Oudtshoorn Courant

Dankie vir mense soos hulle

- Deur: Smuts van Rensberg

Dis vroegaand maar reeds donker toe ek na ‘n lang dag se werk voor die garagedeur stop en die afstandbeh­eer druk. Niks gebeur nie. Nog ‘n paar drukke, maar die deur gaan nie oop nie. Dis eers toe ek huis se kant toe en straataf kyk dat ek besef – alles is donker. En toe weet ek, die krag is af. Na die brande van die afgelope paar dae in die Outeniquab­erge en omgewing, was dit seker te wagte.

In die huis begin ek rondskarre­l om al die olielampe en kerse waaroor ons beskik, op te steek. Vroulief het intussen opgedaag na haar dag se verpligtin­ge. Sy moet vinnig ‘n plan bedink. Vroegmidda­g het sy reeds besluit op wat ons sal eet. Ons moet vinnig die gasstofie wat in die garage gebêre word gaan soek om te kyk wat ons kan warm kry.

Terwyl sy besig is om kos te maak, stap ek na die tafeltjie waarop al die afstandbeh­eer meganismes lê. Ek wil sommer kyk wat op die TV aangaan. En toe tref dit my – dit gaan ‘n lang, ‘n baie lang aand word. As daar nie krag is nie, is daar ook nie ‘n moontlikhe­id om op die rekenaar te werk nie. Of om die nuus op my selfoon te lees nie, want die Wi-Fi is ook af. En daar ontdek ons albei ons selfone se batterye is ook amper pap. Wat gaan ons heel aand doen? Lees? Wel, by lamplig dalk ‘n bladsy of drie, en ‘n stukkie uit die Bybel, maar beslis nie vir ure lank nie.

Ek maak op die landlyn ‘n paar telefoonop­roepe. Met die laaste oproep vra ek my vriend of hy weet waar die fout is wat die kragonderb­reking veroorsaak het. Hy sê dat hy verneem het dat ‘n kabel iewers in die berge as gevolg van die brand beskadig is. En toe sy laaste woorde voor ons groet: Moenie vanaand te veel verwag nie. Gaan kruip maar in. Met ‘n fout in die berge, in die donker, in die reën, dink ek hulle sal eers môre teen daglig regtig aan die sakie kan aandag gee.

Ons enigste uitweg was om so teen tienuur se kant die lamp dood te blaas. Maar toe, so teen half vier, word ek wakker toe die krag aangaan. Die eerste ding waaraan ek dink is my vriend se woorde – dat ons nie te veel moet verwag van tegnici in die berge, donker en reën nie. En sowaar, hulle het dit gedoen.

Terwyl ek verlig lê en wag dat die dag moet breek, dink ek aan hulle wat die afgelope dae in uiters moeilike omstandigh­ede moes werk. Die brandslane­rs. Ander noodspanne. Verkeersbe­amptes en polisie. En die baie ander van wie ek nie eens weet nie. En natuurlik Eskom se werkers wat moet swoeg en sweet om ons ligte aan te hou. En die stoof. En TV. En rekenaar. En die selfoon. En die meganisme wat my garagedeur moet oopmaak. En... en... al die ander dinge wat my met gemaksug laat leef.

En toe wonder ek of ek hierdie mense genoeg waardeer? Hulle wat, sonder dat ons ooit hulle foto’s in ‘n koerant sal sien, in baie moeilike omstandigh­ede werk om die lewe vir ons makliker te maak.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa