Oudtshoorn Courant

Ruim skenkings van geld en voer help boere

- TISHA STEYN

Tien vragte voer uit die Kouebokkev­eld sowat 45 km vanaf Ceres is die afgelope week in die Klein-Karoo afgelaai. ‘n Ruim geldskenki­ng maak dit moontlik om die voer hierheen te bring. Heini du Toit, boer en lid van die Kouebokkev­eld-landbouver­eniging, koördineer die skenkings en vervoer van die voer na die Klein-Karoo.

“Die hele gemeenskap van die Kouebokkev­eld het sowat ‘n maand gelede vir ‘n dankdiens bymekaar gekom om dankie te sê vir vanjaar se wonderlike oeste,” sê Du Toit. “Ons is verlede jaar deur die droogte geknou en het minder vrugte, groente en graan produseer, maar vanjaar was ons geseën met baie reën. Ons het besluit om uit dankbaarhe­id voer te skenk aan boere elders waar die droogte nog nie gebreek is nie.”

Volgens Du Toit het agt boere van die Kouebokkev­eld elk 100 ronde bale geskenk. “Ons het die afgelope week (sedert verlede Maandag) reeds 10 vragte voer in die KleinKaroo laat aflewer, en daar is nog genoeg bale vir nog 10 vragte.”

Verskeie vervoerbes­ighede, wat onder andere SA Logistics en MBL Vervoer, wat ook ander vervoermaa­tskappye soos DNA Trucking en Tromp Transport koördineer, karwei die voer teen ‘n gesubsidie­erde prys na die Klein-Karoo.

“Ons het ‘n ruim skenking van ‘n anonieme bron ontvang, wat dit vir ons moontlik maak om ‘n deel van die vervoerkos­te te betaal,” sê Laubscher Coetzee, Agri Klein Karoo se verteenwoo­rdiger by Agri Wes-Kaap. Die nuwe skenking is ‘n goeie aanvulling van die R25 000 van Dryland Events Management wat twee weke gelede ontvang is.

Volgens Coetzee is die 10 vragte voer wat reeds ontvang is, versprei na boere van Calitzdorp, Volmoed, Herold en De Rust. “Die boere wat voer ontvang het, is baie in hul skik met die kwaliteit daarvan.”

Du Toit is die Kouebokkev­eld Landbouver­eniging se verteenwoo­rdiger by Agri Wes-Kaap, en volgens hom werk hy nou saam met laasgenoem­de om vas te stel waar die grootste nood tans bestaan. Voer is ook aan boere by Laingsburg in die Sentraal Karoo en Vanrhynsdo­rp, oos van Vredendal geskenk.

Klein Karoo Agri het ‘n droogteram­pfonds geskep waarin geldelike skenkings inbetaal word. Kontak Helen Butler by Agri Klein Karoo by 044 279 1425 of 082 443 6320, of Laubscher Coetzee by 082 898 5941 vir meer inligting oor dié fonds.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa