WAT DIE HART VAN VOL IS
Haar pa se liefde vir die lewe en ander mense het tot vandag toe ’n groot invloed op hul lewens. Deur mary-ann arendse Selfs ná my pa se sterfte is hy steeds elke dag deel van ons lewens deur middel van sy humor en liefde vir die lewe en ander mense.
Vandat ek kan onthou, was my pa anders as ander pa’s. Hy het ’n geweldige passie gehad vir die lewe, vir mense, sy dogters en kleinkinders. Hy was so geseënd met soveel talente. Bobaas storieverteller of liewer, geleentheidsgrapverteller, digter en orrelis.
Ek onthou die tagtigerjare soos gister. Ons bevind ons in die oortreffende trap van armoede. Soms droë broodkorsies of gebraaide uie op ’n stuk brood om ’n dag af te eindig. Maar my pa het daarvoor opgemaak! Destyds kon jy op die boekie koop tot Vrydae. Elke Woensdag kon jy vars vis, groente en vrugte koop. Hy het dan onmiddellik ’n pot kos gekook en later gesê:“My kindertjies, daar’s vir julle kos en vrugte, want ’n mens moet gebalanseerd eet”. (In dieselfde asem, my pa was g’n engel nie. Hy het sy doppie baie geniet, dalk te veel.)
Hy het vreeslik gespog met sy dogters. Ons is grootgemaak met tydskrifte en koerante al was daar nie geld vir luukshede nie. Hy het geglo kennis is mag. Hy sou terselfdertyd ’n grappie daarvan maak en sê:“Rook die Burger en gesels saam”.
Die bure rondom ons het geweet dat ons swaarkry, maar ook geweet dat ons nie net enige arm familie was nie. Dit was net die sameloop van omstandighede. Dat my ouers uit welgestelde familie spruit.
Die ander ding waarvoor hy lief was, was ’n orrel. Omdat dit duur was, het hy ’n trekklavier gehad. Hy het geglo ons kon sing. Met sy begeleiding het ons dogters altyd elkeen in ’n verskillende stem weggeval.
Oral waar hy ’n orrel of klavier gesien het (selfs in winkelsentrums), het hy dit oopgemaak en begin met“Jesu, joy of man’s desire”met ’n koppie wat effe skuins swaai en voor hom uitstaar. Weggevoer in
’n wêreld van sy eie.
By gesellighede het hy sy beste grappies gehou vir sy skare. Hy het hulle vermaak en dan die beste gelos vir laaste. Eers moes hy met die watergeeste gaan praat en met ’n hoed terugkom. Hy sou sy voorarms oorkruis vou en baie selfversekerd sê:“Maak ’n kruis. Julle sien almal my hande is droog”.
Hy buk dan vooroor en sy gesig vertrek van inspanning soos hy probeer om water uit ’n mes te druk tot luide applous van sy gehoor.
Selfs ná my pa se sterfte is hy steeds elke dag deel van ons lewens deur middel van sy humor en liefde vir die lewe en ander mense. Wanneer ons gesels of familiebyeenkomste het, vertel ons grappies soos hy dit sou doen en vertel het.
Ons raak nooit moeg om dit onder mekaar te vertel, dit uit te voer en ons oor ’n mik lag tot die trane loop nie. Ons beplan nooit insidente waar sy staaltjies vertel word nie, maar by elke byeenkoms is hy deel van ons gesprekke. En sy sêgoed bly nie agter nie. Goed soos“Give a fool a chance”;“Laat Gods water oor Gods akker loop”;“Jy’t jou goed van jou taak gekwyt”; en“Stuur groete vir jou ma, en moenie dat jou pa hoor nie”.
My suster het onlangs by ’n familiebyeenkoms die toertjie nageboots deur water uit ’n mes te tap. Ons het geskaterlag. ’n Susterskind het ook ’n musikale talent en speel die orrel in die kerk. Hy herinner ons daagliks aan my pa. Sy koppie is altyd skuins wanneer hy agter die orrel sit en speel met ’n veraf kyk in die oë, weggevoer . . . Nes my pa.
En dan was daar sy hart. ’n Baie goeie hart. Hy het simpatie en empatie gehad met mense al het hy dit self nie breed gehad. Wanneer ons oorskietkos gehad het, het hy dit na die armer mense geneem wat glad nie gehad het nie.
Sondae ná kerk het hy sy kerkklere uitgetrek en hom blink uitgevat in semi-formele klere, en ’n bietjie rondgeloop en geselsies aangeknoop met verskillende mense. Dís die soort mens wat hy was.
My pa is ons beskermengel, of altans myne. Ek ervaar hom oral waar ek gaan en beweeg. Ek is altyd bewus van ’n sterk teenwoordigheid saam met my, en ek weet dis hý.