Oudtshoorn Courant

Gesin steeds geskok oor moord

- LIEZL VAN NIEKERK

‘n Familie van Oudtshoorn is steeds in rou gedompel na die wreedaardi­ge moord op Chestun van Wyngaard (28). Hy is op 24 Februarie by die inligtings­bord op die De Rust-pad, met ‘n mes gesteek en volgens sy familie, geskop en geslaan.

Lorenzo May (21), is in verband met die moord in hegtenis geneem en het Maandag in die Oudtshoorn­landdrosho­f verskyn. Hy is op borgtog van R1 000 vrygelaat.

Van Wyngaard se skoonsuste­r, Schaney van Wyngaard, sê sy dood was ‘n reuseskok vir die familie. Hy is die afgelope naweek begrawe.

“Volgens ‘n vriend van Chestun, wat by hom was toe die voorval gebeur het, het hulle langs die pad gestaan om te rook, maar hulle het ‘n aansteker gaan soek.”

Sy vertel verder dat daar drie mans naby hulle na musiek by ‘n voertuig staan en luister het.

“Hulle het glo by die mans vir ‘n aansteker gaan vra en toe geloop. Een van die mans het toe gesê dat Chestun-hulle die selfoon waarop die musiek gespeel het, gesteel het. Hulle het toe vir Chestun en die vriend gejaag.”

Volgens haar het die vriend gesê dat hulle in teenoorges­telde rigtings gejaag is.

“Hulle het Chestun by die inligtings­bord vasgetrek. Hy is omtrent 20 keer in sy arm gesteek. Hy het ook ‘n wond aan sy bors gehad en sy ken was oopgesny. Hy is so geskop en geslaan dat ons hom amper nie kon uitken nie.”

Van Wyngaard sê mense wat die voorval gesien het, het die ambulans ontbied, maar Chestun is op die toneel dood.

“Ons het eers die Sondagogge­nd uitgevind hy is dood. Ons het by mense in die pad gehoor hy is aangerand en langs die pad opgetel.”

“Hy was regtig die tipe wat nie ‘n vlieg sou seermaak nie. Hy het nie verdien om so dood te gaan nie.”

 ??  ?? Chestun van Wyngaard
Chestun van Wyngaard

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa