TYD OM TE TREK?
Deesdae hoef jou werk jou nie meer aan ’n plek vas te ketting nie. Kenners gee raad oor hoe om daai groot skuif te maak. DEUR MARETHA BOTES
Dit word die Zoom Boom genoem. Jy hoef nie meer heeldag op kantoor te sit om jou werk gedoen te kry nie. Inteendeel. Jy hoef nie eens meer in dieselfde dorp of stad as“die kantoor”te wees of te woon nie.
Die werksopset het gedurende die Covid-19-pandemie heeltemal verander. In baie bedrywe is om van die huis af te werk hier om te bly, en hoef mense nie meer in dieselfde dorp of stad as hul werkgewer te woon nie. Baie werkgewers bied ook deesdae ’n hibriedmodel waar jy ’n mengsel het van tuiskantoor, ander bestemming soos koffiewinkel en kantoor. Die resultaat? ’n Nuwe tipe“migrasie”wat deesdae as semigrasie bekend staan. Jy trek nie landuit nie, maar slegs na ’n ander dorp of stad waar jy die lewe kan hê waaroor jy nog altyd gedroom het.
Die eiendomsmark het die afgelope twee jaar geweldige groei op veral plattelandse dorpe gesien – waar mense weg van die stad se gejaag getrek het, maar ook nie te ver van die lughawe en inkopiesentrums nie. Die grootste motivering vir mense om weg van die stad na die platteland te trek, is ’n beter gehalte lewe, minder misdaad en ’n gesonde buitelugleefstyl, sê dr. Andrew Golding, hoof van die Pam Golding-eiendomsgroep. Dorpe bied gewoonlik ook meer bekostigbare eiendomme, wat beteken die koper se belegging sal groei.“Baie mense wat platteland toe trek, het gesinne, en kies die dorp bo die stad vir ’n beter kwaliteit lewe vir hul kinders. Goeie skole en ’n buitelugleefstyl is sleuteloorwegings in dié gevalle,” sê hy.
REDES VIR TREK
Volgens data van Lightstone is die grootste uittog uit Gauteng. Die plek waarheen die meeste mense trek, is die Wes-Kaap. Volgens Lightstone is nóg ’n rede waarom mense verkies om weg te breek van Gauteng die swak munisipaliteite, slegte paaie, verkeersprobleme en ’n vinnige leefstyl.
Die meeste mense wat vanuit Gauteng na plattelandse gebiede trek, is tussen 49 en 64 jaar, en die meeste van dié mense trek Wes-Kaap toe. Die tweede grootste groep (en hulle verkies óók die Wes-Kaap) is tussen 36 en 49 jaar.
Meridian Realty het ook ’n groot oplewing in eiendomsverkope in kleiner dorpe in die Wes-Kaap ervaar sedert die middel van 2020. Dit is veral dorpe binne ’n uur of twee se ry van die Kaapse metro af, wat goeie infrastruktuur en besonderse leefstylopsies bied wat gewild is. Voorbeelde is McGregor, Greyton en Bettysbaai.
Ander gewilde bestemmings is Riversdal, Malmesbury, Wellington, Worcester, Elgin, Grabouw, Swellendam en Gansbaai en Hermanus langs die kus. Ook Mosselbaai, Plettenbergbaai, Knysna, Sedgefield, George en Kenton-on-Sea sien oplewing. In die Karoo kry plekke soos Ladismith baie belangstelling. In KwaZulu-Natal verkies mense Ballito en Umdloti, want dit is naby die lughawe en nie te ver uit Durban nie, en in Gauteng kies mense om Hartbeespoort of Heidelberg toe te trek, wat min of meer ’n uur se ry uit die middestad van Johannesburg is.
Volgens Private Property is die gemiddelde prys waarteen huise gelys word, by verre die hoogste in die Wes-Kaap teen R2,5 miljoen, in KwaZulu-Natal is dit R1,7 miljoen, in die Oos-Kaap R1,5 miljoen en in Gauteng R1,3 miljoen.
In Swellendam kan jy huureiendom optel teen ’n gemiddeld van R9 000 tot R14 000 per maand, terwyl daar steeds goeie waarde vir jou geld in die koopmark
is teen R2 miljoen tot R3 miljoen. In Ladismith (Karoo) sal jy kan huur teen R4 500 tot R6 000 per maand, en die koper kan enigiets verwag tussen R850 000 en R1,5 miljoen. In Riversdal is leefstylplase gewild, en dié val in die R4 miljoen tot R5 miljoen range. Gansbaai se besigste eiendomsegment is dié tussen R1,5 miljoen tot R1,7 miljoen terwyl die gemiddelde maandelikse huur R7 500 is. In Langebaan kyk mense meestal na die R1,3 miljoensegment. In Heidelberg, Gauteng, hang dit af van watter buurt jy na kyk. Pryse wissel tussen R1,22 miljoen in Heidelbergsentraal en tot R9 miljoen in Heidelberg Klooflandgoed.
SEMIGRATE SÓ
Leadhome gee die volgende wenke as jy wil semigrate:
Bepaal jou budget. Wat is die lewenskoste in jou nuwe location teenoor waar jy nou bly?
Gaan kuier op die plek waarheen jy wil trek. Hoe lyk die buurt waar jy wil huis opsit? Hoe lyk die kultuur, leefstyl, wat is die gemiddelde ouderdom van mense wat daar bly?
Begin kyk na beskikbare eiendom. Onthou, jou nuwe huis moet jou leefstyl, of die leefstyl wat jy graag wil hê, weerspieël. Kry inligting oor die belangrike dinge: skole, mediese fasiliteite, misdaad ensovoorts.
Soek ’n vervoermaatskappy om jou trek te hanteer. ’n Betroubare maatskappy met verwysings. Kry verskeie kwotasies voordat jy ’n besluit maak. Doen navorsing oor die verskillende maatskappy se diens.
Kry jou utilities in orde. Jy moet jou utilities kanselleer waar jy tans woon en diensverskaffers in jou nuwe dorp uitsorteer.
Dina Johnstone (55) en haar man, David (57), het kort voor die pandemie Onrus, Hermanus toe verhuis van Johannesburg af. Sy sê hulle was ná jare in die korporatiewe wêreld moeg vir die stad en het ’n plek gesoek waar hulle ’n eiendom kon kry wat goeie waarde vir geld sou wees, en ’n plek waar hulle amper“best of both worlds”kon hê.
“Hier weet ons dat ons goeie gesondheidsorg het as ons dit sou nodig kry. Ons het die natuurskoon aan ons voete en kan hier stap, swem, of sommer net wees. Die lug is vars en skoon en jy ruik die see,”sê Dina. Hul twee dogters is reeds uit die huis en woon ook in die Wes-Kaap.
“Ons is darem nou bietjie nader aan hulle!”sê Dina.
Hul drieslaapkamerhuis met toesluitgarage in Johannesburg het verkoop vir R1,4 miljoen en hulle kon ’n tweeslaapkamerplek met toesluit-garage vir R1,35 miljoen in Onrus kry. Hulle werk nou albei van die huis af en doen privaat mense en klein ondernemings se boeke.
Die Snyman-gesin het uit die Strand na Greyton gesemigreer vir verskeie redes, maar hul grootste motivering was ’n beter gehalte lewe.
“My man het begin navorsing doen oor kleiner dorpies wat goed is vir kinders. Ons het selfs ’n lysie gemaak van wat alles ons wou hê – teen ’n rivier, noordelike uitsig, goeie skool, goeie en veilige gemeenskap en nie meer as 90 minute vanaf die lughawe af nie. En dan ook, hy wou glad nie die bure sien nie en ek wou darem nog ’n sosiale lewe en vriendinne hê.
“Ons het net nadat die seuns, ’n tweeling (8), gebore is meer werk daarvan begin maak en toe die stukkie grond gekoop – dit is ses hektaar teen die Sonderendrivier met ’n pragtige uitsig op die berge, so
8 km uit die dorp uit en tussen ’n suiwelen appelplaas. Ons bly heerlik hier – dit is een van die beste besluite wat ons gemaak het, selfs al moet ons soms ’n pofadder teen die huis uithaal en by die reservaat gaan los,”sê Hermien (45). Sy en haar man, Dewald, werk beide vir ’n farmaseutiese maatskappy en werk van die huis af.
Hermien sê eiendom op die dorpie is baie duur, dit is maar só met vraag en aanbod – maar die belangrikste om in ag te neem, is die dorp self.“Ons het fantastiese restaurante hier, regtig om van te kies en te keur, Saterdagaande is daar lewendige musiek by een van die gewilde plekke. Ons Saterdag-markie is fantasties en deel van ons weeklikse roetine. Hier is ook heelwat skoolopsies. Ons het ’n goeie dokter op die dorp en daar is ’n baie goeie praktyk in Caledon wat ons gebruik, asook ’n tandarts – vir hospitale is daar die Caledon-hospitaal en dan gebruik ons maar Hermanus of Somerset-Wes vir die groot spesialisbesoeke.”
Op Greyton self is ’n haarkapper, verskeie skoonheidsalonne, swemlesse vir die kinders, fiksheidsafrigters, ’n klein gimnasium (gym), Pilatesklasse, yoga-klasse en selfs ’n boekklub.
Vir baie mense is dit aanloklik om die lewe buite die stad te soek, veral noudat dit nie meer in alle gevalle nodig is om “by die werk”te werk nie. As jy dink aan semigreer, is dit nodig om te besluit wat dit is wat jy en jou gesin soek betreffend leefstyl, lewensgehalte, en natuurlik, hoe jou geldsake lyk.