Oudtshoorn Courant

Hof beslis in Beaufort-Wes DA se guns

-

Die Kaapse hooggeregs­hof het die ANC en KDF (Karoo Democratic Front) se oorname van Beaufort-Wes se munisipale raad omgekeer.

Met die DA se Japie van der Linde as burgemeest­er in die raad, wat bestaan uit ses DA-, ses ANC-, en een KDF-raadslid, het Noël Constable (KDF) in Februarie sy koalisie met die DA opgesê en sy steun aan die ANC toegesê. Hierdie stap het Constable met die dorp se burgemeest­erskap beloon. In die proses is Van der Linde, die speaker, Euna Wentzel, en die onderburge­meester, Magdalena Slabbert, hul leierskap posisies kwyt.

Met die ANC/KDF-koalisie in beheer het die hof Dinsdag beslis dat die wetlike prosesse nie gevolg is met oorname nie. Die mosie van wantroue moes ses dae voor die omstrede oorname-raadsverga­dering in Februarie ingedien gewees het, maar is die dag van die vergaderin­g eers ter tafel gelê.

Met die hof se uitspraak is Constable uit die stoel gelig. Van der Linde, Wentzel en Slabbert is met onmiddelli­ke effek weer terug in hul poste geplaas.

Daylin Mitchel, DA-lid van die parlement en kies afdelingsh­oof vir Beaufort-Wes en die Karoo-streek, het die hof se uitspraak verwelkom. Volgens hom is die kwessie egter nie so eenvoudig nie. “Indien die ANC en KDF die wetlike prosesse volg en weer ‘n mosie van wantroue indien, kan hulle die dorp weer regeer,” het hy toegegee.

Hy het gesê daar is niks wat die DA daaraan kan doen nie, “maar hulle (die ANC/KDF) moet die wetlike aspekte respekteer.”

Constable en die Beaufort-Wes ANChoofswe­ep, Truman Prince, kon nie telefonies vir kommentaar bereik word nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa