HOU SÓ JOUTROETELDIERE KOEL
HONDE
Plaspoel Honde kan nie soos ons deur hul vel sweet om af te koel nie. Hulle sweet deur hul pootkussinkies, en deur te hyg, laat honde die nodige lug deur hul lyf sirkuleer om af te koel.
Leer jou hondjie om in ’n plastiekswembad af te koel. Dit sal sy temperatuur reguleer en jou fur-kind sal hope pret hê in die proses.
As jy in ’n droë gebied woon, kan ’n kleiner houer, byvoorbeeld ’n opwasbakgrootte-plastiekbak, ’n opsie wees om die pote in te doop, en los baie vars, skoon drinkwater op ’n skaduryke plek.
Skoene As jy besluit om vir jou hond stapskoene te koop, maak seker dis geskik vir die somer, met duursame sole en maas om pote te laat asemhaal sodat dit nie oorverhit nie.
Fans? Fans werk nie vir honde nie. Aircons wel. ’n Nat handdoek op vloerteëls is ook ’n wonderlike manier van afkoel.
Gevriesde lekkerte Vul‘n 2 L-ice creambak met water of kragsop, voeg stukke vrugte en ’n paar vleiserige happies by en vries dit oornag. Dié lekkerny sal jou hond besig, verfris en koel hou.
By die see Die strand is pret vir honde, maar die skerp son en warm sand kan maklik sonsteek veroorsaak. Hou jou besoek kort.
KATTE
Water Hou jou kat gehidreer. Los iewers in die skadu ’n groot bak vars water. Voeg ’n paar lepels ongesoute hoenderof beesvleisaftreksel by om haar aan te moedig om te drink. Ontwatering kan tot ernstige siektes lei.
Skaduwee As jou kat bedags buite is, sorg dat sy tot volop skadu toegang het. Kyk dat sy nie per ongeluk toegemaak word in ’n garage – waar die temperatuur dodelik kan word – nie. Borsel Gekoekte pels en los hare vang hitte vas. Versorg jou kat gereeld, veral as sy ’n langhaarras is.
VOËLS
Hokposisie Kyk dat jou voël se hok nooit aan te veel son blootgestel is nie. Onthou: ’n skadukol in die oggend kan teen die middag soos ’n oond word. Lafenis Voëls het nie sweetkliere nie. Hulle koel hulself af deur vinnig asem te haal en hul vlerke van hul lyf weg te hou. As jou verekind tekens van oorverhitting toon, spuit hom met lou water nat, veral onder sy vlerke, om hom vinnig af te koel.
Badtyd Die meeste voëls plas en pluis graag in ’n vlak bakkie. Los vir hom een om in te speel. Dit sal hulle ook help koel bly.
DIE VYFSEKONDETOETS Staan kaalvoet of druk jou hand teen die grond en hou dit vyf sekondes daar. As die sypaadjie of padoppervlak vir jou te warm is, is dit ook vir jou hond te warm. Stap liefs vroegoggend of saans.