Oplossing vir grondonteiening
Daar is ‘n alternatief vir grondonteiening. Al wat die boere nodig het is water. So sê Joey Potgieter, voorsitter van Agri Klein Karoo, wat ‘n plan om grondhervorming tot voordeel van almal toe te pas, tydens Agri Wes-Kaap se kongres voorgelê het.
Volgens Potgieter sal boere in die KleinKaroo in ruil vir water, met graagte ‘n gedeelte van hul grond in ‘n trust vir hul werkers opsysit.
“As die regering sorg dat die boere van die Klein-Karoo genoeg water kry, sal die meeste van hulle 25% van hul landbougrond in ‘n trust vir hul werkers plaas sonder dat die regering dit met of sonder vergoeding, hoef te onteien.”
Volgens Potgieter is die moontlikheid om water uit die Gariepdam in die Oranjerivier na die Klein-Karoo te bring, reeds dekades gelede ondersoek.
Die Gariepdam is die grootste dam in Suid-Afrika en vorm die beginpunt van die Oranjerivierprojek wat water na die GrootVisrivier en Sondagsrivier in die Oos-Kaap versprei. Water wat gebruik word om hidroelektriese krag by die dam op te wek, word na die Vanderkloofdam gevoer.
“Toe die Vanderkloofdam gebou is, is daar reeds begin met ‘n waterpypleiding na die Klein-Karoo.
Volgens Potgieter is die moontlikheid
om water uit die Gariepdam in die Oranjerivier na die Klein-Karoo te bring
reeds dekades gelede ondersoek.
Waarom dit gestaak is, weet ek nie, maar dit kan voltooi wees en ‘n bron van lewe vir ons droogtegeteisterde streek bied.”
Volgens Potgieter het hy die idée met groot en kleiner produsente in die Klein-Karoo bespreek, en meer as 90% van hulle het dadelik saamgestem dat hulle graag sal deel vorm van so ‘n ooreenkoms.
“Vir enige boerdery moet ‘n paar basiese elemente in plek wees om sukses te behaal: ons het reeds die grond, noodsaaklike produksiemiddele uitsluitend water, kennis en vaardigheid, bedryfskapitaal en toerusting, en bestaande markte.
“Indien die regering sorg dat water na die gebied gebring word waar reeds infrastruktuur bestaan, maar groot onsekerheid oor watersekerheid heers, kan grondhervorming sonder slag of stoot gebeur.”
In ruil vir water sal die boere die staat van die volgende verseker:
Grondeienaars sal 25% (of meer) van hul grond vir hul werkers in ‘n trust plaas;
Die boer en sy werkers se kundigheid (kennis en vaardigheid) bestaan reeds;
Die markte bestaan reeds en kan met volhoubare produksie verder ontwikkel word;
Die eienaar se huidige produksiemiddele (trekkers en toerusting) kan teen ‘n tarief tot die trust se beskikking gestel word;
Werkloosheid sal ondersoek word wanneer landelike gemeenskappe op ‘n primêre vlak in diens geneem word, maar ook op sekondêre vlak met waardetoevoeging deur die verwerking van produkte.
“As ons toegang tot water kan kry, kan die meeste van die probleme wat ons in die Klein-Karoo ondervind opgelos word. Die teenpool is: as kundige kommersiële boere nie onder huidige moeilike omstandighede die mas kan opkom nie, hoe gaan grondtransaksies ter wille van swart ekonomiese bemagtiging suksesvol wees?
“Ter wille van landbou, moet ons sorg dat mense daaroor opgewonde bly, en hulle sal net opgewonde raak as daar ‘n moontlikheid van sukses is – en dan sal die 25% plan kan werk.”