MELKTERT MILLE FEUILLE
Genoeg vir 4-6 mense BESTANDDELE
Custard-mengsel
1 koppie melk
¼ koppie custard-poeier ¼ koppie suiker
’n knippie sout
1 eetlepel vanilla essence
Filostapel
¼ koppie ligbruinsuiker 1 teelepel fyn kaneel ¼ teelepel gemengde speserye
250 g filodeeg
100 g botter, gesmelt
Afronding
1 koppie room, styfgeklits fyngerasperde skil van 1 lemoen
METODE
Voorverhit die oond tot 200°C. Bespuit ’n groot bakplaat met kossproei. Hou ’n spuitsak byderhand. Custard-mengsel
Verhit ¾ koppie van die melk in ’n klein kastrol tot net onder kookpunt.
Meng die custardpoeier, suiker, sout en vanilla essence by die res van die melk in en voeg by die verhitte melk. Roer aanhoudend oor lae hitte tot die mengsel begin verdik. Laat die mengsel ’n paar minute lank prut, of tot die custard gaar is.
Haal van die hitte af en laat heeltemal afkoel. Filostapel
Meng die suiker, kaneel en gemengde speserye goed.
Verf ’n vel filodeeg liggies met die botter en plak nog ’n vel deeg bo-op. Verf weer met die botter en sprinkel van die speserysuiker oor. Vou die deeg in die lengte in die helfte en verf die bokant weer met botter. Sny die deegstapel in 4-6 stafies.
Herhaal met die res van die deeg en speserysuiker. Pak die deegstafies op die bereide bakplaat en bak vir 10-15 minute, of tot goudbruin en bros. Hou eenkant om af te koel.
Afronding
Klits die helfte van die room by die afgekoelde custard-mengsel in. Vou die res van die room liggies by die mengsel in en skep in die spuitsak.
Spuit van die custardvulsel op ’n deegstafie, sit nog ’n stafie bo-op en spuit nog custard op. Sprinkel van die lemoenskil oor. Herhaal met die res van die deegstafies en vulsel en sit dadelik voor.