek, en sy is toe só skool toe. Dit was vir haar ’n groot en vreesaanja­ende oomblik.

“Die onderwyser­s was lief om my rond te stuur en ek’t daarvan gehou, maar daai spesifieke dag het ek gebid dat hulle my nie moet rondstuur nie. Ek’t selfs vir my vriende gesê ek gaan nie pouses rondloop nie, want ek was te skaam en bang die kinders kyk my snaaks aan,”verduideli­k sy.

“En omdat ek só bewus was van my wonde, het ek altyd ander meisies dopgehou en gewens ek het hulle tipe skoonheid gehad, óf dat my hare so lank soos hulle s’n was omdat myne gebrand het. En as ek ma-dogter-duo’s gesien het, het dit my nog meer emosioneel gemaak, want dan het ek gewonder hoe sou die verhouding tussen ek en my ma gewees het. Daarom was Moedersdag vir my die afgelope paar jare verskrikli­k swaar,”vertel sy. Sy wou graag haar ma se moederlike liefde ervaar. Elzane het ook drome om eendag te werk, te trou en om kinders te hê, maar sy glo weens haar brandwonde lyk dit nie of dit vir haar gaan gebeur nie.

“Ek kan baie goed hare bewerk en ek’t al my CV by verskillen­de plekke ingegooi, maar ek kry net nie werk nie. Dit voel óók die outjies se aandag is meer op my vriendinne gefokus wanneer ek saam met hulle loop en dat ek invisible is. En dit laat my glo dat ek nooit liefde gaan vind nie. Dis dan daai klein goedjies wat my depressief maak,”vertel sy,“en wanneer ek só voel, sluit ek myself gewoonlik in my kamer toe en huil my kopkussing sopnat, want tans is my grootste wens om net ’n vol en gelukkige lewe te lei.”

Ten spyte van Elzane se seer, glo sy as dit nie die plan van die Here was nie, sou dit nie gebeur het nie. Dus wag sy in spanning vir dit wat God vir haar in stoor het. En omdat sy ’n groot liefde vir musiek het, sing sy haarself daagliks deur haar storm.

En die belofte waaraan sy vashou, is: “Die Here sal nooit laat jy doelloos deur die lewe gaan nie. Ja, soms raak ek moedeloos, maar dan besef ek dis juis Jesus wat my die krag gee om elke dag weer aan te gaan.”

 ?? ?? HOOFFOTO: Elzane Olckers het die brand oorleef. INLAS: ’n Skoolfoto van Elzane se suster, Jolandie, wat doodgebran­d het.
HOOFFOTO: Elzane Olckers het die brand oorleef. INLAS: ’n Skoolfoto van Elzane se suster, Jolandie, wat doodgebran­d het.
 ?? ?? HEEL BO: Elzane en haar ouma, Ragel. BO: Haar ouers het gesterf as gevolg van die brand.
HEEL BO: Elzane en haar ouma, Ragel. BO: Haar ouers het gesterf as gevolg van die brand.
 ?? ??
 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa