SWEM WASMY ‘SAVING GRACE’
Swem was sy uitkoms in uitdagende tye, en daarom is een van die land se onbesonge helde van swem,Trevor Petersen, se hartsbegeerte om dít vir ander te leer
Toe hy as 10-jarige seun die eerste keer sy kop onder die water in Bonteheuwel se munisipale swembad gedruk het, het hy ongekende vryheid en beheer gevoel. In daai oomblik het die negatiwiteit gekoppel aan sy komvandaan eenvoudig verdrink. Tot vandag toe beskryf Trevor Petersen (59) sy kennismaking met swem daai dag as sy“saving grace”, want sy lewe kon soveel anders uitgedraai het. Hy sou dalk nie die ster-swemmer wat sy land tydens apartheid verteenwoordig het, geraak het nie. Of sy droomvrou, Wonita (nou 57), as tiener by ’n swembad ontmoet het nie; óf sy mentor en coach nie, of sy huidige swemskool geopen het nie.
Maar hy het, want daai dag het die water sy heiligdom geword en sy lewenskoers verander.
Trevor en sy vrou van die afgelope 33 jaar, Wonita, bedryf deesdae hul eie swemskool in Meadowridge in Kaapstad. Sy is van Retreat en hy van Bonteheuwel. “Ek en Trevor het in die 1980’s ontmoet as tieners wat mededingend geswem het,”vertel Wonita.“Hy het geswem vir die Aurora-klub in Bonteheuwel, en ek vir die Manta-klub in Wynberg.
“Ons het ook nasionaal deelgeneem as lede van die Wes-Kaapse provinsiale swemspan.”
VYF DEKADES VAN SWEM
Trevor is die jongste van sy ma, Alice, se vyf kinders. Hy het drie broers en een suster. Hul pa het die gesin verlaat toe hy vyf jaar oud was. Ten spyte van ’n moeilike begin, het Trevor bly uitstyg toe hy eers ’n swembad agterkom.
Op daai dag so 50 jaar gelede toe sy lewe verander het, het hy sy afrigter en mentor, Cecil Whiteman, ontmoet. Selfs in die stoere apartheidsjare het hy Trevor se ongelooflike talent raakgesien en hom onder sy vlerk geneem.“Hy het my gevra of ek kan swem, en ek het ja gesê. Toe wys ek hom, maar toe sê hy dís nie swem nie; hy sal my leer swem. Lo and behold, ’n paar maande later het ek my eerste gala geswem, en ek het laaste gekom.”
Maar dit was net die begin. Trevor het van kan-nie-swem tot nasionale kampioen-vlak gestyg, vertel Wonita.“Toe hy eers begin swem het, het hy heeltemal laaste gekom en saam het hy en Cecil hard gewerk, hard geoefen, groot opofferings gemaak en toe begin meeding en races begin wen. Dit het hom geleer om hard te werk en die ure in te sit.
“Trevor sou soggens sesuur op staan om by die swembad te wees om te begin oefen. Hy sou skool toe gaan en dan weer smiddae swem.” Vir hom was sport ’n uitweg van die gangsterism, dwelms en geweld in sy omgewing.“Die water het ’n heiligdom geword; ’n plek waar ek vry en in beheer gevoel het,”sê hy.“Ver van die gevare wat buite die swembadhekke geskuil het. Die vrede van onderdompeling in water het al die geraas van buite verwyder. Hoop en geloof was my geheime wapens, wat my voortdurend vorentoe gedryf het. Dit was my dryfveer om meer te bereik as wat ander gedink het.”
Wonita vertel Trevor het later ’n nasionale kampioen in swem geword en ook waterpolo gespeel.“Hy het ook aan lewensreddingskompetisies deelgeneem, en sy eerste oorsese kompetisie waarin hy internasionaal deelgeneem het, was die lewensredding-wêreldkampioenskap in Wallis in 1994,”sê sy.
Trevor, wat destyds skool moes verlaat om hul gesin finansieel by te staan, het eers op 30 in 1996 matriek voltooi. Hierna wou hy graag sportwetenskap aan die Universiteit van Wes-Kaapland studeer. “Hy is aanvanklik afgekeur, maar dit het hom nie ontmoedig nie,”vertel Wonita. “Trouens, dit het hom meer vasberade gemaak en hy is daarna aanvaar weens al sy sportprestasies. Een van die mense wat na sy aansoek gekyk het, het vir hom gesê hy sal nooit hierdie graad slaag nie.”
Die departementshoof was verstom oor sy swemvermoë, vertel Trevor. Maar die nodige wiskunde, biologie en fisika wat hy moes oorbrug vir sy graad, kon
hom dalk net pootjie. Hy was ook die oudste in sy klas (die ander studente het eers gemeen hy’s die dosent).
Maar Trevor het met dieselfde deursettingsvermoë as toe hy destyds sy eerste gala verloor en toe ingehaal het as wenner, sy graad ook aangepak. En die uiteinde? Hy’t sy BA-graad in menslike beweging-studies met lof in 2000 voltooi!
Gedurende sy studiejare het Trevor ook aan driekamp begin deelneem. In 1997 het hy Suid-Afrika by die wêreld driekamp kampioenskap i nP ert h, Australië, verteenwoordig. Hy het SA toe ook in Lausanne (Switserland) en Edmonton (Kanada) verteenwoordig ,” sê Wonita.
Maar kompetisies as een van slegs drie anderskleuriges op ’n wit span het met baie uitdagings gekom, vertel Wonita. “Jou eie spanmaats wil nie met jou interaksie hê nie.”
Trevor het destyds ook voltyds gewerk terwyl hy geswot het, en ’n vrou én twee jong kinders, Dayna (nou 31) en Cody (nou 27) gehad om voor te sorg. Tussendeur het hy aan die Ystermankompetisie deelgeneem (waar jy moet swem, fietsry en hardloop) en volafstand- én die halfafstandrenne gedoen, én selfs aan fietsrenne deelgeneem, insluitend die Cape Argus-fietstoer en ’n aantal double-centuries (taai 200 km-renne). Hy het ook begin om atlete vir dié byeenkomste op te lei en af te rig.
“Trevor het vir baie jare vir die Stad Kaapstad gewerk as ’n strandkonstabel langs die Atlantic Seaboard, en het as die strandbestuurder by die Seepunt Pavillion opgeëindig voordat hy daar weg is om ander paaie te verken,”vertel Wonita.
Dis toe dat hy sy eie besigheid geopen het – in bou- en projekbestuur. Maar toe hy in 2019 ’n massiewe hartaanval kry terwyl hy vir dieYsterman-wedloop geoefen het, het hy besluit om effens af te skaal. Dis toe dat die Meadowridge-swemskool begin is.“Dit was eintlik die einde van sy kompeterende wedrenne,”sê Wonita.
Om terug te gee, wou hy swem met ander deel en só steeds bly lewens red. “By Meadowridge-swemskool bied ons ons kliënte van alle ouderdomme die geleentheid om dié vaardigheid in ’n veilige omgewing aan te leer. Ons swembad is onderdak en die water word verhit. Ons doel is om soveel mense as moontlik aan swem blootgestel te kry, een mens op ’n slag indien nodig,”sê hy.
Wat hul swemskool anders maak, is dat hulle“nie net passievol is oor swem nie, ons bied ook hoë-gehalte dienslewering in en buite die water”, sê Trevor.
Volgende op hul pad is hul eerste oopwater-swemgeleentheid by die Grabouw Country Club. En dít nogals op hul 34 ste huweliksherdenking op 3 Maart.“Ons doel is om soveel swemmers moontlik te bereik om deel te neem, om fondse in te samel om ons benadeelde gemeenskappe bloot te stel aan waterveiligheid en moontlike Learn To Swim -programme,”sê hy.
Hulle is albei gesinsmense, daarom spandeer Trevor en Wonita graag tyd met hul kinders en dié se gades. Dayna, metha a reie bemarking s agentskap, hanteer alles bemarking en digitaal vir hulle. Haar man, Francois van der Merwe (31), help uit met hul IT-behoeftes. Dayna en Francois het gesorg vir die eerste (en nog enigste) kleinkind, Izayah (2). Hul seun, Cody, en sy vrou, Petro (27), is albei fisioterapeute en baie hands-on met raad en kundigheid aan die swemmers.
“My kinders is my grootste vreugde en daarom probeer ons soveel moontlik tyd saam met hulle deurbring. Ons gaan stap, gaan vir naweke weg, braai, sit laataand en gesels . . . en dan is ons absoluut mal daaroor om saam met ons kleinseun te speel en te swem,”vertel dié trotse oupa.
“Dít alles kan nie gedeel word sonder om ook die waarheid te deel nie: Dat niks hiervan moontlik sou wees sonder God en Sy hand op ons lewens nie.”