Oudtshoorn Courant

Bekende Oudtshoorn­iet aangerand

- LIEZL VAN NIEKERK

Die alombekend­e Oudtshoorn­iet en eienaar van die Greenside Restaurant, Rodney Gelant, is verlede Donderdaga­and voor Absa se hoofgebou in Hoogstraat aangerand na hy geld by die OTM ontrek het. Hy is van ongeveer R3 000 en sy selfoon beroof.

“Dit is nie ‘n ervaring wat ek enigiemand toewens nie,” het Gelant vertel.

Volgens hom het hy Donderdaga­and geld by die bank gaan trek omdat hy die volgende dag met voorbereid­ing vir ‘n funksie wou begin.

“Ek het by die OTM gestaan en opgemerk dat daar iemand agter my beweeg. Alhoewel die straatligt­e aan was, was dit nogal donker buite en daar was geen sekerheids­wagte naby nie. Ek het so ‘n snaakse gevoel gekry asof ek geweet het iets gaan gebeur. Ek het omgedraai om na my motor toe te loop, en gehoor iemand skree na my. Voor ek by die trappe kon kom het ek die geweldige harde hou oor my gesig gevoel.”

Volgens hom het dit soos ‘n plank wat met harde plastiek bedek was gelyk.

“Die bloed het oor my gesig gestroom. Ek het onmiddelli­k al my geld en my selfoon op die grond gegooi en so kalm moontlik gebly. Ek het nie geweet wat hy nog beplan nie. Skielik het ‘n langer man van die middelmann­etjie se kant af gekom en op die man wat my aangerand het geskree. Ek was nie seker of hy deel was van die plan om my te roof en of hy regtig wou help nie, maar die man wat my geslaan het, het die geld en selfoon gevat en laat spaander.”

Volgens hom het hy dadelik padgegee en tot by die naaste kuierplek geloop om hulp te kry.

“Op daardie stadium het dit vir my gevoel die bloed is oral op my. Die vrou by Godfather het gehelp en ys agter my nek en op my gesig gesit. Ek is toe na my motor toe en het hospitaal toe gery.”

Gelant sê die dokter moes hom verskeie kere in sy gesig inspuit om steke in te sit.

“Dit was vreeslik seer. Ek het op daardie stadium nie eens geweet hoe lank die sny is nie so ek het nie geweet hoekom sy so baie keer spuit nie. Sy het uiteindeli­k 12 steke in my gesig gesit en een in my neus.”

Gelant sê hy wil graag hê mense moet uit sy storie leer.

“Mens dink altyd so iets sal nooit met jou gebeur nie, maar daar is altyd ‘n eerste keer. As jy dan nou laat moet bank toe gaan, moenie alleen gaan nie. Vertrou jou instinkte. As jy voel iets is nie reg nie, loop weg. As jy gaan geld trek moet dit nie net in jou sak steek nie. Hou dit uit die oog uit dat ander mense dit nie kan sien nie. Ek wil regtig hê mense moet meer waaksaam wees, veral in die aande en as hulle alleen is en moet nooit, maar nooit dink dit gaan nie met jou gebeur nie.”

Gelant sê hy bedank graag al sy vriende en familie wat hom die laaste week bygestaan het.

“So iets raak emosioneel meer aan ‘n mens as wat jy besef, daarom moet ek dankie sê aan almal wat my bygestaan het.”

Kaptein Louis Visser, woordvoerd­er van die Oudtshoorn-polisie, het gesê dat ‘n klag van roof word ondersoek.

 ?? Foto: Liezl van Niekerk ?? Rodney Gelant in sy restaurant na die aanranding.
Foto: Liezl van Niekerk Rodney Gelant in sy restaurant na die aanranding.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa