Oudtshoorn Courant

Klein Karoo Klassique om die draai

-

Die tiende verjaarsda­g van die Klein Karoo Klassique in Oudtshoorn word vanjaar gevier met tien uitstaande hoofuitvoe­rings, wat die premières van drie nuwe Suid-Afrikaanse komposisie­s insluit. Die Klassique word jaarliks deur Kunste Onbeperk aangebied en vind vanjaar vanaf 9 tot 12 Augustus plaas. Liefhebber­s van klassieke musiek kan R400 spaar deur gebruik te maak van die pakketaanb­od van slegs R900 vir al tien uitvoering­s.

Bespreking­s vir die Klassique Pakket kan by Computicke­t gedoen word.

Klassique-feesganger­s gaan die eerste wees om ’n voorsmaak te kry van MISA, ’n nuwe mis met ’n Suid-Afrikaanse invloed, en as’t ware deel te word van ’n stukkie musikale geskiedeni­s. Die musiek word gekomponee­r deur Antoni Shonken, Antjie Krog skryf die teks en Marthinus Basson behartig die regie.

Ter voorbereid­ing van uitvoering­s landwyd in 2019 word ’n spesiale demonstras­ielesing van 60 minute van die MISA aangebied. Die lesing begin met voorlesing­s en uittreksel­s deur verskeie rolspelers, onder andere deur Krog en soliste van die Kaapse Operakoor. Daarna volg ‘n gesprek en ’n geleenthei­d vir die gehoor om vrae te vra en deel te neem.

The New Old – Die nuutheid van oudheid, spog met twee nuwe Suid-Afrikaanse komposisie­s, onderskeid­elik van Clare Loveday en Arthur Feder, spesiaal

gekomponee­r vir die trio-kombinasie van klavier (Mareli Stolp), viool (Waldo Alexander) en klarinet (Morné van Heerden). Ook ingesluit in die program

is onder meer Strawinski se L’Histoire du

Soldat.

Die befaamde Odeion-strykkwart­et span kragte saam met die pianis Albie van Schalkwyk en gehore kan uitsien na musiek uit die laat Romantiese tydperk van onder andere Leoš Janáč ek en César Franck.

Van die gewildste musiek uit musiekspel­e, operettes en operas vorm die kern van André Schwartz (tenoor) en Lynelle Kenned (sopraan), begelei deur Melissa van der Spuy, se Soirée Musicale, terwyl die Charl du Plessis Trio, met Du Plessis (klavier), Werner Spies (kontrabas) en Peter Auret (tromme), met Night at the Opera operamusie­k ’n eiesoortig­e jazz-kinkel gee.

Die Boulevard Harmoniste, ’n sesstem-acappella-groep, het deur die jare bekendheid verwerf vir hul uiteenlope­nde repertoire – van klassiek tot ligter en volksmusie­k. Hul program by Klein Karoo Klassique sluit werke van Claude Debussy, Pierre Passereau, Pierre Certon, Hans Leo Hassler, Juan del Ecina en verwerking­s van tradisione­le Skotse en Amerikaans­e spirituele werke in.

Uit België kom die internasio­nale trekklavie­rspeler Tuur Florizoone, wat musiek van ’n verskeiden­heid genres optower. Sulayman Human, bekende boorling van Oudtshoorn en bekroonde pianis, en die jong fluitspele­r Myles Roberts vertel hul eie stories terwyl hulle die gehoor op ’n musikale wêreldreis neem.

Janelle Visagie (sopraan) en José Dias (pianis), wenners van 2018 se kykNET Fiësta vir die beste prestasie in klassieke musiek, bring ’n Franse geur na Oudtshoorn met La Bonne Chanson: Die Franse kunslieder­skat. Buiten vir die gelyknamig­e liedsiklus van die titel van Gabriel Fauré, sluit dit ook komposisie­s van die Franse komponiste Maurice Ravel, Claude Debussy, Francis Poulenc en Henri Duparc in.

Die week word oudergewoo­nte afgesluit met die ATKV-afsluiting­skonsert. Cecilia Rangwanash­a en Hlengiwe Mkhwanazi, albei ATKV Muziqanto-wenners, begelei deur Sulayman Human, tree op in ’n program met bekende operaduett­e. Human sal ook ’n solo-uitvoering lewer.

Ter stoflike aanvulling by die sielskos is daar heerlike Liplekker-ervarings en wynproeë asook verskeie ander konserte, kunsuitsta­llings en ervarings.

Volledige inligting is beskikbaar by klassique.co.za. Kaartjies kan bespreek word by Computicke­t. Óf skakel Kunste Onbeperk se kantore by 044 203 8600.

 ??  ?? Die Charl du Plessis Trio is tydens die Klein Karoo Klassique op die verhoog met Night at the Opera.
Die Charl du Plessis Trio is tydens die Klein Karoo Klassique op die verhoog met Night at the Opera.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa