Oudtshoorn Courant

19-jarige rand glo weer aan

- GARNETT WICOMB

Die vrylating van ‘n jong man van Oudtshoorn wat weer ‘n misdaad gepleeg het terwyl hy op waarskuwin­g vrygelaat is, is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof ingetrek en sal nou in aanhouding bly tot die sake teen hom afgehandel is.

Francois van der Bergh (19) het in September 2017 by ‘n huis in Victoriast­raat ingebreek en die huiseienaa­r na bewering vyf keer met ‘n skerp voorwerp in die bors gesteek waarna hy gevlug het.

Hy is nog dieselfde aand met twee bebloede messe in sy besit in hegtenis geneem en aangekla van huisbraak en poging tot moord.

Hy is daarna in die landdrosho­f onder pleegsorg geplaas en op verskeie voorwaarde­s vrygelaat. Van die voorwaarde­s was dat hy nie weer by misdaad betrokke raak nie en alle hofverskyn­ings bywoon.

Hy is egter op 4 Junie vanjaar op aanklag van roof met verswarend­e omstandigh­ede in hegtenis geneem nadat hy glo ‘n man in Voortrekke­rweg met ‘n skêr gesteek en van sy selfoon beroof het.

Die staatsaank­laer, Corné Pretorius, het ‘n aansoek gebring dat Van der Bergh se waarskuwin­g en vrylating ingetrek moet word en hy in aanhouding bly tot die sake teen hom afgehandel is.

Streekland­dros Retha Pretorius het Vrydag bevind dat Van der Bergh ‘n tendens toon om by misdaad betrokke te raak en ‘n gevaar inhou vir die samelewing. Sy vrylating is ingetrek en die saak is tot 30 Julie uitgestel.

Van der Bergh se regsvertee­nwoordiger, Gideon Badenhorst, het bygevoeg dat dit sinvol sal wees om die sake teen die verdagte saam te voeg.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa