Oudtshoorn Courant

Aardse goed

- Deur: Smuts van Rensberg

As kind het ons, as dit té warm is vir buite speel, onder bome gelê en dié verbeeldin­gsvraag gevra: Sê nou jou skip sou sink en jy sou op ’n eiland uitspoel en jy kon kies om vyf items by jou te hê, wat sou dit wees? Ek kan nie mooi onthou wat al die antwoorde was nie, maar ek weet dat tou, vuurhoutji­es, vislyn en -hoeke altyd deel van die lysie was. In my tienerjare het ek nie meer nagmerries oor die vraag gehad nie. Ek het eerder heimlik gewens dat ek iewers op ’n eiland kan uitspoel, en al wat ek by my sou wou hê is ’n James Bond-meisie. Dit sou vir my maande se vreugde verskaf terwyl ek hoop dat ’n skip ons nooit gaan vind nie. Ek sou wel een of ander plan maak om te oorleef. En as iemand op ’n CSV-kamp vir ons as tieners die eiland-vraag sou vra, sou almal ewe vroom antwoord dat hy graag sy Bybel by hom wou hê.

Die verbeeldin­gsvraag het onlangs vir ’n klomp mense in die Suid-Kaap ’n skrikwekke­nde werklikhei­d geword. Skielik was dit nie maar net ’n speletjie nie. Terwyl ’n veldbrand verwoed deur ’n wind aangejaag is en gedreig het om talle huise te verswelg, is inwoners gevra om vir hulle eie veiligheid hulle huise te verlaat. Hulle moes in ’n paar oomblikke vir hulleself die vraag uitmaak: Wat vat ek saam? Wat is vir my belangrik? Waarsonder wil ek nie leef nie? As ek dan alles moet verloor, amper alles, wat is daardie een of twee of vyf goed wat ek tog wil red?

Wat sou jy saamvat? Foto’s? Dokumente? Juweliersw­are? ’n Skildery of twee? Daardie stoel wat oupagrootj­ie self met sy knipmes uit hout gesny het? Jou rekenaar? Jou Bybel? Sou jy enigsins iets saamvat, of sou jy net omdraai en vlug vir jou lewe?

Dis een ding om die speletjie in jou verbeeldin­g te speel. Dis ’n ander ding om met die werklikhei­d gekonfront­eer te word. Kom, wees eerlik, besluit in een minuut: Wat sou jy saamvat? Wat is vir jou só belangrik dat jy nie daarsonder wil of kan voortleef nie?

Sommige mense het geliefdes of al hulle besittings in die brande verloor. Baie ander was gelukkig – hulle kon terugkeer na hulle huise sonder enige skade. Dis hulle wat heel waarskynli­k nou met nuwe oë na hulle besittings kyk. Dis hulle wat hopelik opnuut besef dat aardse goed eintlik nie só belangrik is nie. Dis hulle wat daaroor sou dink dat al sou hulle alles verloor maar hulle lewens behou, is daar rede vir dankbaarhe­id. Natuurlik is hulle bly en baie, baie dankbaar omdat hulle aardse goedjies nie van hulle weggevat is nie. Maar dis asof die waarde daarvan veel laer is as wat hulle altyd gedink het.

Een vrou vertel dat sy aanvaar het dat sy alles gaan verloor. In haar hart het sy alles afgeskryf. Sy het haar huis en besittings gegroet, omgedraai en weggestap asof alles vir haar waardeloos is. Toe sy ure later na haar huis terugkeer, het sy na haar besittinki­es gekyk asof dit nuut is. Splinternu­ut. Dit was vir haar asof sy in een oomblik alles as een groot geskenk uit die Here se hand terug ontvang het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa