R27 miljoen tiksaak uiteindelik afgehandel
‘n Dwelmsaak wat reeds drie jaar sloer waarby tik ter waarde van R27 miljoen betrokke was, is verlede Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof afgehandel. Die saak was teen twee mans van onderskeidelik Mosambiek en Nigerië wat op 2 November 2015 op die N1 buite Beaufort-Wes met tik van meer as R27 miljoen in hul motor in hegtenis geneem is. Die staat het die klagtes teen een van die mans teruggetrek en die tweede het ‘n pleit- en vonnis ooreenkoms aangegaan.
Benjamin Amalukwe en Nelson Matavele is met 77,5 kg Methamphetamine (tik) wat in die deure van hul voertuig versteek was gearresteer en is aangekla van handeldryf in dwelms, alternatiewelik onwettige besit of gebruik van dwelms. Die verhoor van die twee was in ‘n gevorderde stadium en op die hofrol vir uitspraak toe die voorsittende beampte, streeklanddros Mark van Wyngaardt in November verlede jaar oorlede is.
Die saak is daarna as nuwe saak op die hofrol geplaas.
Amalukwe het aan die begin van vanjaar weer om borgtog aansoek gedoen, maar was onsuksesvol. Matavele, het getuig dat hy nie vir die hof kan sê wat presies die betrokke aand gebeur het nie omdat hy gelê en slaap het. Volgens hom het hy eers wakker geskrik toe die passasiersdeur van die motor deur die polisie oopgemaak en die voertuig reeds deursoek was. Hy was nie bewus van dwelms wat in die motor versteek was nie. Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het die hof Vrydag meegedeel dat die klagtes teen Matavele teruggetrek word en hy is ontslaan.
Amalukwe het in sy pleit- en vonnisooreenkoms erken dat hy in besit was van 77,5 kg tik waarmee hy handel wou dryf. Voorts het hy ingewillig vir ‘n vonnis van vyftien jaar gevangenisstraf waarvan ses jaar voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort word. Streeklanddros Retha Pretorius het met vonnisoplegging die effek wat tik op jongmense en die samelewing in die breë het, beklemtoon en dat dit ‘n misdryf is wat met wortel en tak uitgeroei moet word. Amalukwe se voertuig en die dwelms is aan die staat verbeurd verklaar en hy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.