Bevindings oor jakkalse verras
Die bevindings van navorsing op veral jakkals- en rooikatbevolkings op plase in die Sentraal Karoo het navorsers en veeboere verras.
Marine Drouilly, ‘n Franse student wat haar doktorsgraad aan die Universiteit van Kaapstad voltooi het, het drie jaar lank navorsing op twee ewe groot gebiede, naamlik 22 skaapplase in die Koup sowat 40 km vanaf Laingsburg, en CapeNature se Anysberg-natuurreservaat, gedoen.
Die doel van die navorsing was om vas te stel watter invloed kleinveeboerdery op die verskeidenheid, verspreiding en getalle van roofdier- en ander wildspesies op die veeplase het deur dit te vergelyk met die spesies wat in die beskermde gebied voorkom.
Die volgende aannames is met die aanvang van die navorsing gemaak:
‘n Kleiner verskeidenheid wildspesies kom op plase voor;
Minder wild kom op plase voor weens die mens se versteuring van die omgewing;
Karnivore (jakkalse en rooikatte) wat deur boere vervolg word omdat hulle vee vang, kom in kleiner getalle op plase voor;
Groter soogdiere kom in groter getalle in die bewaringsgebied voor.
Kameras wat in die veld opgestel is, het die voorkoms van diere wat verbybeweeg digitaal vasgelê, en die versameling en ontleding van mis het die kamerabevindings bevestig.
Met die navorsing is bevind dat menslike aktiwiteite nie ‘n invloed op die spesies se voorkoms op plase het nie – dieselfde aantal karnivore, omnivore en mediumgrootte spesies kom in albei gebiede voor. Daar is egter meer groter herbivore en ander groter spesies in die bewaringsgebied, en meer insektivore en kleiner spesies op plase. Daar is bevind dat die spesies wat op plase en in die bewaringsgebied voorkom nie juis verskil nie.
Die voorkoms het meer verband gehou met die topografie – minder spesies het in hoërliggende gebiede voorgekom, terwyl die ruier plantegroei langs rivieroewers vir ander spesies belangrike voeding en skuiling teen predatore en uiterste temperature gebied het.
Die gevolgtrekking is dus dat dieselfde soogdierspesies op plase as in bewaringsgebiede voorkom en dat privaat grondeienaars belangrike bewaarders van sleutelkomponente van inheemse biodiversiteit buite bewaringsgebiede is.