Oudtshoorn Courant

Man in hof na skietvoorv­al

Landdros Theolis November het Beneke op borgtog van R5 000 vrygelaat en die saak tot 19 April vir verdere ondersoek uitgestel.

- LIEZL VAN NIEKERK

‘n 65-jarige man, Gert Beneke, het Dinsdag op aanklag van poging tot moord in die Oudtshoorn-landdrosho­f verskyn.

Beneke word daarvan aangekla dat hy na bewering op Saterdag 10 Maart ‘n man, Pieter de Bruyn, omgery het en daarna glo op De Bruyn se vrou, Hester, en nog ander mense wat oor sy grond gestap het, geskiet het. Die voorval het op ‘n stuk grond wat Beneke in Volmoed besit, gebeur.

Beneke is na die voorval by sy huis in Oudtshoorn in hegtenis geneem. Volgens sy regsvertee­nwoordiger, Gideon Badenhorst, het Beneke begin sleg voel en ‘n dokter is ontbied.

Die dokter het bevind dat Beneke se bloeddruk gevaarlik hoog is, en hy is in die hospitaal opgeneem.

Hy het Dinsdag in die hof verskyn. Landdros Theolis November het Beneke op borgtog van R5 000 vrygelaat en die saak tot 19 April vir verdere ondersoek uitgestel. Die staat het nie borgtog teengestaa­n nie op voorwaarde dat streng voorwaarde­s gestel word.

Die hof het gelas dat Beneke al sy vuurwapens by die ondersoekb­eampte, ao. Anthony Valentyn, inhandig, geen kontak met die vyf staatsgetu­ies maak nie, nie by verdere misdaad betrokke raak nie en alle hofverskyn­ings bywoon.

Pieter de Bruyn het Woensdag by sy huis in Rose Valley aan die Oudtshoorn Courant vertel dat hy en nog twee mans Saterdag oor Beneke se grond geloop het om by familie wat op Volmoed woon te gaan kuier.

“Die meneer het ‘n stukkie grond daar waarop hy boer, maar hy woon nie self daar nie en daar woon ook nie ander mense daar nie. Ons loop al jare oor die grond en niemand het nog ooit vir ons gesê ons mag nie.”

Volgens hom het Beneke met sy bakkie op hulle afgejaag en hom omgery.

De Bruyn se vrou sê sy, haar seun, twee ander vrouens en haar kleinseun van ses jaar oud was ‘n entjie agter die drie mans, maar aan die anderkant van die heining toe hulle die voorval sien gebeur het.

“My kleinkind wou dadelik na sy oupa toe hardloop. Ons het gedink Pieter is dood want hy het net daar gelê. Ek het die kind geroep dat hy kan terugkom na my toe, omdat ek bang was hy kry ook seer, en toe skiet die man. Die koeël het tussen my en die ander vrou deurgegaan,” het sy vertel.

Volgens haar was daar drie volstruise op die stukkie grond, maar was die voëls nie aan die kant waar hulle geloop het nie.

“Ons sou nie daardeur geloop het as ons geweet het ons mag nie.

“Die skoolkinde­rs loop ook altyd daardeur, want dit is nader van die skool af huis toe.”

Die polisie is ontbied en De Bruyn is deur hulle na die polisiesta­sie geneem vanwaar hy met privaat vervoer na die hospitaal geneem is. Volgens hom is sy ribbes beseer en het hy ook ligamente in sy knie seergemaak.

Beneke het by monde van sy prokureur, Gideon Badenhorst, gesê dat hy geen opset gehad het om iemand te beseer of dood te maak nie.

“My kliënt wou bloot nie hê dat mense oor sy grond moet loop nie, omdat sy plaas nie onder kwarantyn geplaas is nie. (‘n Aantal plase is geruime tyd reeds onder kwarantyn geplaas as gevolg van voëlgriep).

“As mense oor grond loop wat onder kwarantyn is, kan dit my kliënt se situasie benadeel.”

 ?? Foto: Liezl van Niekerk ?? Pieter de Bruyn en sy vrou Hester by hul woning in Rose Valley.
Foto: Liezl van Niekerk Pieter de Bruyn en sy vrou Hester by hul woning in Rose Valley.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa