Oudtshoorn Courant

Beweerde brandstigt­er vandag in hof

- HANNES VISSER

‘n Vrou wat daarvan verdink word dat sy reeds verskeie brande in ‘n aftreeoord gestig het, is op 2 November in hegtenis geneem en verskyn vandag in die hof vir ‘n borgtogaan­soek.

Die 58-jarige Sonja Louw, ‘n inwoner van Karoopark-aftreeoord, is na bewering op heterdaad deur ander inwoners betrap terwyl sy Dondernagn­ag 1 November probeer het om ‘n buurvrou se voordeur aan die brand te steek.

Volgens ‘n bestuursli­d van die oord het Louw in haar huis gevlug nadat sy betrap is en geweier om die deur oop te maak toe die polisie ontbied is. Sy het glo die volgende oggend vroeg iewers heen gery en is met haar terugkeer gearrestee­r.

Sy het op 5 November vlugtig in die hof verskyn en is op vandag se hofrol vir ‘n borgtogaan­soek.

Die Oudtshoorn Courant het op 5 Oktober berig oor ‘n brand waartydens die houtdek van ‘n huis langs die een waarin Louw woon, in ‘n brand vernietig is. Die polisie is die aand van die voorval ingelig dat inwoners ‘n sterk vermoede het dat Louw die brand sowel as drie ander kleineres wat al by bure se huise gestig is, veroorsaak het. Ten spyte van die polisie se aanhoudend­e geklop aan Louw se deur het sy geweier om oop te maak. Sy het ongeveer ‘n halfuur nadat die brandweer en die polisie onttrek het, by haar huis uitgekom en gevra wat gebeur het. Volgens haar het sy glad nie die geroesmoes tydens en na die brand gehoor nie.

Haar een buurvrou het aan die Oudtshoorn Courant twee plekke gewys waar iemand die vorige week haar voordeur en dek aan die brand gesteek het. Dit is by dieselfde buurvrou se voordeur waar Louw na bewering verlede Donderdaga­and betrap is toe sy probeer het om die deur aan die brand te steek.

Volgens die bestuursli­d van Karoopark, wat vandeeswee­k met die Oudtshoorn Courant gepraat het, behoort die huis waarin Louw woon aan haar suster wat tans in ‘n versorging­soord is. Hulle het soontoe verhuis nadat ‘n gedeelte van die huis waarin hulle in Dahliastra­at gewoon het ongeveer twee jaar gelede in ‘n brand verwoes is.

“Ons gaan beslis Vrydag borgtog in die hof teenstaan, inwoners voel nie veilig hier nie,” het hy gesê en bygevoeg dat die oord se trusteeraa­d besig is met stappe om te verhoed dat Louw langer haar suster se huis mag bewoon. “Die veiligheid van ons inwoners en hulle eiendomme is ons prioriteit.” Volgens hom is meer as R60 000 se skade reeds deur brandstigt­ing in die oord aangerig.

 ?? Foto: Hannes Visser ?? Sonja Louw by die dek van ‘n buurvrou wat vroeg in Oktober deur ‘n onverklaar­bare brand beskadig is.
Foto: Hannes Visser Sonja Louw by die dek van ‘n buurvrou wat vroeg in Oktober deur ‘n onverklaar­bare brand beskadig is.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa