WEES SONSLIM DIÉ SOMER
Aandag alle sonsoldate: só kan jy jou vel beskerm
Die lang somerdae is hier, en daarmee saam kom luilekker ure in die son. Maar voor jy dit in die hitte waag, moet jy jouself en jou gesin teen die son se skadelike UV-strale beskerm. En sunscreen is beslis nie net vir ligte velle nie. Almal, ongeag jou ouderdom, ras of geslag, moet dit daagliks gebruik. Selfs op bewolkte dae.
HOEKOM BENODIG ONS SONBESKERMING?
“Daar is niks fout met ’n bietjie vitamien D nie, maar maak seker jy is goed beskerm. Sunscreen beskerm nie nét teen die son nie, maar help ook met moisturising, pigmentasie en selfs veroudering,”sê Carmen Cloete, ’n estetiek-spesialis van Kaapstad. Dit keer dat sonvlekke voorkom, beskerm die vel teen sonbrand en verminder jou velkanker-risiko, sê sy.
Dis‘n mite dat jy nie sunscreen hoef te dra as dit bewolk is nie, sê Carmen. Dis dalk bewolk, maar die son skyn steeds en sowat 80 persent van sonstrale penetreer steeds die vel, sê sy.
Die“sonbeskermingsfaktor”(SPF) is ook belangrik. Dís die nommer op jou sunscreen-bottel, en ’n maatstaf van hoe goed dit jou teen sonbrand beskerm.“’n SPF 50 is voldoende, maar jy moet onthou om weer aan te sit as jy gaan swem,”sê Carmen. So, wat’s háár gunsteling?“Ek gebruik Dermopal se SPF 30+ en Skin Functional Chemical SPF 50.”
MAAK SÓ MET SUNSCREEN
• Smeer dit aan 15 minute voor jy uitgaan buitentoe.
• Smeer dit ná elke twee uur aan wat jy buite is, en ná jy geswem en gesweet het.
• Bedek enige ontblote vel met sunscreen (ook ore, lippe en nek).
• Hou die vervaldatum dop (dit hou ongeveer drie jaar).