Kuier

WATTER SKATTE laat jy na?

Dink na oor wat aan die einde van jou lewe jou werklike nalatenska­p gaan wees as jy aardse besittings uit die prentjie haal. deUR Pastoor Zaida Swart

-

Dis nie altyd maklik om te onthou dat hierdie wêreld nooit bedoel was om ’n permanente blyplek vir die mens te wees nie. ’n Mens wil mos so gemaklik en gerieflik moontlik leef en dan is dit maklik om hierdie feit te vergeet. Jy wil hê mense moet na jou opkyk sodat jou goeie dade nie ongesiens verbygaan nie. Maar dis juis in die stil oomblikke wanneer ons eerlik met onsself moet wees: Waarmee is ek regtig besig? Vir wie leef ek? En wat gaan van my“goeie dade”oorbly as ek die dag nie meer hier is nie? Wat gaan oorbly wanneer al die aardse trimmings eenkant geskuif of gebêre word? Wat laat jy werklik agter? Niks nie . . .

Dis glad nie maklike vrae om te beantwoord nie, maar wat baat dit jy oorwin die hele wêreld, maar jou siel ly skade? Waar jou skat is, daar is jou hart. Ons lees juis daaroor in Matt. 6:19 – 20:“Moenie vir julle skatte bymekaarma­ak op aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel.”Aardse erfenis kan nie opgeweeg word teen hemelse erfenis nie. Ja, dit is raadsaam om voorbereid­ings te tref vir ons oudag, maar die dag as ons te sterwe kom, moet ons al ons aardse besittings agterlaat.

Ons moet voortduren­d vir onsself afvra watter geloofserf­enis ons eendag gaan agterlaat. Sommige dae gaan dit vir ons makliker wees om daai vraag te kan beantwoord as op ander dae. Maar al neem jou geloofspad soms vreemde en onvoorsien­e draaie, en al wankel jou geloof so plek-plek moet die einddoel altyd dieselfde bly – om

’n geloofserf­enis te bou waarop jy én God saam kan trots wees.

In September vier Suid-Afrikaners ons diverse en ook gedeelde kultuurerf­enis. As gelowige hou ék egter vas aan my erfernis in God. Ek het ’n dringendhe­id in my om mense bewus te maak van die liefde van Jesus en Sy beloftes.

In 1 Pet. 1:4 word dit so duidelik gestel:

“. . . sodat ons ’n onvergankl­ike en onbesmette en onverwelkl­ike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons.”

Toe my kinders jonger was, het ek hulle geleer om onwrikbaar in God te glo, met ander woorde as God sê die stoel is blou dan moet jy glo dis blou al sien jy groen, bloot omdat God só sê! Dít is wat geloof is. ’n Vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie, volgens Heb. 11:1.

As mens moet ons volhard en juis op die regte pad saam met ons Heer en Vader bly in die tye wanneer die pad vorentoe onduidelik is. Hy wil hê ons moet uiteindeli­k by Hom uitkom en sal ons dus nie in die duister lei nie.

In Ps. 16 skryf koning Dawid ’n gedig: “Die Here is deel van my erfenis. Die meetsnoere het vir my op lieflike plekke geval, ja, my erfenis is mooi.”

Ek onthou dit soos gister; die oggend ná my eie ontmoeting met God. Dis toe my geestelike oë en ore oopgegaan het. Nog nooit het die hemelruim vir my so mooi blou gelyk nie. Dit was asof ek vir die eerste keer die pragtige minneliede­re van die voëltjies gehoor het! Wanneer ’n mens wedergebor­e word, dan sien en hoor jy die mooi dinge omtrent Jesus Christus. As kinders van God hou ons vas aan die lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood.

As leergierig­e, is ek gretig om kennis op verskillen­de vlakke op te doen. Daar is egter ’n verskil tussen kennis en wysheid. Kennis kan ’n mens opgeblase maak. Wysheid kom slegs van God. Wysheid begin by die dien van die Here. Ps. 84:12 sê:“Want die Here God is ’n son en skild; die Here sal genade en eer gee.”Só ook wil ek God se lig en genade uitleef terwyl ek op aarde beweeg. Ek wil in Sy opregtheid wandel.

Maar wat van die hiernamaal­s? In Op. 2: 7 lees ons:“Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne-in die paradys van God is.”Die gelowige sal dus saam met Christus as konings regeer soos opgeskryf in Op. 20:6.

Ek wil onthou word as ’n vrou wat volhard het in haar geloof in Jesus Christus. *Pastoor Zaida Swart dien by Pentecosta­l Ministry in Christ op Mosselbaai.

Laat jou erfenis iets wees waarop jy en God kan trots wees.

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa