Oudtshoorn Courant

Twee sterf in vlamme

- LIEZL VAN NIEKERK

Twee persone is Maandag in die vroeë oggendure dood na ‘n brand drie opslaanhut­te in Mullersstr­aat tot op die grond afgebrand het.

Apools Simmers, ‘n man wat in een van die hutte saam met sy vrou en kinders gewoon het, sê hulle is gelukkig dat hulle die vlammehel oorleef het.

Volgens Simmers het hy, sy vrou, Beronique, hul twee seuns, Browegan (5) en Lerenciau (10) saam met Jacques Jacobs en Filicity Solomons, die oorledenes, en Lauretta Moos in die drie hutte by ‘n familielid op die erf gewoon. Moos het Maandagaan­d in die huis geslaap, maar het al haar besittings in die brand verloor.

Simmers sê hulle het die aand van die brand gaan slaap en sy oudste seun het by ander mense oornag.

“Die kleintjie het tussen my en my vrou geslaap. Dit lyk of die brand in Jacques-hulle se huis begin het. Iemand wat naby woon het ons wakker geskree en toe my vrou opkyk was dit net vlamme bo haar kop. Sy het my wakker gemaak en ek het die kleintjie gegryp en toe is ons uit by die huis. Ons wou nog by Jacques ingaan, maar daar was te veel vlamme.”

Volgens hom vermoed hulle dat ‘n kers moontlik in Jacques en Filicity se kamer omgeval het.

Simmers sê hulle het al hulle besittings verloor.

“My vrou is agt maande swanger. Ons het nuwe babaklere en doeke en ander goed gekoop wat die kind dalk kan nodig hê. Dit is als weg. Ek weet nie watter kant toe nou nie. Ons het letterlik niks oor nie. Die kinders se skoolklere, -boeke en -tasse is weg. Ons meubels, klere, geld, skoene, huisraad, identiteit­sdokumente, als is weg. Ek en my vrou het beide tydelike werke, maar ek weet nie hoe ons nou weer als bymekaar kan kry nie.”

Simmer sê die familie is stukkend oor Jacques en Filicity.

“Jacques was my neef. Hy en sy meisie was meer as vyf jaar al saam. Hulle was stil en rustige mense met mooi harte,” het hy vertel.

“Niks gaan hulle ooit weer kan terugbring nie. Dit is vir ons as familie ‘n nagmerrie en almal is nog geskok.”

Filicity se ma, Fien Jacobs, sê haar hart is stukkend oor haar kind.

“Ons gaan haar nie weer terug kry nie. Sy was ‘n sagte stil kind. Beide van hulle het mooi harte gehad.”

 ?? Foto: Liezl van Niekerk ?? Familie help om die puin na die brand op te ruim.
Foto: Liezl van Niekerk Familie help om die puin na die brand op te ruim.
 ?? Foto: Verskaf ?? Filicity Solomons
Foto: Verskaf Filicity Solomons
 ?? Foto: Verskaf ?? Jacques Jacobs
Foto: Verskaf Jacques Jacobs

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa