Volstruisbedryf hou kop bo water
Die jaar sluit vir die volstruisbedryf op ‘n laagtepunt af, maar die bedryf beur voort.
Die hoogs-patogene H5N8 Avian Influenza (AI)-virus wat in Junie vanjaar op pluimveeplase in die noordelike provinsies van Suid-Afrika uitgebreek het en daarna na die Wes-Kaap versprei het, is nog nie 100% hokgeslaan nie, al word geen nuwe voorvalle aangemeld nie.
Op 15 Desember was daar 30 plase wat by die Wêreld-dieregesondheidsorganisasie (OIE) aangemeld. “Die goeie nuus is dat hierdie plase ten minste een keer, maar in sommige gevalle reeds drie keer, negatief getoets is,” sê dr Adriaan Olivier, veearts van die Suid-Afrikaanse Volstruisbesigheidskamer (SAVBK).
Die verspreiding van die virus word deur migrerende watervoëls oorgedra, soos bevind in opnames tydens die uitbreek en volgens Olivier word die migrasie vanuit die westelike dele in ‘n oostelike rigting in die land voortgesit.
“Daar is voortgesette gevalle van H5N8 in Europa, wat daarop dui dat die virus daar oorwinter het, en dit kan waarskynlik ook die voorland vir Suid-Afrika wees,” sê Olivier.
Volgens Olivier het voëlgriep, en veral nou H5N8, het ‘n geweldig negatiewe invloed op die volhoubaarheid van dié uniek SuidAfrikaanse volstruisbedryf wat krities is vir die landelike ekonomie van die Klein Karoo. Veral die hoender- en eierbedryf het groot verliese gely.
“Voor die 2011 uitbreek, was daar ‘n beraamde 1000 volstruisprodusente landwyd. Elkeen van die produsente het gemiddeld vyf werkers in diens gehad, wat elkeen ten minste vier afhanklikes versorg het.
Tans is daar 400 produsente oor, wat beteken 600 produsente is verlore, en daarmee gepaardgaande 30 000 werkers en altesaam 120 000 afhanklikes, wat hul inkomste kwyt is. Die huidige uitbreek van H5N8 se invloed op normale boerderypraktyke en handel verswak verder die huidige groep produsente se vermoë om ‘n positiewe bydrae te lewer in landbou en internasionale handel,” sê Olivier.
Hy sê H5N8 het dramatiese gevolge in ‘n landelike ekonomie waar landbou en toerisme die hoofbronne van werksgeleenthede en inkomste is. Volgens hom word die vleismark erg ontwrig aangesien ‘n groot persentasie van die volstruisvleis nie uitgevoer mag word nie, en daar is tans ook ‘n oorvoorsiening in die binnelandse mark.
“Die verlies aan buitelandse inkomste van 100 000 minder slagvolstruise weens die verbod op die uitvoer van vars vleis, beloop nagenoeg R260 miljoen.”
Terselfdertyd is die markomstandighede vir volstruisleer steeds stram, al word daar gehoop dat die vraag in 2018 sal toeneem. Die mark vir volstruisvere is goed en die verwagting is dat dit sal voortduur. Te oordeel aan maandstate van die SAVBK vir die afgelope jaar, dui ‘n vooruitskouing daarop dat slaggetalle tot 30 Junie 2018 waarskynlik sal afneem tot minder as
160 000 slagvolstruise. “Met die huidige moeilike mark-omstandighede vir leer en vleis is laer produksie vir die volgende slagseisoen waarskynlik strategies die regte opsie.”
Gedurende die afgelope slagjaar, wat op 30 Junie 2017 geëindig het, is 170 935 volstruise geslag, waarvan ongeveer 3 500 broeivolstruise was.