Boere ernstig oor grondhervorming
Boere in die Klein-Karoo is bereid om grond aan hul werkers af te staan sodat ‘n AgriPark geskep kan word. Die besluit is geneem tydens ‘n vergadering waartydens verskeie kundiges se mening ingewin is oor die benadering wat gevolg moet word om grondhervorming op ‘n volhoubare manier van stapel te stuur.
“AgriParke is die aangewese model vir grondhervorming in die Klein-Karoo,” se Laubscher Coetzee, boer en Agri Klein Karoo se verteenwoordiger by Agri Wes-Kaap, wat die vergadering inisieer het.
AgriParke is landbouontwikkelings wat finansieel deur die staat ondersteun word en wat ekonomiese voordeel vir die distrik en die gemeenskap inhou.
Ideaal gesproke beskik so ‘n AgriPark reeds oor al die landbou-elemente, soos infrastruktuur, wat suksesvolle produksie, verwerking en bemarking van geskikte produkte moontlik maak. Die staat onderneem om die projek vir ten minste 10 jaar te subsidieer omdat dit deel vorm van die Nasionale Ontwikkelingsplan.
Volgens Colan Sylvester, Oudtshoorn-burgemeester, is die streek gesoneer as een van die AgriParke in die Eden-streek wat reeds in 2011 deur die staat identifiseer is.
Water is ‘n voorvereiste
“Die beginsel van ‘n AgriPark is in lyn met ons benadering tot grondhervorming,” sê Joey Potgieter, boer en voorsitter van Agri Klein Karoo, wat by Agri Wes-Kaap affilieer is. “Boere in die KleinKaroo met wie gekonsulteer is, is bereid om 25% van hul ingelyste grond (grond met waterregte) tot die AgriPark se beskikking te stel.”
“Omdat die boere 25% van hul grond tot die AgriPark se beskikking stel, hoef die staat nie grond vir onteiening by te koop nie. Die boere wil as mentors optree en hul kennis en vaardighede, landbouhulpmiddels, infrastruktuur vir verwerking en bestaande markte vrywillig beskikbaar stel. Dit sal daartoe lei dat die hele gemeenskap deur volhoubare werkskepping ongekende welvaart beleef,” sê Potgieter.
“Al wat ons van die staat vra is om te help dat ons water kry.”
Navorsing op die bestaande en alternatiewe waterbronne is in 2005/’06 deur Ninham Shand in opdrag van die Wes-Kaap se departement van landbou gedoen. Daar is tot die slotsom gekom dat die ekonomie van die streek nou gekoppel is met die landbou-ekonomie en sosioekonomiese omstandighede van die gemeenskap, en water uit die Mzimvubu-, Oranje en Olifantsrivierwaterverspreidingskema kan ‘n groot bydra lewer om die bestaande waterskaarste in die Klein-Karoo aan te vul.
“Sekere aspekte moet nog bevestig word, maar water uit die Oranjerivier sal vanaf Teviot in die OosKaap oor Graaff Reinett met die Olifantsrivier na die SKWGV se stelsel gebring word en met behulp van die bestaande waterverspreidingsnetwerk aan sowat 300 boere langs die Kammanassie- en Olifantsrivier tot naby Calitzdorp versprei word,” sê Riaan Krüger, bestuurder van die Stompdrift/Kammanassie Watergebruikersvereniging (SKWGV).
‘n Aksiekomitee wat die moontlikhede sal ondersoek is saamgestel. Die komitee bestaan uit Krüger, Coetzee, Potgieter, Sylvester, Johann Koegelenberg (SKWGV se voorsitter), Hannes Terblanche (ondervoorsitter), Viljee Keller (tesourier) en Johan Shcoeman, uitvoerende hoof van Klein Karoo Internasionaal, die grootste werkverskaffer in die KleinKaroo.